Forum 2.0

Antwoord op... IS DIE DOOIES OM ONS?

VRAAG

Waar kom mense aan die idee dat die afgestorwenes om ons is en vir ons kyk?  Ons dink tog nie daaraan op so ‘n manier nie?

ANTWOORD

‘n Interessante vraag en ek dink mens moet die antwoord ver gaan soek.  Ek dink

(1) die mense van vroeër het ‘n baie meer magiese denke gehad as ons en het die moontlikheid van afgestorwenes om hulle eenvoudig makliker aanvaar.  ‘n Ander rede was

(2) dat die vroeëre geslagte ook baie meer gemeenskaps-geöriënteerd was en moontlik nie die bande met die wat heengegaan het sommer as afgesny beskou het nie.  Die familie-eenheid, dink ek, is baie meer gevoel as vandag, al was sommige al oorlede.  Dis eers in ons (modernistiese) tyd dat die individu so losgeraak het van sy groep soos ons dit ken.  Dis onmoontlik om te sê presies hoe hulle die afgestorwenes beleef het (en dit het sekerlik baie gewissel), maar dat die afgestorwenes ‘n groter realiteit in hulle lewens was as vir ons, kan ons maar aanvaar.  Daar is ook

(3) ‘n psigologiese rede vir sulke denke:  Het ons nie ook soms die behoefte dat pa of ma net weer hier kan wees om ons te help nie?  Mis ons hulle nie dikwels nie?  Ons het dan so veilig gevoel by hulle en moet nou alleen regkom… Is pa nie maar hier naby om my te help nie?

Ons sien iets daarvan ook in die volgende voorbeelde:

  • Uit die Bybel:  die heks van Endor roep Samuel uit die dood uit op vir Saul (1 Sam 28), wat met hom wil praat.  Hy kom nogal, maar bring aan Saul ‘n doodstyding. Let op dat die Here hierdie tipe ding ten sterkste verbied (Deut 18:10-12), maar dit word tog as moontlik aanvaar;
  • Voorvader-aanbidding, wat in ons land algemeen is, is ook ‘n manier om te werk met die “realiteit” van die dooies.  Die voorvaders is eer en respek werd, en moet geken word in die alledaagse sake van die lewendes. Hulle kan ons help.  Daarom word mediumisme of towery ingespan om hulle te kontak of hulle invloed te bekom;
  • Vroeëre generasies het oor die algemeen meer van die dood en dooies gemaak.  Dink bv. aan hulle begrafnisrituele, roubande en routydperke, stories van spoke en geeste.  Die ou kerke maak ook baie meer seremonie rondom die dinge en ek dink ook aan die Joodse gebruik om shiva te sit vir sewe dae as iemand gesterf het (deels om die siel te begelei wat volgens tradisie nog sewe dae daar rond is) en hul mooi Jahrzeit-herdenking, waarin hulle (tot vandag) jaarliks die sterftes van geliefdes herdenk net soos verjaarsdae.  Teenoor sulke gebruike is ons eie kultuur geweldig individualisties, afgetrokke en steriel.  Onthou, ons probeer die dood uitsny en ontken.

Die meelewing van die afgestorwenes is ook ‘n gedagte wat in die Nuwe Testament voorkom en ek dink veral hier aan Heb 12:1:

Terwyl ons dan so 'n groot skare geloofsgetuies rondom ons het, laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop...

 Die “skare (letterlik “wolk”) geloofsgetuies” is die geloofshelde wat die Hebreërskrywer net in die vorige hoofstuk (hfst 11) gelys het.  Hy impliseer (in hfst 12) dat hulle nou soos ‘n skare op ‘n pawiljoen om ons is en ons, wat die wedloop met volharding moet hardloop, aanmoedig.  Ek dink die gedagte is ‘n sterk, bemoedigende een vir diegene wat sukkel en dat iets daarvan vroeër letterlik gevat is – sal daarheen terugkeer.  Ek sien presies dieselfde gedagte ook by:

  • Die skare martelare en ouderlinge voor die troon van God in Openbaring (bv. Op 4:9-10, 6:9-11) wat aktief dophou wat met die wêreldgebeure hieronder gebeur.
  • Die gebruik by die ou kerke (onthou by hulle sien ons nog premoderne denke hieroor) om tot die heiliges te bid.  Vir ons klink dit erg verkeerd, maar hulle redeneer: Waarom kan ek vir jou vra om vir my te bid, maar nie vir my ma, wat reeds by Jesus is nie?  Of vir Petrus of Maria, wat soveel meer invloed by Jesus het?  Is dit nie veel beter nie?  Inderdaad verbied die Bybel nie so iets nie (maar ek dink net omdat dit onbekend was) – die praktyk lei tot misbruik en bygeloof, ons kan immers direk tot Jesus bid sonder enige tussengangers (alhoewel die premoderne mens dit moeilik kon glo – so asof elke ou sommer by die koning kon instap en iets vir hom vra).  Hoe dit ook al sy – daar is nie gedink tot vandag dit is verkeerd om ‘n dooie (op die manier) iets te vra nie!
  • Die dogmatiese onderskeiding wat ons tref deur die EEN KERK te onderskei tussen die Strydende Kerk (hier op aarde) en Triomferende Kerk (reeds by die Here).  Ja, ons dink ook dat hulle saam met Jesus weer gaan kom op die wolke en so gaan die kerk weer een wees (help my reg, maar ek dink dis gebaseer op die opstanding – 1 Kor 15:52-53, 1 Tes 4:14-17).
  • ‘n Antieke en mooi uitvloeisel hieruit sien ons in die ou kerke, veral die ortodokse kerke, waar die ikonostasis (die skerm in die kerk wat die sitgedeelte van die heilige deel daaragter afdeel) behang is met prente (ikone) van Jesus, Maria en dan ook al die apostels, heiliges en geloofshelde.  Op ‘n baie rieële manier kan jy dan in die kerk sit, opkyk en sien hoe die “skare geloofsgetuies” op jou afkyk.  Dit bemoedig jou om aan te hou met die wedloop – hulle is hier by ons (simbolies) en ons sal ook nog by hulle aansluit.

So - is die dooies om ons?

Ek dink nie so nie.  Die bg. vers (Heb 12:1) sê nie vir ons dat hulle letterlik of fisies (alhoewel onsigbaar) om ons is nie.  Dit sê wel dat die wat ons vooruitgegaan tans oorwinnend by God leef, dat hulle in beginsel vir ons is en wil dat ons ook wen.  Dit sê eintlik dat ons moet kennis neem dat ons deel uitmaak van so ‘n deurlugtige geselskap en dat dit ons moet aanspoor en motiveer om so moedig soos hulle te wees. Ons moet leef asof hulle vir ons kyk. Hulle is deel van ons geskiedenis, van ons storie, ja van dieselfde geloofsgemeenskap.  Ja, ons is een kerk en een familie.  Ja, ons gaan op ons eie aan – soos hulle ook moes – maar hulle voorbeeld inspireer ons. En ja, ons sal weer met hulle verenig.  Maar ek dink die goeie onderskeiding is dat die gelowiges by die Here is en ons vandaar aanmoedig (en vir ons bid), nie hier onsigbaar langs ons nie. Hulle is nie hier nie, maar daar.  Hulle is nie spokerig langs ons nie en ons kan nie hulle stem hoor en met hulle praat nie.  Trouens, ons word verbied om met hulle kontak te soek.  Dan weet ons ook glad nie hoe bewus hulle van ons daar by die Here is nie – die Skrif sê nie. Ons kan maar net spekuleer wat hulle daar by die Here weet of nie weet nie.

Wat betref geeste wat nie rus kry nie: daar is geen harde bewyse nie, maar nou ja, snaakse goed gebeur.  Van daardie dinge weet ons min – ook die sg kenners! Daar is ‘n algemene gevoel dat die siel wat nie reg is om te vertrek nie op die aarde vashaak.  Die Bybel leer ons niks hieroor nie, behalwe om te sê ons moet radikaal wegbly van alle mediumisme, magie of voorspelling.  Enige-iets verder hieroor is suiwer spekulasie en ook van die punt af.

 

You need to be a member of jimileroux30 to add comments!

Join jimileroux30

Email me when people reply –