Forum 2.0

Antwoord op... EVANGELICALISM

'n Getroue Padlangs-leser (en teen die tyd goeie vriend) worstel met diep vrae, waarmee ons almal van tyd tot tyd worstel, nie waar nie?  Hy vra:

Die meeste mense op aarde sukkel maar en suffer - hulle het nie gevra om te leef nie en nou kom sê ons vir hulle dat hulle in rebellie tot God is en op pad hel toe.  Hulle moet hulle daarvan bekeer, dan sal hulle gered word.  Is dit nie bitter onredelik nie?

ANTWOORD

DIE SKRIF EN DIE EVANGELICALISM VAN ONS TYD

Ek is altyd bang om vermetel te wees met sulke groot vrae, want die wese van die sonde, geloof, die ewigheid, ens. bly maar 'n misterie vir ons.  Ons verstaan is te beperk. Mens kan ook maar net sê wat die Skrif sê, of ons dit nou verstaan of nie.  Ek dink egter wel dat ons baie beïnvloed is deur ons evangeliese tradisie - ek bedoel nou die evangelicalism van ons tyd - wat nou so 200 jaar met ons is sedert die evangeliese ontwakings en nou 'n besliste Amerikaanse formaat gekry het.  Ons definisies van redding, bekering, geloof, ens. en natuurlik ons metodes is absoluut daardeur gevorm. Die gereformeerde wêreld het natuurlik weer sy eie bril op... Die evangeliese sowel as die gereformeerde tradisie is deel van wie ek is, maar dis ook maar  tradisies en beide sal al hoe meer sukkel om soos dit is die nuwe generasie te bedien.  Baie Christene stoei met die nuwe wynsakke wat nou na  vore moet kom.  Ek is oortuig as ons na die Skrif kyk sien ons dat die evangelicalism die klem dikwels verkeerd plaas.  Ek bespreek 10 temas (het mos nou weer aan die skryf gegaan) soos ek dink die Skrif-klem eintlik moet lê.  "Terug na die Woord", met ander woorde, maar daarmee is ons by 'n besliste post-evangelicalism.  

1) GOD 

GOD is die Skepper van alles, die Lewensbeginsel en die Energie wat alles bymekaar hou.  Hy is meer as net 'n krag, Hy is ook 'n Persoon - hoe anders? Ons moet oppas om te veel oor God te wil sê, want ons kan nie, maar die Skrif beskryf Hom veral as (1) regverdig en (2) liefdevol. God se geregtigheid beteken veral dat Hy wil hê ons moet met geregtigheid onder mekaar leef, en dit beteken ook dat Hy regverdig oordeel. Dit is ondenkbaar dat God se oordeel nie volkome regverdig sal wees nie.  Hy is meer regverdig as die mees regverdigste mens en ons kan daarmee vrede maak dat elke mens sal sê dat Hy reg geoordeel het.  Sekerlik oordeel Hy die volle mens (agtergrond, motiewe, ens.) billik en liefdevol, want dit is ook hoe Hy is. Sy geregtigheid moet ons hoopvol maak, nie moedeloos nie.  Die mees wesenlike en finale beskrywing van God in die Skrif is dat Hy liefde is, en dit is die eerste en laaste ding wat ons van Hom behoort te sê.

2) SKRIF 

Die SKRIF (of Bybel) is die verhale oor God se werking in mense se lewens, wat ons deur die Gees se oortuiging as gesagsvol beskou. In die Ou Testament is Israel God se voorbeeldvolk - Hy kon enige volk gekies het, hulle het geen unieke reg daarop nie - en hulle moes aan die wêreld illustreer hoe geseënd 'n volk is wat God dien.  Die les van die Ou Verbond is egter dat die mens nie op sy eie kan regkom nie, of homself nie kan "red" nie.  Die Nuwe Testament brei God se verbond, beloftes en betrokkenheid uit tot die hele wêreld en is in elke opsig vollediger en ryker.  Die boodskap van die Nuwe Verbond is dat God naby gekom het en dat 'n geseënde lewe met Hom binne almal se bereik is. Die Ou en Nuwe Testament is baie gekontekstualiseer in tyd en plek en ons moet nie die konteks probeer oorneem nie - eerder die boodskap daarvan probeer verstaan.  Ons moet oppas om nie aan die Skrif die volmaaktheid toe te skryf wat slegs aan God toekom nie. Die ware Woord is Christus en ons lewe is in Hom.  

3) MENS 

Die MENS se vernaamste eienskap is dat Hy God se beeld dra en sy vernaamste doel is om namens God op die aarde te heers. God het die mens geseën en goed verklaar en selfs die sonde kan dit nie wegneem nie.  Die mens word selfs nie oor die sonde vervloek nie - die aarde, die slang, ens. word vervloek, maar God se vernaamste houding teenoor die mens is sy liefde.  Die klem wat ons soms op die mens se slegtigheid laat val, is verkeerd.  Inderdaad is die mens sondig as gevolg van die vrye wil, maar dit kom noodwendig saam met sy mensheid en God het dit van die begin af so geweet. Dit is deel van die misterie van die sonde.  As God 'n wese wou maak wat nie sondig nie, sou Hy nooit 'n mens kon maak nie.  Selfs die engele word gemaak om te kan sondig. God deel egter met die sondigheid van die mens van die begin af - Hy neem self daarvoor verantwoordelikheid.  Die behae wat God aan die mens het is om met hom in verhouding te kan wees, wat 'n wonder opsigself is, maar ons iets oor God se karakter leer.

4) SONDE 

SONDE is wesenlik ons neiging om sonder God te wil leef, om ons eie God te wil wees.  Ons kan of die lewe met Hom leef of sonder Hom, m.a.w. dis of EK (ego/vlees) op die troon, of HY (Heilige Gees, =koninkryk van God).  So bring sonde afstand tussen my en God.  In die Skrif is die groot sondes goddeloosheid, liefdeloosheid (n.a.v. die groot gebod), ongeloof, vleeslikheid, haat, ontrouheid, onvrede, ens.  Sonde is grootliks ons gebrek om te kom by God se skeppingsdoel vir ons, by ons opdrag en potensiaal, by die beeld van  Christus... Om sonde te fikseer tot enkele gunsteling-sondes (bv. drink, rook, dans, dobbel, vloek, grimering dra, ens. en natuurlik alles wat met seks te doen het), is 'n verskraling en niks anders nie as skynheiligheid.

5) VERLORENHEID 

VERLORENHEID is om sonder God rond te dwaal, soos 'n hondjie wat in die strate verlore rondhardloop.  Hy het geen huis, koers of hoop nie. Jesus beskryf dit as 'n skaap wat afgedwaal het, 'n munt wat weg is en nou geen doel kan dien nie, 'n seun en erfgenaam wat in die varkhok sit.  Om verlorenheid te beskou net as om hel toe te gaan, reflekteer nie die Skrif getrou nie: die Ou Testament ken glad nie 'n hel nie, en die Nuwe Testament stel dit sekondêr aan die lewe op aarde.  Verlorenheid is 'n huidige toestand, 'n status quo, met ewige konsekwensies.  Dit is inderdaad 'n ernstige saak om sonder God te leef, want ons is gemaak om in verhouding met Hom te leef. Dit laat ons met 'n leemte en 'n sinloosheid.  Die gevaar is wel dat ons verlorenheid 'n ewige verlorenheid kan word.

6) CHRISTUS

CHRISTUS is God wat in hierdie ellende ingryp. Deur Jesus se lewe wys God hoe Hy is (God is immers soos Christus) en deur sy kruis versoen Christus die wêreld met God. Dit bly 'n misterie maar die kruis se boodskap is dat daar prinsipieel niks tussen die mens en God staan nie - Hy het die hele skeiding alles op Homself geneem.  Ons mag nooit die Skrif-voor-Christus (die Ou Testament) lees sonder om te verstaan dat Christus namens alle mense reeds aan God se totale geregtigheid voldoen het nie. Die hele Ou Verbond is reeds in Hom vervul.  Vir die wat in Christus is bly SLEGS God se liefde oor - dit is goeie nuus van die evangelie. Om 'n "evangelie" te verkondig wat mense weer op hul eie meriete laat vertrou, is strydig met Jesus, Paulus en die hele Nuwe Testament se boodskap.

7) GELOOF

GELOOF is dan om God se uitnodiging tot verhouding te aanvaar en deur Sy vermoë en ondersteuning en in Sy wil te (wil) leef. Dit is ook om met 'n kinderlike en praktiese vertroue op God te leef. In die Nuwe Testament is die klem, wat ons verhouding met God en ons saligheid betref, op "geloof" - nie op "bekering" en "wedergeboorte" nie. Nogtans is bekering en wedergeboorte deel van ons lewe met God:  BEKERING is om om te draai uit jou verlorenheid en die verhouding met God te wil herstel - om na die Vader (wat deur die skepping almal se Vader is) terug te keer, soos die verlore seun. Bekering gebeur nie in die Skrif in die vaste vorme wat ons daaraan gegee het nie, maar gebeur op baie verskillende en unieke maniere.  Dit gebeur ook by herhaling.  WEDERGEBOORTE is in die Skrif die nuwe lewe wat God in ons werk, die begin van die transformasie waaroor dit alles gaan.  Ons moet eerder minder oordele oor mense se wedergeboorte uitspreek, want dit is iets (1) wat God doen, (2) wat in die hart gebeur en (3) wat seminaal is, m.a.w. dis slegs die begin van 'n leeftyd se groei.  Ons vaste patrone van hoe iemand nou eintlik tot bekering moet kom, en hoe sy "getuienis" daar moet uitsien, ja sy "dag en datum", ens. moet ons verruil vir 'n oper en meer Skriftuurlike beskouing.  Dis erg tradisie. 

8) SALIGHEID 

SALIGHEID of redding is eerstens op hierdie lewe gerig. Dit gaan oor 'n lewe-in-verhouding-met-God, 'n lewe van sin en hoop.  Dit geld veral vir mense wat sukkel en ly - hulle het dit veral nodig en die evangelie is op 'n spesiale manier op hulle gerig.  Christendom se primêre taak is om in hierdie lewe in mense se lewens hoop en vrede te bring en nie net 'n "pie in the sky" te belowe nie. Hier skiet ons erg te kort as ons vir desperate mense maar net gou 'n gebedjie wil laat nasê en dan verklaar dat hulle darem nou gered is.  Dit is totaal vreemd aan die Skrif se etiek.  Die doel van ons saligheid is ook ons groei, volwasse-wording, ons verhoudings, ons totale transformasie. Dit word meer en meer 'n lewe wat God behaag, wat ook die beste lewe vir ons is.  Dan sluit die goeie nuus ook in dat ons vir ewig by die Here salige vrede sal beleef.

9) KERK 

Die KERK is al God se gelowiges op aarde. God ken alleen sy Kerk, die Liggaam van Christus.  Alle kerke, denominasies, organsisasies en strukture is menslik van aard, feilbaar en 'n swak voorstelling van die Ware Kerk.  Nogtans is ons deel van die feilbare en menslike kerk en gebruik God dit om die wêreld te bereik.  Die doel van die Kerk en alle kerke is om die koninkryk van God te vestig op die aarde, m.a.w. om die wêreld te transformeer tot die liefde en geregtigheid wat God se wese reflekteer.  God laat sy koninkryk kom een persoon-op-'n-slag: eers mense, dan gemeentes en gemeenskappe, dan volke, lande en die wêreld.  Kerke moet dit goed verstaan en nie net met hulleself behep wees nie, wat 'n misverstaan van God se seën is.

10) EWIGHEID 

EWIGHEID - oor die hemel en die hel sê die Skrif eintlik min (in vergelyking), en as die Skrif (ook Jesus) daaroor praat is dit in metafore en beelde. Jesus gebruik dit retories, om te waarsku, te oorreed, uit te lok - nie om letterlike beskrywings te gee nie. Die menslike fantasie het dit sedertdien heerlik ingekleur, maar dis nie Bybels nie. Ons moet eerder dink aan 'n toestand as 'n plek en die boodskap is dat ons vir ewig kan verstar in die toestand waarin ons tans by God is - ons moet oppas!  Dis vir ons moeilik om te verstaan dat sommige verlore kan bly, maar dit is wat ons in die Skrif lees.  In 'n sin moet ons dit by die Here laat.  Aan die ander kant het ons die werklike en rieële hoop om vir ewig sy liefde, vrede en rus te beleef!

You need to be a member of jimileroux30 to add comments!

Join jimileroux30

Email me when people reply –