Forum 2.0

Kersfees #2

Moet ek Kersfees vier – is dit nie ‘n heidense fees nie?

 

Die kort antwoorde is "ja, as jy wil" en "nee". 

Daar word soms deur welmenende Christene gesê dat Kersfees eintlik maar ‘n heidense fees is, of dat die Roomse Kerk die ou Babiloniese godsdiens in ‘n ander gedaante is.  Ek glo dit nie eintlik nie.  Let op die volgende asb.:

Die datum van Kersfees, 25 Desember, is nie noodwendig afgelei vanuit enige heidense fees (hetsy Saturnalia of Sol Invictus) nie.  Dit het ons bespreek in artikel 1 van hierdie reeks.  Die geskrifte van die Vroeë Kerk ken eenvoudig nie so ‘n teorie nie.  Die Kerk het die datum geleidelik aanvaar op grond van die berekenings rondom die datum van die Aankondiging (Annunciation) aan Maria - wat deur die Kerk gevier word op 25 Maart.  Kardinaal Ratzinger (later Pous Benedictus XVI) het dit duidelik gemaak dat Kersfees se datum uit die Annunciation afgelei is.  Die teorie dat die datum staan op ‘n Romeinse fees is van veel later oorsprong, nl. vanaf die 18de eeu (alhoewel,  lyk my, daar ook een verwysing uit die 13de eeu is).  Bewyse daarvoor is baie skraps en die afleiding is gebaseer op ‘n meer onlangse verstaan van wat kon gebeur het.  Winterfeeste van die Romeine en ander Europese nasies kon egter wel op indirekte wyse met die vasstelling van die datum gehelp het, bv. deurdat die kerk dalk gevoel het dis gepas dat hulle ook ‘n groot winterfees het, ens.

Die kerk het inderdaad op baie plekke, veral in Engeland en Duitsland, heidense feeste en gebruike afgeskaf en vervang met Christelike feeste en gebruike.   Dit was hulle manier om te “evangeliseer” en ‘n einde te maak aan heidense praktyke.  So het hulle te werk gegaan met heelwat heidense gebruike – dit is dikwels verchristelik en geïnkorporeer. Dit het natuurlik “gewerk”, maar ‘n prys in vervlakking is betaal.  Sommige gebruike het net aangegaan, maar onder ‘n Christelike gedaante.  So het sekere eeue-oue gebruike na die Christelike Kersfees oorgedra.  Al die Europese nasies het ‘n fees gehad na die winter-sonstilstand, want hulle winters was straf en hulle was bly dat die dae nou weer langer sou word.    Die kerk het sommige gebruike aanvanklik teengestaan, maar later is die gebruike ook ge-“evangeliseer” en het dit Christelike betekenis gekry. 

Die datum is dus heel moontlik NIE so oorgeneem nie,  maar die volgende gebruike is heel moontlik wel oorgeneem:

  • Immergroen bome, takke en plante:   mistletoe, ivy & holly is alles immergroen plante wat in winterfeeste gebruik is.  Die heidene het magiese kwaliteite daarin gesien (onthou vir Getafix wat altyd mistletoe soek met sy klein sekeltjie?).  Mettertyd is die betekenis daarvan verchristelik:  Die groen staan vir die lewe wanneer alles dood is, die rooi bessies vir Jesus se bloed, die wit blomme vir Maria se reinheid en die dorings vir die dorings van die kruis.  So word dit letterlik gesing in ‘n Kerslied, The holly and the ivy.
  • Geskenke en versierings: dit was ook deel van die feeste (en baie ander feeste ook, natuurlik).  Geskenke by Kersfees dui natuurlik op Jesus, ons groot geskenk van God, en ook op die wyse manne se geskenke van goud, wierook en mirre.
  • Vuur, ligte: ja, dit was natuurlik winter en daar was vure aangesteek, o.a. die Yule log (Yule was die naam van die Engelse winterfees, en is nou ‘n ander naam vir Kersfees).  Die Yule log was ‘n reuse stomp wat hulle permanent aan die brand gehou het deur die hele fees.  Dis nie ‘n gebruik wat langer deel van (ons) kersfees is nie.  Onthou die woord “Kers-“ in Kersfees staan nie vir ‘n candle nie, maar vir Christ (in Duits en Hollands Krist.  Ook die X van “X-mas” is ‘n afkorting vir “Christus”, wat in die oorspronklike taal met ‘n X gespel word.  Dis nie ‘n poging om Christ uit Christmas te haal nie!  Christus word algemeen met ‘n X afgekort, leraars doen dit algemeen in hulle preke. Terug by die winterfees:  ja, met vuur en ligte is die komende somer verwelkom, maar in Christelike gedaante dui dit nou op Jesus, die lig van die wêreld.

Ek deel oor die Kerstradisie wat nie eintlik ‘n heidense konnotasie het nie in ‘n volgende artikel, bv. die Kerksboom (ja), Kersvader, ens. - artikel 3.

 

Hulle manier om gebruike te bekeer was nie net sleg nie

Ons moet onsself regtig vra of ons ooit vandag Christene sou gewees het as daar nie ‘n 1000e jaar Christelike kultuur in Europa gevestig is (op hierdie wyse) nie, al was dit dan nou hoe vlak.  Dit is op daardie algemene kultuur dat daar Hervorming en Herlewing kon plaasvind, wat daartoe gelei het dat ons vandag Christene is.  Vanuit daardie kultuur is die hele wêreld al (feitlik) aan Christus bekendgestel.  Vanuit ons standpunt sou ons hulle gebruik kon afskiet, maar in missiologiese kringe tot vandag is dit steeds ‘n geldige benadering om ‘n vreemde kultuur te benader vir aansluitingspunte en dan daarvandaan die Here aan hulle bekend te stel. Paulus doen presies dieselfde as hy aan die Atheners sê dat hy “Die Onbekende God”, van wie hy ‘n altaar in die stad gesien het, aan hulle kom bekend stel.  Hy sou mos duidelik kon sê dat die ware God en hulle konsep van nog-‘n-god-tussen-al-die-ander glad nie versoenbaar is nie, en ‘n ander benadering volg, deur bv. te vertel van die God van die Jode. Hy knoop egter eerder by hulle aan waar hulle is.  ‘n Hedendaagse voorbeeld is Amerikaanse kerke wat op Halloween ‘n “alternatief” aanbied vir die jeug by die kerk.  Mens sou dus kon sê daardie “alternatiewe” byeenkomste is verkeerd want dit is op ‘n dag wat volgens hulle aan die duiwel gewy – vier hulle nie "eintlik maar" Halloween nie?  Nee, hulle vat die dag en verander dit na iets beter.

 

Bedoel ons regtig om afgode te aanbid?

Op 'n filsofiese punt:  daar is ook ‘n vraag te vra of die oorspronge van ‘n saak die bedoelde betekenis daarvan enigsens nog beïnvloed?  M.a.w. as die oorsprong van iets 2000 jaar gelede in die heidendom lê is ons steeds besig met heidendom as ons dit doen?   Dit is ‘n baie wesenlik vraag en die antwoord is “nee”.  Ek gee ‘n paar voorbeelde:

  • Ons gebruik woorde wat ander oorspronklike betekenis gehad het as waarvoor ons dit vandag gebruik, en mens kan nie maak asof die “oorspronklike” betekenis die “eintlike” betekenis is as ons met mekaar praat nie. Die “eintlike” betekenis is die een wat die spreker bedoel as hy die woord gebruik. Dis al.  Ons maak dikwels daardie fout as ons preek en sê die “oorspronklike” betekenis is so-en-so en dan draai ons dalk sommer Paulus (of watter skrywer ook al) se duidelike bedoeling op sy kop.  As iemand bv. sê hy is baie “entoesiasties” oor iets, sê ek nou vir hom hy is van die duiwel besete want die “oorspronklike” betekenis van die woord beteken “besete” – en dis nou die waarheid: en + theos beteken “met ‘n god in” (en hulle het nie aan ons God gedink nie!).  Dis tog duidelik verkeerd.  Iemand bedoel wat hy bedoel.  Ek dink ook aan die woord meneer: mijn heer = “my heer”.  Sê ek vir iemand dat hy my heer of baas is as ek hom “meneer” noem?  Nee, glad nie.  Ek bedoel net wat ek bedoel.  Taalkundiges noem dit die “etimologiese fout”.  Die “oorspronklike” betekenis travel nie saam met die woord en verander sy betekenis sonder dat ons daarvan weet nie. Tussen hakies:  Iemand het al aan my geskryf dat dominee “heer” beteken (wat waar is – “dominus” = heer) en dat hy beswaar het om my so te noem, so hy noem my sommer meneer!  Ha-ha,dankie mijn-heer!  Ek gebruik in elk geval nie ‘n titel nie, maar dis nie die punt nie.
  • Dink ook aan die dae van die week, wat elk aan ‘n afgod gewy is (Son, Maan, Wodin, Thor, Friga, ens.) en sommige maande van die jaar (Janus, Mars, Juno), ens. Ons gebruik dit in ‘n totaal ander betekenis as die oorspronklike. Die oorsprong lê diep in die heidense godsdienste - is ons dus besig met afgodsdiens as ons ons dae so noem? Natuurlik nie. 

Die punt is dit:  ons vier wat ons bedoel om te vier.  Kersfees is nou al minstens 1500 jaar ‘n christelike fees, ten volle gewy aan die geboorte van Jesus Christus.  Elke element daarvan, van die geskenke tot die boom is vir ons ‘n simbool wat na die Here wys

 

So, moet ons Kersfees vier?

My antwoord is dus ja, as jy wil.  Niemand sê jy MOET nie.  Maar die heidense oorspronge van sekere elemente hoef nie in jou pad te staan nie.  Jy kan dit uithaal as jy wil.  Ek deel oor hoe ons Kersfees kan vier as kind van die Here in ‘n volgende artikel.  Kersfees het na alles ‘n geweldige getuieniskrag, ten spyte van die vervlakking en misbruik, want die hele wêreld weet (tot in Japan, ens.) dat dit oor die geboorte van Jesus gaan. Sou die Christene ophou om Kersfees te vier, sal dit vir die vyand ‘n groot oorwinning wees. Ek dink persoonlik nie ons moet toelaat dat hy dit by ons steel nie. Ons moet eerder aanhou om die wêreld te wys waaroor dit regtig gaan.

 

Sien ook:

Kliek hier vir artikel 1 in die reeks oor Kersfees

Kliek hier vir artikel 3 in die reeks oor Kersfees

You need to be a member of jimileroux30 to add comments!

Join jimileroux30