Forum 2.0

Vier Kersfees 2: met vrymoedigheid

 

Moet ek Kersfees vier – is dit nie ‘n heidense fees nie?

Daar word soms deur welmenende Christene gesê dat Kersfees eintlik ‘n heidense fees is en dat ons dit nie moet vier nie. Baie Kersfees-gebruike – soos byvoorbeeld die Kersboom – sou heidens wees van oorsprong en moet vermy word. Dis egter nie heeltemal waar nie. Ons sal in hierdie artikel ons Kersfees-gebruike een-vir-een bespreek.

Is Jesus op die 25ste Desember gebore?

In die eerste artikel in hierdie reeks is daarop gewys dat ons nie presies kan sê wanneer Jesus gebore is nie. Dit kon egter wel rondom Desember gewees het, nieteenstaande vroeëre besware. Daar is egter geen bewys dat die datum “oorgeneem” is vanaf enige heidense fees (hetsy Saturnalia of Sol Invictus) nie. Die geskrifte van die vroeë kerk ken eenvoudig nie so ‘n teorie nie. Dit kon ook andersom gewees het! Die kerk het die datum geleidelik aanvaar, na baie heen-en-weer, waarskynlik op grond van die datum van die “aankondiging” (annunciation) aan Maria. Die feit dat 25 Desember op – of oor – die wintersonstilstand val, was vir hulle ‘n goddelike bevestiging. Daar is dus geen werklike redes om van die eeue-oue gebruik af te wyk nie. Of Jesus letterlik op die 25ste Desember gebore is, is ook nie so van belang nie – die 25ste is die dag van die FEES van Jesus se geboorte.

Heidense gebruike het wel deel van Kersfees geword

Ons moet onthou dat Europa stadig, oor eeue heen, verchristelik het. Vir ‘n lang tyd het die heidense en Christelike geloof saam bestaan. Dikwels het dit van die koning afgehang of die volk nou “Christene” gaan word of nie. Soms het ‘n “Christelike” koning ‘n heidense koning oorwin en dan word almal “Christene”. Waar die kerk ‘n houvas gekry het, is die afgodediens en heidense gewoontes met mag en mening bekamp. Ou gebruike is verbied en met nuwes vervang. Heidense feeste en gebruike is afgeskaf en vervang met Christelike feeste en gebruike. Bonifacius het bv. die Germane se heilige eikeboom (“Odin se eik”) afgekap en vir hulle eerder oor die denneboom geleer, wat met ‘n spits na bo (na God toe) wys, en wie se driehoek-vorm op die Drie-eenheid dui. Dit het ook gebeur dat die kerk tempels oorgeneem en heringewy het as kerke. Dit was vir hulle ‘n geweldige oorwinning en ‘n bewys van die voortgang van die evangelie. Dit was hulle manier om te “evangeliseer”.

Daar was sekerlik nadele aan hierdie benadering, want om iets bloot te “verchristelik” was maar ‘n oppervlakkige “bekering”, maar so is die afgodediens uitgeroei en uiteindelik was Europa geheel-en-al Christelik. As ons daarop terugkyk, is ons bly vir ‘n Christelike Europa, want daarvandaan het die kerk wêreldwyd versprei. Die Christelike kerk in Europa, vir al sy foute, het die hervormings en herlewings opgelewer wat bv. gemaak dat ons vandag Christene is. As dit nie so was nie – wat sou ons wees?

Dink na: in missiologiese kringe tot vandag is dit steeds ‘n geldige benadering om ‘n vreemde kultuur te benader vir aansluitingspunte en dan daarvandaan die Here aan hulle bekend te stel. Paulus doen presies dieselfde as hy aan die Atheners sê dat hy “Die Onbekende God”, van wie hy ‘n altaar in die stad gesien het, aan hulle kom bekend stel. Hy sou mos duidelik kon sê dat die ware God en hulle konsep van nog-‘n-god-tussen-al-die-ander glad nie versoenbaar is nie, en ‘n ander benadering volg, deur bv. te vertel van die God van die Jode. Hy knoop egter eerder by hulle aan “waar hulle is”. ‘n Hedendaagse voorbeeld is Amerikaanse kerke wat op Halloween ‘n “alternatief” aanbied vir die jeug by die kerk. Mens sou dus kon sê dat daardie “alternatiewe” byeenkomste verkeerd is, want dit is op ‘n dag wat volgens hulle aan die duiwel gewy – vier hulle nie "eintlik maar" Halloween nie? Tog het hulle ‘n sekere fees “bekeer” en doen hul eerder iets wat die Here sal eer.

Sekere eeue-oue gebruike het egter op die bg. wyse na die Christelike Kersfees oorgedra. Onthou, al die Europese nasies het ‘n fees gehad na die winter-sonstilstand, want hulle winters was straf en hulle was bly dat die dae weer langer sou word. Hulle lewens is in “winters” getel! Die kerk het sommige winterfees-gebruike teengestaan en afgeweer, maar ander gebruike is “bekeer” en het ‘n Christelike betekenis gekry – en het deel van Kersfees geword. Kom ons kyk daarna een vir een:

Groen loof en die Kersboom

Mistletoe, ivy & holly is alles immergroen plante wat in heidense winterfeeste gebruik is. Die heidene het magiese kwaliteite daarin gesien, omdat dit die sneeu kon deurstaan. Mettertyd het van dit oorgedra na Kersfees toe, maar die betekenis daarvan is verchristelik: die groen staan nou vir die lewe wanneer alles dood is, die rooi bessies vir Jesus se bloed, die wit blomme vir Maria se reinheid en die dorings vir die dorings van die kruis. So word dit letterlik gesing in die Kerslied, The holly and the ivy. 

Die gebruik van die Kersboom, daarenteen, het ‘n heeltemal ander oorsprong en het niks met die heidene se groen loof te doen nie. Dit is – ten spyte van alles wat hierbo genoem is – maar omtrent 400 jaar oud en het in Duitsland ontstaan, toe mense begin het om dennebome te versier met versierings, lekkergoed en kerse. Voor dit was dit nie deel van enige Kersfees nie. Die mense wat dit begin het se agtergrond was deur en deur Christelik, selfs protestants – nie eers katoliek nie, en nog minder heidens. Daar is ‘n gerug dat Martin Luther die eerste Kersboom versier het, maar dit blyk ‘n legende te wees. Dit is dus ‘n geval van heidene wat ‘n duisend jaar voor dit loof gebruik het in hulle feeste (daar is geen bewys dat hulle ‘n boom in hulle huis gesit het nie) en toe ‘n duisend jaar niks en toe begin Christene Kersbome versier. Daar kan eenvoudig geen verband wees nie!

Inteendeel, dit is waarskynliker dat die kersboom die gevolg is van die “paradysboom”, wat die kerk in die Middeleeue gebruik het om Adam en Eva se sonde uit te beeld. Die 24ste Desember was die dag waarop Adam en Eva gedenk is, en die boom het in hulle paradys-spel gefigureer: ‘n denneboom met appels. Op die 24ste is ‘n Kersfees-kers ook aangesteek as simbool van die Christuslig, as deel van die Kersvieringe. Dis moontlik dat hierdie twee gebruike saam aanleiding gegee het tot die Kersboom soos ons dit ken. In die 18de eeu is die Kersboom na Amerika geneem deur Duitse immigrante en in die 19de eeu het koningin Victoria dit na Engeland gebring. Eers vroeg in die vorige eeu het dit wêreldwyd ‘n deel van Kersfees geword.

Terloops, Jeremia 10 het niks met ‘n Kersboom te doen nie, dit gaan in die hele gedeelte (verse 1-16) oor die maak van afgode.  

Vuur en ligte

Dit was natuurlik winter en tydens die heidense winterfeeste is daar vure aangesteek, o.a. die Yule log. Yule was die naam van die Engelse en Noorse winterfees, en is nou ‘n sinoniem vir Kersfees in hierdie tale. Die Yule log was ‘n reuse stomp wat hulle permanent aan die brand gehou het deur die hele fees. Die vuur en lig was vir die heidene die simbool van komende somer, maar vandat Kersfees gevier is was dit slegs ‘n simbool van Jesus Christus, die lig van die wêreld – en niks anders nie. Dis weereens moeilik om te bepaal of die Christelike gebruik direk staan op die heidense gebruik, want kerse het reeds in die kerk gebrand (‘n nabye assosiasie vir ‘n Christelike fees), asook in elke huis en by elke byeenkoms, want dit was donker-winter en daar was geen elektrisiteit nie. Alle winterfeeste – heidens of Christelik – sou dus noodwendig kerse brand. Om oorsaaklike verbande te trek is dus maar gedwonge.

Onthou, die woord “Kers-” in Kersfees staan nie vir ‘n “kers” (candle) nie, maar vir “Christus” (Christ – oorspronklik in Duits en Hollands ook Christ of Krist). “Christ-mass” is die “Christus-erediens”. Ook die X van “X-mas” is ‘n afkorting vir “Christus”, wat in die oorspronklike taal met ‘n X gespel word.  Dis nie ‘n poging om “Christ” uit Christmas te haal nie! Christus word algemeen met ‘n X afgekort, leraars doen dit alledaags.

Geskenke en versierings

Dit is bekend dat mense op ooreenkomstige heidense feeste vir mekaar geskenke gegee het (bv. op Saturnalia). Dit is egter ook waar dat die hele essensie van Kersfees die viering van die Goddelike Gawe is. Daar is ook die direkte Christelike tradisie van die wyse manne se geskenke. DIT is eintlik waarom ons geskenke gee – nie omdat heidene duisende jare gelede geskenke gegee het nie. Dieselfde geld vir die versier van ons huise, wat deel is van baie feeste. Weereens is die verband tussen ou heidense gebruike en hoe ons Kersfees vandag vier baie dun.

Met die bg. Kersfeesgebruike kan ons verbande met vroeëre heidense gebruike raaksien – dis waar – maar ons sien ook (1) dat dit dikwels moeilik is om direkte of oorsaaklike verbande te bewys (aspekte daarvan is maar deel van alle feesviering) en (2) dat die verband so verflou het deur baie eeue dat dit eintlik geen konsekwensie meer het nie. 

Ander Kersfeesgebruike het ‘n Christelike oorsprong

Ons noem net die volgende: 

  • KERSVADERse oorsprong is heel Christelik. St. Nikolaas van Myra (4de eeu) was bekend dat hy geskenke gegee het, byvoorbeeld genoeg geld dat drie susters kon trou en gered word van prostitusie. St. Nikolaas het regoor Europa met Kersfees geassosieer geraak en as “Sinterklaas” (in Holland) geskenke gebring vir soet kinders. Dit het op 6 Desember (St. Nikolaas se feesdag) gebeur – die 25ste self is tot vandag in Holland ‘n meer geestelike of kerklike viering. “Sinterklaas” word dus in Holland uitgebeeld met biskop-klere: ‘n rooi mantel, myter (die biskop se punt-hoed) en ‘n goue staf. Via die Hollanders het “Santa Claus” in Amerika posgevat en daar het Santa die laaste hoogstens 200 jaar sy eie lewe gekry deur die mites wat rondom hom geskep is – ook grootliks as reklame-veldtogte deur Coca-Cola. Dit is moontlik dat van die besonderhede oor Santa ook vanuit die Germaanse  heidendom kom, omdat Odin ook op ‘n slee gery het, mense se huise besoek het en dat kinders strooi, ens. vir sy rendiere neergesit het. Daar is egter geen direkte oorsprong  nie – dis asof die stories deurmekaar geraak het.  Die hedendaagse "Vader Kersfees" is ‘n redelik moderne figuur.
  • KERSLIEDEREis reeds vanaf die begin in die kerke gesing, maar die Christmas Carols wat ons ken, kom dikwels uit die Middeleeue – vandaar hulle besondere gevoel. John Wesley het  ook ‘n paar geskryf. Dis eintlik baie mooi.
  • KERSKAARTEis so ‘n paar honderd jaar oud en is in ons eeu al weer aan die verbygaan.

Dan het daar in elke land natuurlik spesifieke Kerstradisies ontwikkel: die een se turkey is die ander se gammon - sommige gebruike is 100e jare oud, maar het geen verband met die heidendom nie. Saam met groot feeste kom groot etes.

Kom ons sluit af – maar lees gerus ons bespreking hieronder of ‘n verband met die heidendom wel nog belangrik is – en vra hierdie vraag: So, moet ons Kersfees vier?

Ons antwoord is dus “ja, as jy wil”. Niemand sê jy MOET nie.  Die heidense oorspronge van sekere elemente hoef egter nie in jou pad te staan nie. Jy kan dit doodgewoon uithaal as jy wil. Hoe ons Kersfees kan vier as kinders van die Here bespreek ons in ‘n volgende artikel. 

Kersfees het egter ‘n geweldige getuieniskrag in die wêreld, ten spyte van die vervlakking en misbruik, want die hele wêreld weet (tot in Japan) dat dit oor die geboorte van Jesus Christus gaan. Sou die Christene ophou om Kersfees te vier sal dit vir die vyand ‘n groot oorwinning wees. Nee, ons moet nie toelaat dat hy dit by ons steel nie. Ons moet eerder aanhou om die wêreld te wys waaroor Kersfees regtig gaan. Wat ‘n wonderlike getuienis en geleentheid!

 

--------------------------------------------------------------------- 

Naskrif: Bedoel ons regtig om afgode te aanbid?

Daar is ook ‘n vraag te vra of die oorsprong van ‘n saak die bedoelde betekenis daarvan enigsins nog beïnvloed. M.a.w. as die oorsprong van iets 2000 jaar gelede in die heidendom lê is ons steeds besig met heidendom as ons dit doen?  Dit is ‘n baie wesenlik vraag en die antwoord is “nee”.  Ek gee ‘n paar voorbeelde:

  • Ons gebruik woorde wat ander “oorspronklike betekenisse” gehad het as waarvoor ons dit vandag gebruik, en mens kan nie maak asof die “oorspronklike” betekenis die “eintlike” betekenis is as ons met mekaar praat nie. Die “eintlike” betekenis is die een wat die spreker bedoel as hy die woord gebruik. Dis al. Ons maak dikwels daardie fout as ons preek en sê die “oorspronklike” betekenis van hierdie woord is so-en-so en dan draai ons dalk sommer Paulus (of watter skrywer ook al) se duidelike bedoeling op sy kop. As iemand bv. sê hy is baie “entoesiasties” oor iets, sê ek vir hom hy is van die duiwel besete want die “oorspronklike” betekenis van die woord (en + theos) beteken “met ‘n god in” (en hulle het nie aan ons God gedink nie)? Dis duidelik verkeerd! Iemand bedoel wat hy bedoel. Dink ook aan die woord meneer: mijn heer= “my heer”. Sê ek vir iemand dat hy my heer of baas is as ek hom “meneer” noem? Nee, glad nie. Ek bedoel net wat ek bedoel. Taalkundiges noem dit die “etimologiese fout”. Die “oorspronklike” betekenis reis nie saam met die woord en verander sy betekenis sonder dat ons daarvan weet nie. Iemand het al aan my geskryf dat dominee “heer” beteken (wat waar is – “dominus” = heer) en dat hy beswaar het om my so te noem, so hy noem my sommer meneer! Ha-ha, dankie mijn-heer! So kul ons maar onsself – en ek is ook niemand se heer nie.
  • Dink ook aan die dae van die week, wat elk aan ‘n afgod gewy is(Son, Maan, Wodin, Thor, Friga, ens.) en sommige maande van die jaar (Janus, Mars, Juno), ens. Ons gebruik dit in ‘n totaal ander betekenis as die oorspronklike. Die oorsprong lê diep in die heidense godsdienste – is ons nou besig met afgodediens as ons ons dae daagliks op afgodsname noem? Natuurlik nie. So is daar baie kulturele gebruike wat uit die heidendom kom. Ons noem dit doodgewoon ons “geskiedenis”.

Die punt is dit: ons vier wat ons bedoel om te vier. Kersfees is nou al minstens 1500 jaar ‘n Christelike fees, ten volle gewy aan die geboorte van Jesus Christus.  Elke element daarvan, van die geskenke tot die boom is vir ons ‘n simbool wat na die Here wys. 

--------------------------------------------------------------------- 

 

Skakels:

Laai hierdie artikel af as 'n PDF dokument:

Vier Kersfees 2 - Met vrymoedigheid.pdf

Lees die volgende artikel in hierdie reeks by hierdie skakel:

http://jimileroux.com/forum/topics/antwoord-op-kersfees-3-hoe-moet-ek-kersfees-vier?context=category-Geestelike+vrae+forum

Lees die vorige artikel in hierdie reeks by hierdie skakel:

http://jimileroux.com/forum/topics/antwoord-op-kersfees-1-is-jesus-gebore-op-die-25ste?context=category-Geestelike+vrae+forum

Lees Wikipedia se artikel hieroor by hierdie skakel:

https://en.wikipedia.org/wiki/Christmas

 

Verdere bronne:

http://www.orlutheran.com/html/chrtree.html

http://www.orlutheran.com/html/santa.html

 

You need to be a member of jimileroux.com to add comments!

Join jimileroux.com