Forum 2.0

Kersfees #3:

Hoe moet ek Kersfees vier as kind van die Here?

 

Wat van ‘n kersboom, kersvader, kersliedere en sulke dinge?

Ons het reeds daarop gewys dat Kersfees ‘n fees is wat deur die Kerk gevier word om die geboorte van Jesus te herdenk.  Dit is ‘n Christelike fees en dit verkondig Jesus aan die hele wêreld.   In sy ontwikkeling het die fees sekere gebruike oorgeneem wat uit heidense feeste kom, maar dit is van ‘n Christelike simboliek voorsien, en dit maak Kersfees nie ‘n heidense fees nie.  Dit is soos kultuur ontwikkel en daar is baie aspekte van ons alledaagse lewe wat teruggaan na die heidense tye toe.   Kersfees ontwikkel steeds, en die volgende is daarvan voorbeelde:

  • Die gebruik van die KERSBOOM is omtrent 400 jaar oud en het in Duitsland ontstaan.  Mense het dennebome versier met versierings, lekkergoed en kerse.  Voor dit was dit nie deel van enige Kersfeeste nie.  Daar word soms aanvaar dat om ‘n boom af te kap en te versier ‘n heidense gebruik is (en kersbome is op ‘n tyd verbied), maar daar is geen getuienis dat die heidene so ‘n boom in hul huise gehad het nie, alhoewel hulle almal 1300 jaar VOOR DIT groen takke in hulle huise gebring het en versier het in hul winterfeeste.  Daar is dus ‘n ooreenkoms, maar navorsing hieroor vind net eenvoudig geen bewys dat dit die rede was waarom Christene 13 eeue later kersbome versier het nie.  Die mense wat dit gedoen het se agtergrond was  deur en deur Christelik, selfs protestants – nie heidens nie.  Daar is ‘n gerug dat Martin Luther die eerste kersboom versier het, maar dit blyk ‘n suiwer legende te wees.  Dit is eerder waarskynlik dat die kersboom die gevolg is van die “paradysboom” wat hulle gebruik het in die Middeleeue om Adam en Eva se sonde uit te beeld.  Die 24ste Des is die dag waarop Adam en Eva gedenk is, en die boom het in hulle paradys-spel gefigureer: ‘n denneboom met appels.  Op die 24ste is ‘n Kers-kers (!) ook aangesteek as Christuslig – deel van hul kersvieringe.  Dis moontlik dat hierdie twee gebruike aanleiding gegee het tot die kersboom soos ons dit ken.  In die 18de eeu is die kersboom na Amerika geneem deur Duitse immigrante en in die 19de eeu het koningin Victoria dit na Engeland gebring.  Eers vroeg in die vorige eeu het dit wêreldwyd ‘n deel van Kersfees geword.  Terloops, Jer 10 het niks met ‘n kersboom te doen nie, dit gaan in die hele gedeelte(vv1-16)  oor die maak van afgode.  
  • KERSVADER se oorsprong is eintlik heel Christelik. St. Nikolaas van Myra (4de eeu) was bekend dat hy geskenke gegee het, o.a. genoeg geld dat drie susters kon trou (en gered is van prostitusie).  St Nikolaas het regoor Europa met Kersfees geassosieer geraak en as “Sinterklaas” (in Holland) geskenke gebring vir soet kinders.  Dit het op 6 Desember (St Nikolaas se feesdag) gebeur – die 25ste self is tot vandag in Holland ‘n meer geestelike of kerklike viering.  Sinterklaas word in Holland uitgebeeld met biskopklere, ‘n rooi mantel, myter (die biskop se punt-hoed) en ‘n goue staf.  Via die Hollanders het “Santa Claus” in Amerika posgevat en daar het Santa die laaste hoogstens 200 jaar sy eie lewe gekry deur al die mites wat rondom hom geskep is.  Daar is spekulasie dat van die besonderhede oor Santa ook vanuit die germaanse  heidendom kom, omdat Odin ook op ‘n slee gery, mense se huise besoek het en dat kinders strooi, ens. vir sy rendiere neergesit het.  Daar is egter geen direkte oorsprong  nie – dis asof die stories deurmekaar geraak het.   Die hedendaagse "Vader Kersfees" is eintlik ‘n redelik moderne figuur.
  • KERSLIEDERE is reeds vanaf die begin in die kerke gesing, maar die Christmas carols wat ons ken, kom dikwels uit die Middeleeue – vandaar hulle besondere gevoel.  John Wesley het  ook ‘n paar geskryf. ‘n Mooi gebruik.  Die meer onlangses gaan natuurlik oor ‘n wit kersfees, rendiere met rooi neuse, en die klokkies wat so aan die slee jingle… ai.
  • KERSKAARTE is so ‘n paar honderd jaar oud en is in ons eeu al weer aan die verbygaan.

Dan het daar in elke land natuurlik spesifieke kerstradisies ontwikkel:die een se turkey is die ander se gammon - sommige gebruike is 100e jare oud.

 

Die groot hartseer is nie enige heidense oorsprong nie

Die groot verandering en hartseer rondom Kersfees is nie die bekommernis dat sekere elemente daarvan uit die voorchristelike tyd kom nie, maar die feit dat Kersfees vandag so gesekulariseer en gekommersialiseer geraak het.  Wat beteken dit?  Kersfees het populêr geraak oor die hele wêreld. Dit word op ‘n manier gevier deur meer nie-Christene as Christene.  Hulle maak dit los van die geboorte van Christus en beklemtoon eerder ander inhoude: dit is ‘n tyd vir die gesin, vir welwillendheid, ens.  ‘n Time for giving… (wat eintlik beteken: ‘n time for shopping).  Hulle verander sommer die naam na die silly season, of happy holidays…  Die meeste beskou dit bloot as ‘n tyd vir vakansie en partytjies hou.  Selfs nie-Christelike lande soos Japan vier Kersfees meer en meer omdat dit gesien word as deel van die Weste – dit gaan daar egter net oor ‘n kersboom, kersvader, geskenke en liggies en versierings.  Dis al en om eerlik te wees, dit is mos presies soos dit deur die meeste in Westerse lande ook gevier word.  Dan word Kersfees vandag gedryf deur die sake-sektor, vir wie dit die mees profytlike tyd van die jaar is.  Hulle eie kragtige boodskap is dat Kersfees vernaamlik oor twee dinge gaan:  geskenke vir almal en dan die groot etes en partytjies.  Vir beide moet die winkels natuurlik besoek word...  Volgens my is hierdie “wêreldse Kersfees” die groot gevaar vir Christene. ‘n Kersfees maar geen Christusfees nie.  Koos van der Merwe skryf dit so:

 

kersfees

liggies brand op elke straat en die mense word vir niemand kwaad want dis kersfees in ons stad

tienduisend vader krismisse  is nat gesweet in hul sneeumusse want dis kersfees in ons stad

'n honderd winkels in 'n ry is almal innig lief vir my

en my geldvriend sal my help betaal en wie moet ek bedank

as ek vir iemand 'n present kan koop bier kan drink tot die trane loop

of jou lekker lyf my liefiewyf kan druk as ons dans

o, 'n katjie of 'n hondjie of 'n ringetjie vir jou my dingetjie vir jou

selfmoord anoniem se skof is nou van tien tot tien

want geld kan nooit die liefde koop en partytjies moet ten einde loop

liggies brand op straat en die mense word vir niemand kwaad want dis kersfees in ons stad

spaar my here spaar my

spaar my nog 'n kersfees

sonder u

 

Moet ons Kersfees vier?  Jy hoef natuurlik nie Kersfees te vier nie.  Dit is nie verpligtend nie.  Sommige het opgehou.  Maar gegewe die kultuur waarin ons nou eenmaal is en die potensiaal wat Kersfees steeds het om te getuig – selfs in die mees sekulêre setting sing kersliedere steeds van Jesus en beeld kerskaartjies steeds ‘n stal en ‘n krip uit – sou ek nie wou dat Kersfees afgeskaf word nie.  Die boodskap is te kragtig – die Verlosser word in ‘n stal gebore, vir ons.  Wat ‘n ongelooflike (gelooflike) konsep.   Wat betref die heidense oorspronge van sekere Kersfeesgebruike:  persoonlik voel ek dat die gebruike met Kersfees al vir soveel eeue ge-sanitize en ge-christianize is dat ons dit kan gebruik – daar is absoluut geen rekolleksie van heidense gebruike daarmee saam nie, en ook geen so ‘n bedoeling nie.  Daar is diegene wat teen die vervlakking reageer en sê as Kersfees dan so wêrelds geraak het, dan moet die Christene ophou om Kersfees te vier.  Maar dis die verkeerde redenasie.  Mens kan nie dit wat kosbaar is maar vir die duiwel gee nie.   My opinie is dus duidelik: vier Kersfees, maar vier dit reg.

 

TUSSEN HAKIES, MAAR BELANGRIK ================================================================

My gevoel is dat sommige se probleem met Kersfees op ‘n ander vlak lê as die bg. redenasies:

  • Hulle eie ervarings van Kersfees as ‘n kind was sleg – dit was dalk ‘n dronkspul of wat ook al.  Met hulle bekering wil hulle wegkom van so ‘n sinnelose en wêreldse saak en die Here werklik dien.  Hulle sien dit moontlik as deel van hulle vorige lewe – en jy sal my beter verstaan as jy weet dat ek in ‘n huis groot geword het waarin Kersfees vol geestelike waarde was, ‘n wonderlike tyd saam met pa en ma en al ons (vyf) broers en susters en met dienste vol van die wonder van Christus se koms.  Nog nooit het dit afbreuk gedoen aan my geestelike lewe nie.
  • Sommige sê dat Kersfees nie in die Bybel voorkom nie.  Dit is natuurlik so en dit is seker ‘n legitieme poging om ‘n streng “Nuwe Testamentiese” geloofslewe  uit te leef.  Ek sit dit in aanhalingstekens omdat dit nogal ‘n heel ander prentjie is as wat ons dink:  in die Nuwe Testament was ons geloof nog baie vloeibaar – onthou, (1) daar was geen “Nuwe Testament” nie, net ‘n “Ou Testament”; (2) Joodse Christene het Sabbat en die hele wet gehou en heidense Christene weer nie – hulle het eerder op Sondag bymekaar gekom of geen spesiale dag gehad nie; (3) die kwessie van wie Jesus was (sy twee nature) en die Drie-Eenheid was glad nie uitgesorteer nie.  Al die bg. dinge is eers eeue later deur die kerk vasgemaak in konsilies en sinodes: die Nuwe Testament is vasgestel uit die talle boeke en briewe wat sirkuleer is, die Sondag het amptelik gevestig soos die Joodse Christene feitlik uitgesterf het, die kerk het besluite geneem oor Jesus en die woord “Drie-Eenheid” geskep om God te beskryf (dit kom glad nie in die Bybel voor nie).  Ons aanvaar dat die Kerk hierdie sake onder leiding van die Gees besluit het.  Goed soos feeste en seremonies is nie so wesenlik soos die bg.nie, maar is tog ons reaksie op God se werk en is maniere om groot waarhede in vaste formaat aan ons kinders oor te dra.  Die eerste fees wat jaarliks gevier was (vroeg reeds) , was Paasfees  en Kersfees het later bygekom – en die ander…
  • Sommige Christene keer vandag terug na Joodse gebruike en Joodse feeste alleen.  Ja, op ‘n manier sal hulle dan hulle geloof inrig soos Jesus dit geken het, maar daarmee ook hulself apart stel van hoe die meeste Christene dit beleef het in die Nuwe Testament.  In die Nuwe Testament was die meeste Christene reeds heidene (m.a.w. nie-Jode) en hulle het nie die Joodse gebruike, wette en feeste gehou nie.  Ons self is Christene uit die heidendom. 

================================================================================================

Ja, vier Kersfees reg

Maak keuses.  Jy hoef nie alles te doen wat die wêreld doen nie.  Die volgende is voorbeelde:

1) Vir diegene wat daarmee ‘n probleem het (en as jy iets nie met geloof kan doen nie, is dit sonde, sê Paulus), sou ek sê sny dan uit wat vir jou heidense konnotasies het.  Ek het klaar gesê wat ek hieroor wou sê.  Onthou egter dat Paulus ook oor sulke dinge sê dat ons nie mekaar moet veroordeel nie – Rom 14.

2) Oor Vader Kersfees wat so vrolik is, wil ek iets sê.  Vir so vroom as wat St Nicholaas was, het die moderne Kersvader-figuur ongelukkig  Jesus se plek te veel kom inneem.  Kinders glo dat Kersfees oor Kersvader gaan wat geskenke bring en dit is verkeerd:  Kersfees gaan oor Jesus, die geskenk wat God vir ons gebring het.  Ek het ‘n probleem daarmee, en laat persoonlik die jolly oom maar verbygaan – daar is nêrens ‘n Kersvader in my huis nie.  Ek is nie fanaties daaroor nie, maar hy feature net nie hoog by ons nie.  Maar dis jou saak.

3) Die gevaar van Kersfees is die belaglike kommersialisering en misbruik.  Die vervlakking, die partytjies en gedrink.    Daar is amptelike organisasies aan die gang  vanuit Christelike oorde om net ‘n streep daaronder te trek.  “Buy Nothing Christmas” van Kanada se boodskap is bv. om niks vir Kersfees te koop nie, maar uit jou oorvloed te gee.  Besluit ten minste die volgende:

  • Christus is die middelpunt van Kersfees en NIEMAND anders nie.  Maak dit ‘n Christusfees:  lees die Bybelse geboorteverhale, bid saam met jou gesin, speel geestelike kersmusiek, gaan kerk toe.  Neem deel aan jou gemeente se feesvierings.  Hieronder is ‘n skakel na ‘n aantal Padlangs kers-oordenkings wat jy kan gebruik in die weke voor Kersfees.
  • Weier om deel te wees van die consumer-kabaal.  Koop beskeie geskenke en maak dit smaakvol op.  Skryf ‘n mooi boodskappie by.  Gee goed wat die regte waardes oordra:  ‘n geestelike boek (ai, darem nou nie vir ‘n kind nie, nê),  herwinde skryfpapier, organiese wyn, neute en droëvrugte eerder as sweets.  Jy kan ook jou eie mooi goed maak: jou eie konfyt inlê of mooi kerskoekies bak,  tafeldoeke maak, ‘n houtkruis vir die muur. Moenie geld vermors terwyl mense in ellende leef nie, dit is immoreel.
  • Let op jou motiewe:  moenie gedryf word deur skuldgevoelens, media-manipulasie, kompetisie of kompensasie nie.  As mense nie van jou hou nie, gaan ‘n duur geskenk dit nie verander nie.  Jy hoef niemand te beïndruk nie.  Onthou die media se boodskap het net een doel en dit is dat jy jou randjies in hul handjies sal sit.
  • Moet nie jouself te buite gaan aan die kos en drank nie.  Geniet die fees, maar onthou alles moet die Here eer.  Plaas die klem op die familie, die verhoudings en die samesyn.  Moenie te veel spandeer op kos nie.  Moenie uitspattig wees nie.  En asseblief, niemand mag getrek raak van jou Christmas punch nie…
  • Fokus op uitreik en barmhartigheid.  Gee uit jou oorvloed of trek ‘n eensame in.  Die meerderheid mense in Suid-Afrika kan maar net droom van ‘n Kersfees soos dit vir jou alledaags is.  Sommige gee hul geskenkgeld elke jaar weg en maak dit hulle fees.

Smaakvol, eenvoudig, geestelik, verantwoordelik – dit is hoe ek dit sal opsom. 

En dan baie belangrik: word ‘n agent.  Versprei die woord in jou eie optrede, in jou gesprekke , op vergaderings: JESUS IS THE REASON FOR THE SEASON.  Ja, dit kan ongelowiges nogal irriteer, maar dis die waarheid.  Hou aan om die regte waardes rondom Kersfees te praat en te leef. 

Kom ons gebruik die seisoen om die Here te eer.

 

Sien ook:

Artikel 1 van hierdie reeks oor Kersfees

Artikel 2 van hierdie reeks oor Kersfees

Kers-oordenkings

Bronne:

http://www.orlutheran.com/html/chrtree.html

http://www.orlutheran.com/html/santa.html

http://www.buynothingchristmas.org/

 

You need to be a member of jimileroux30 to add comments!

Join jimileroux30