Forum 2.0

Antwoord op... KONTEMPLASIE

Kontemplasie is die gebed van stilte.  Dit (contemplatio) is die Christelike "meditasie" - om jou gedagtes te oorkom en jou hart op die Here te fokus.  Die Christelike meditatio is Skrifmeditasie, nl. om die Bybel te oordink, te bepeins.  Sommige Christene is onmiddelik bekommerd as hulle dit lees, en daarom is die volgende agtergrond belangrik:

1) Is kontemplasie nie Oosters nie?

Ons moet dalk net eers wegkom van die gedagte dat alles van die Ooste sleg is, net omdat dit van “die Ooste” is. Ons motor en TV is ook van “die Ooste”, en hulle funksioneer darem heel goed in ons lewe! Ons weet egter dat mense met hierdie stelling bedoel dat kontemplasie dalk die produk van ‘n ander godsdiens is, of dalk ‘n dwaallering? Die antwoord is “ja” en “nee”. “Ja”, omdat (meditatiewe) gebed wel deel is van alle godsdienste, maar so ook gewone gebed, vas, lees, goeie werke, pelgrimstogte, ens. NET omdat Hindoes en Boedhiste ook bid, skakel dit nie gebed vir ons uit nie, nie waar nie? Al bid hulle dus in die Ooste, bid ek ook – Christelike kontemplasie is in elk geval anders as Zen meditasie, TM, ens. “Nee”, omdat dit ‘n Christelike vorm van gebed is met ‘n besliste eie Christelike ontwikkeling deur die Godsmanne en vroue vanaf minstens 1500 jaar gelede en met wortels van nog ‘n duisend jaar voor dit. Onthou ook dat Jesus en die Bybel uit ‘n Midde-Oosterse milieu kom en dat ons nie sommer ons moderne Westerse denke daarop moet projekteer nie. In ‘n antieke sin is ons geloof ook “Oosters”. Kontemplasie is nie oorgeneem uit 'n Oosterse godsdiens nie - dit kom sedert die 4de eeu uit die kloosters in die Egiptiese woestyn.  Dit is 'n Christelike gebedsvorm.

2) Is kontemplasie nie gevaarlik nie?

Sal daar nie ‘n demoon in my vaar as ek my verstand “ledig” nie? Nommer een, ons wil nie die verstand ledig en in die niet opgelos raak, of een met die heelal word, soos sommige Oosterse gelowe nie. Ons wil by die Here kom rus en ons gedagtes aan Hom kom oorgee. Sommige dink dat Mat 12 (die huis wat leeg en uitgevee is) daarna verwys, maar dit gaan daar oor duiwelbesete persone en Jesus gebruik die beeld vir die bose geslag (v45) wat nie na sy woorde luister nie, en uiteindelik slegter af is as aan die begin. 15 eeue se Christelike ervaring hieroor het nie so ‘n gevaar uitgelig nie. Die antieke vaders het eerder gesê dat die duiwel in ons gedagtewêreld inkom (wat ‘n baie meer Bybelse gedagte is) en dat ons ons gedagtes onder beheer moet bring – min of meer die teenoorgestelde as wat ons vandag glo. Die huidige vrees kom uit die geledere van diegene wat die duiwel vandag dikwels krediet gee wat hy nie waardig is nie. Dan moet ons bv. ook vrees vir as ons slaap, droom, dagdroom, ingedagte is, ens. (alles soortgelyke toestande as kontemplasie) en ons gedagtes “oop gaan” omdat ons nie direk daaroor beheer het nie. Dit is duidelik nie die geval nie.

3) Jesus het nie so gebid nie.

Ons is geneig om te dink dat Jesus gebid het soos ons tans bid, maar dis ‘n projeksie. Jesus (en die dissipels) se gebed was totaal anders as ons, as Jode en hulle het tipies: (1) met oop oë staande gebid, hardop, en met hulle hande voor hulle uitgehou (1 Tim 2:8); (2) dikwels van vaste gebede gebruik gemaak (soos Jesus ook vir ons geleer het – Mat 6:9-13); (3) op die Joodse gebedsure van die dag gebid en na die tempel gegaan (Hand 3:1). Ons bid feitlik glad nie meer soos Jesus nie, en dit is ook goed, want opregte gebed kan op baie maniere na God gaan, en ons bid op ‘n wyse wat gepas is vir ons kultuur. Nogtans was Jesus se ritualistiese Judaïstiese spiritualiteit baie, baie nader aan wat vandag kontemplatiewe spiritualiteit genoem word, as aan ons modernistiese, individualistiese, Westerse benadering!

4) Dis net ‘n verbygaande gier.

Vanuit die armoede en vlakheid van wat vandag beleef word as Westerse spiritualiteit is daar ‘n groot behoefte aan die dieper wysheid en ritmes van die kontemplatiewe beandering en dit ly geen twyfel nie dat ons as Protestante, ingesluit evangeliese en charismatiese Christene, in die toekoms net meer en meer sal hoor van afsondering, stilte, geestelike dissiplines, geestelike ritmes, retreats, simboliese gebruike, ens. Dit kom goed begrond met ‘n 2000 jaar oue teologie en kom voeg waarde toe wat ons as Christene nie mag ignoreer nie. Dit sal verseker die res van ons eie lewens ‘n groeiende aspek wees van ons verstaan van die geestelike lewe.

5) Moet ek nou my eie geloofslewe verruil vir iets wat vreemd is?

Nee, natuurlik nie – jou eie geestelike lewe is ook mooi, want jy dien die Here opreg op ‘n sekere wyse. Die motief is belangriker as die vorm en as die hart teenoor God opreg is, is dit van minder belang of my gebed of sang of verstaan in hierdie of daardie vorm gegiet is. Ons gaan aan om die Here opreg te dien soos ons reeds doen, maar ons verruim ons geestelike lewe met dit wat waarde toevoeg. Die kontemplatiewe dimensie voeg waarde toe tot ons bestaande geloofslewe. Dan is dit in werklikheid ook nie so vreemd nie – ons doen hierdie dinge in elk geval reeds (bv. stiltetyd, onderwerping van die self, ens.). Ons kry net ‘n nuwe verstaan daarop en groei daarmee.

6) Van die mense wat kontempleer het met Boedhiste te doen.

Ja, dit is natuurlik so. Dis ‘n baie klein persentasie van kontemplatiewe Christene wat gesprekke het met Boedhiste en ook ander gelowe. Maar ons kan bv. nie die mooi van die ortodokse of gereformeerde of evangeliese of charismatiese spiritualiteit weggooi omdat sommige eksponente daarvan bygelowig, sinkretisties, liberaal, fanaties, of wat ook al is nie. Dan kan ons absoluut niks doen nie. Ons neem wat goed is en wat ons by ons geestelike lewe kan inkorporeer. Dan moet ons nie dink dat ons nou self regte kontemplatiewe Christene is, of selfs katoliek, ens. nie – verre daarvan! Ons weet en doen eintlik nog min daarvan. Wat die Boedhiste betref: terwyl ons hulle liefhet, en hulle geloof ook sekere mooi waarhede bevat (soos alle gelowe), het die Christelike kontemplatiewe geloofslewe amper niks met hulle te doen nie.

7) Gebed is mos om met God te praat.

“Dis g’n gebed om net by God te sit nie, nie waar nie?” Verkeerd. Gebed “gebeur” wanneer jy ook al jou jou hart op God rig en neem baie vorme aan. Ons verkeer onder ‘n misverstand as ons dink dat alles van ons woorde afhang. Dit is eintlik ‘n vermetele gedagte dat ons vir God kan beskryf, of kan voorskryf. In werklikheid gebeur die groot dinge van God dikwels buite ons om, en buite ons woorde om. Hy is inderdaad die Een wat daar is nog voor ons bid of vra, wat weet wat ons gaan bid nog voor ons dit sê (Mat 6:8), wat ons gebede “regmaak” volgens sy wil (Rom 8:26-28) en wat dikwels nie in die storm of die aardbewing praat nie, maar in die stilte (1 Konings 19:13). Kontemplasie is die gebed van stilte. Dit is die gebed van totale oorgawe, ook van my gedagtes.

You need to be a member of jimileroux30 to add comments!

Join jimileroux30

Email me when people reply –