Forum 2.0

(Op 'n navraag oor 'n leraar wat aan iemand gesê het dat sy haar medisyne (anti-depressante) moet staak en op God alleen vertrou. Sy vra 'n vers uit die Bybel wat aan haar rigting kan gee...)

 

Jong, die Bybel het nie eintlik ‘n vers vir alles nie, want dit vertel vernaamlik die storie van hoe mense in die verlede met God gewandel het (en Hy met hulle natuurlik), waaruit ons kan leer hoe ‘n verhouding met God ook in ons tyd kan werk. Uit die aard van die feit dat dit 2000-3000 gelede gebeur het is daar nou nie verwysings na moderne tegnologie, moderne issues, ens. nie Hulle medisyne was maar beroerd, maar ek dink dadelik aan:
• Paulus wat aan Timoteus sê dat hy ‘n bietjie wyn moet gebruik vir sy maag (1 Tim 5:23) – dis ondenkbaar dat Paulus nie vir hom sou bid nie, want Paulus het baie mense genees; en
• Paulus wat na Lukas vewys as die “geliefde geneesheer”, aangesien Lukas ‘n dokter was (Kol 4:14), m.a.w. van Jesus se vernaamste dissipels was dokters.
Daar is geen verbod in die Bybel om nie na dokters te gaan vir hulp nie. Om nie van die wetenskap gebruik te maak nie, is dus nie gelowig nie, maar eerder onkundig en dit sou dieselfde wees as om nie na die weerberig te kyk nie, maar vir God te vra om dit aan jou te openbaar; of nie ‘n ingenieur se raad te gebruik nie, maar God te vertrou dat jou gebou sal staan; allerhande ongesonde kos eet, maar God vertrou vir ‘n lang lewe, ens. Die wetenskap is deel van God se opdrag aan ons toe hy gesê het ons moet die aarde beheers en onderwerp (Gen 1:28 – Ou Vert). Dit geld ook vir die mediese wetenskap en dit is oneerlik om nie dokter toe te gaan vir gewone siektes nie, maar wel by geboortes, gebreekte bene, ens. Waarom nie daarvoor ook die Here vertrou nie? Daarmee sê ons ook nie dat die wetenskap ons god of afgod word nie. Dit is bloot kennis wat ons nuttig kan gebruik – dit beteken nie dat ons God nie meer vertrou nie. Trouens dit is die Here se wil dat ons dit wel gebruik en in ons sendingwerk bv. baie mense wat nie mediese sorg het nie, wel daardie versorging gee – daarom dat ons op die sendingveld klinieke bou, gesondheidsvoorligting gee, ens. Genesing en versorging bly steeds ‘n liefdesdaad, al kom dit vanuit die mediese wêreld.

Ek is bevrees diegene wat leer om jou medisyne te staak is nie net onverantwoordelik nie, maar ook onkundig oor die dinge van God. Daar is ywer, maar dis ywer sonder kennis. Die bedoeling is goed, maar die einde daarvan kan tragies wees. Wie gaan voor God se troon verantwoordelikheid aanvaar vir iemand se selfmoord as hy of sy aangeraai is om sy anti-depressante te staak? Dis nie God se wil nie, tensy Hy dit uitdruklik vir iemand self sê in baie definitiewe en persoonlike omstandighede, bv. waar ‘n kankerlyer chemo weier, of ‘n terminale pasiënt verdere behandeling. Sulke dinge gebeur wel.

You need to be a member of jimileroux30 to add comments!

Join jimileroux30

Email me when people reply –

Replies

  • Hello Julle. Nuut hier en my eerste skrywe/reaksie.

     

    Ek is 42 jr oud en stry al my hele lewe lank as 'n kind van God met depressie. Ek het geweier om medikasie te neem want ek het geglo dis verkeerd. Ek het geglo 'n kind van God moét oorwinning oor depressie kry deur geloof, gebed, Geesvervulling, ens. Ten spyte van die verwoesting wat die depressie gesaai het op so baie maniere en vlakke in my lewe/huwelik/werk het ek vasgebyt sonder medikasie en mediese hulp en die geestelike roete probeer volg. Bietjie meer as 'n maand gelede kon ek dit nie meer hanteer nie - ek kon myself ook nie meer hanteer nie - en het ingegee en 'n dokter gaan sien. Ek het medikasie gekry en dit begin neem. Dit werk. Ek slaap veel beter. Ek hanteer my emosies veel beter. Ek werk beter. Ek hanteer druk beter. Ek het so lánk gesuffer - en my gesin het so lank saam gesuffer - en dit was regtig onnodig. Wanneer 'n monster soos depressie ander mense se welstand negatief raak moet ons doen wat gedoen moet word om ter wille van hulle beter te word. Nou kan ek die monster beter beveg en hopelik as alles volgens plan verloop kan ek oor ses maande die medikasie los en sonder dit in oorwinning lewe. Mense mag nie hierdie goed oorvereenvoudig en so menigte se lewens vernietig nie.

  • Ek hou van Ds se gematigde en gebalanseerde benadering. Ek wil ook net iets byvoeg vir oordenking. Ek weet God het die mediese wetenskap vir ons gegee om te help, maar Hy bly die groot geneesheer. Daarom moet ons doen wat Hy aan ons openbaar, of dit nou medisyne, dokters of geloof is. Ek glo net dat Hy ons altyd verder en dieper wil vat in geloof in. Ek dink ons kan by `n punt kom waar ons oor siekte kan heers soos in Genesis beveel word. Omdat ons in `n gebroke bestel lewe is die pad daarheen moeilik. Dis baie makliker om `n pilletjie te neem as om te stry teen die kwaad (ons is mos `n kits-generasie).

    Ek ken `n paar mense wat nie meer van dokters gebruik maak nie en net oor alles bid en glo, en dit werk vir hulle. Ek streef ook daarna. In tussen is dit `n groot genade dat daar dokters is. Dit hou mens ook nederig en afhanklik van God. Daarom kan ons nooit neerkyk op hulle wat nog "swak is in die geloof" nie.

     

    Johannes Keyter

     

    • Haai daar Johannes - dankie!  Ek glo nie eintlik dat die Here bedoel dat ons op die wyse oor siektes moet heers soos wat jy voorstel nie, omdat

      • die Woord dit nie so leer nie.  Gen se konsep "beheers die aarde" wat (ek dink) jy na verwys dui juis op gewone werk - die grond omploeg, saai, oes, m.a.w. - nie net die oes deur die geloof inbring nie - as dit so sou wees sou ons ook deur die geloof moes heers oor dinge soos roes, dinge wat breek, ongelukke, misdaad of ten minste moet sê dat diegene wat sulke dinge beleef swak in hulle geloof is.
      • Paulus, Timoteus, Trofimus, Lukas e.d.m. dit nie so verstaan het of kon regkry nie

      Ek dink ook nie dit werk in mense se lewens so uit nie - nie in die wat dit toepas nie, en nie in die wie dit leer nie. Dis 'n ideaal wat valslik uit die Bybel afgelei word en deur niemand regtig nagevolg word nie (mens kan dit net "doen" terwyl jy gesond is en dit bewys niks - of hulle sal hulle griep in Jesus Naam weier, maar vir 'n armbreuk dokter toe gaan, wat eintlik sê God is net goed vir die klein goedjies).  Ek is heeltemal daarteen!

      Bly ons kan gesels - goed gaan!

This reply was deleted.