Forum 2.0

VRAAG

Wat gaan in 'n tienerseun se kop aan?  Hoekom gaan hulle in die vloekfase in?  En die drinkding?  My kind is genadiglik nie die voorbeeld van drank nie maar die gevloek en macho ding...  Hoe reken jy moet 'n ma dit hanteer sonder om die tiener nog meer opstroppelis te maak?   

 

ANTWOORD

Ai , portuurdruk...  dit werk so:

 

Eerste fase: Kinders

Kinders aanvaar ipso facto alles wat hul ouers glo en doen – wonderlike fase...

Tweede fase: Tieners

Kinders moet noodwendig hulle eie individue word en dit behels hulle EIE opinies, waardes en geloof.  Hulle besef hulle ouers is net mense wat foute het en begin ‘n afstand beleef.  Hulle sien dinge anders.  Wat glo hulle self?  Hoe moet mens leef?  Hulle weet nie want hulle is te jonk.  Hulle is nog op pad.  Hulle is in ‘n tussenfase waarin hulle tydelik die waardes en gewoontes van hulle portuurs oorneem.  Vir ‘n paar jaar doen hulle dieselfde as al die ander – tot hul ouers se ontsteltenis.  Dit duur egter nie vir altyd nie.

Derde fase: Volwassenheid

Hei, ek’s my eie mens!  Ek hoef nie te doen soos die simpel tieners, of almal om my nie.  Ek maak my EIE besluite en leef my EIE lewe volgens my EIE waardes uit.  Statistiek bewys dat 80% van die waardes wat in die kinderjare geleer is (waardes word afgevryf, nie voorgesê nie – hulle doen soos ons doen, nie soos ons sê nie, moenie meer verwag as jou eie voorbeeld nie) uiteindelik deur jong volwassenes aanvaar word.

 

Dus: Hou uit, behou die verhouding, aanvaar die kind al keur jy die gedrag af, sê wat jy wil sê maar met respek, handhaaf jou huisreëls (dis immers jou huis en jou geld) en bewys konstante liefde – jy is immers sy MA, sy PA.  Skep ‘n veilige hawe. Bid vir jou kind en laat jou kind gaan, vertrou die Here. 

 

Sterkte!

 

You need to be a member of jimileroux30 to add comments!

Join jimileroux30

Replies are closed for this discussion.