Forum 2.0

Antwoord op... PADLANGS IS MY KERK

'n Tyd terug (het lank eers hiermee geloop) het een van ons lede geskryf – in ons korrespondensie oor haar betrokkenhheid by haar kerk – dat Padlangs vir alle praktiese doeleindes haar kerk is…  en dat sy op die oomblik vrede daaroor het.  Meer as een persoon het dit al vir my gesê.  Ek is nie altyd seker hoe ek daaroor voel nie en ek weet nie eintlik hoe om daarop te antwoord nie.   Ek is ook al deur kollegas aangespreek as sou Padlangs mense uit die kerk hou, wat natuurlik nie die intensie is nie.  Ek moes bietjie daaroor gaan nadink en die volgende is tans my gevoel daaroor:

WAAROM VERLAAT MENSE DIE KERK?

Ek dink mens moet eers verstaan hoekom hierdie dinge gebeur, en trouens meer en meer gaan gebeur.  Daar is minstens drie redes:

1) Ons kultuur is baie  meer individualisties Mense aaanvaar nie noodwendig meer die tradisionele waarhede nie, maar wil hulle eie waarheid soek en hul eie besluite neem.  Dit maak o.a. dat mense tussen kerke beweeg.  Dan is daar vandag ook ‘n beweging uit die kerk uit.  Ons praat nie van sekularisasie of van lou Christene nie (die kry jy ook) – ons praat van “warm Christene” wat doodgewoon die kerk verlaat en hul Christenskap buite die strukture uitleef.  Die postmoderne kerk bestaan (1) in die Christelike denominasies en (2) op ‘n veelvoud van wyses buite tradisionele kerke en gemeentes: groepies sakemanne wat in die middaguur byeenkom, manne wat vroeg saambid, vroue wat Dinsdagoggende byeenkom, klein nis-gemeentetjies, huiskerke en selgroepe, ens.   Ander Christene leef hulle uit in die parakerklike omgewing: in sendingorganisasies, die Gideons, aktivistiese of humanitêre groepe – daar waar hulle voel hulle maak meer van ‘n verskil.

2) Tegnologie maak dit moontlik - sommige tree net uit die gemeenskap en wees Christen op hulle eie. Tegnologie maak dit makliker as ooit tevore:  daar is duisende geestelike boeke en tydskrifte in honderde geestelike boekwinkels, daar is geestelike TV-kanale en radiostasies, die Bybel is op jou selfoon en die internet wemel van geestelike materiaal – op Facebook en in duisende webruimtes en internet-bedieninge.  Google stel jou in staat om die predikant se “feite” in sekondes te verifieer, of af te wys!  M.a.w mense kan verantwoordelikheid neem vir hulle eie geestelike lewe, sonder die hulp van die kerk, en hulle doen… dis nie dat mense noodwendig bedank nie, hulle fade net weg.

3) Kerke moet ook verantwoordelikheid neem – baie kerke (denominasies) doen baie moeite om by die tye aan te pas – nie om “in” te wees, of elke gier tevrede te stel nie, maar om hulle generasie effektief te bedien.  Baie verstaan dit egter nie of kry dit nie reg nie.  Ongelukkig spreek die tradisionele kerk (en ek sluit die evangeliese kerk hierby in) die nuwe generasie dikwels glad nie aan nie.  Ons dogmas beantwoord die vrae van 400 jaar gelede (letterlik) – vrae waaroor min nog begaan is.  Die kerk se metodes is dikwels ook oneffektief – asof die kerk nog wag dat die jongmense ingestap moet kom, maar hulle kom nie!  George Barna se navorsing wys dat die kerk en/of Christene vandag dikwels gesien word as irrelevant, arrogant, liefdeloos, rigied, ens.  Sommige het seergekry in die kerk – die kerk is dikwels hoog op dogma, of wat alles sonde is, en op godsdienstigheid, maar laag op liefde.  Die gevolg is dat die geestelike lewe buite die kerk gedy.  Baie Christene sorg vir hulleself. Hulle lees geestelike boeke, lees dagstukkies en skryf geestelike boodskappies op Facebook.   Hulle het geen behoefte aan die kerk nie - of het hulle?

WAT IS ONS REAKSIE?

Ons is pro-Kerk, nooit anti-Kerk nie.  Die Kerk is die Here se Kerk, sy Liggaam.  Ons kan egter ook raaksien dat daar ‘n verskil is tussen die Kerk (hoofletter – al die ware gelowiges op aarde) en kerke (kerkgenootskappe/denominasies).  Die onsigbare Kerk van Christus, die lewende organisme,  vind sy sigbare gestalte in honderde en duisende menslike gestaltes: waaronder  denominasies, organisasies, bedieninge en persone.   Die organisasies het nie dieselfde status as die organisme nie, alhoewel elkeen glo dat sy interpretasie van Christenskap die ware en  “Bybelse” is, of dat sy bediening die werklike groot behoefte aanspreek.  Ten spyte van hoë aansprake is kerkstigting dikwels maar ‘n lukrake saak en botsende persoonlikhede lyk my speel maar ‘n rol.   Vanweë die absolute vermenigvuldiging van kerke en organisasies moet ons God se Kerk eenvoudig sien in die groter geheel en verstaan dat God verskillende mense roep met verskillende gawes om verskillende dinge op verskillende tye te doen.  Ek dink dit is die gelowige beskouing.

Dan, aan die ander kant…  alle kerke is menslike en dus feilbare instansies en dit sal nooit anders wees nie.  Moenie die perfekte kerk join nie, nè…?   Ek dink die volgende is belangrik vir ons:

  • Ons moet iewers gemeenskap beleef – Christenskap is ‘n sáám-ding, nie ‘n alleen-ding nie.  In die Christelike gemeenskap vind ons mentorskap en leierskap, word ons op die regte pad gehou (so nodig in ons wêreld met sy duisende leringe), beleef ons ondersteuning en liefde (veral as ons in behoefte is, nie waar nie), oefen ons ons Christenskap prakties (deur bv. liefde en vergiffenis) en beleef ons sáám-aanbidding. 
  • Ons moet iewers dien – Christenskap gaan nie net oor my geestelike groei nie, dit gaan baie oor diens.  Ons het gawes en ons vraag moet wees: waar bedien ek met my gawes?
  • Ons moet iewers submit.  Ons moet geestelike vaders en moeders hê aan wie ons ons onderwerp.  Ons moet lering kan aanvaar, en ook korreksie.  Sommige wat uit die kerk beweeg, doen dit omdat hulle nie wil onderwerp nie.  Dit is onvolwasse – sulkes het JUIS die gemeente, en leierskap, nodig .

Hierdie dinge vind die meeste Christene in die plaaslike gemeente.  Dit is dinge wat die TV, radio, internet (Padlangs ingesluit) of al die boeke in CUM nie kan bied nie. Die plaaslike gemeente is – vir al sy gebreke – ‘n krag van God om die wêreld te verander.  ‘n Gesonde plaaslike gemeente – die denominasie is van sekondêrebelang – is ‘n kweekhuis wat Christene volwasse maak.  Al die ander dinge is adjunkbedieninge, aanvullend, nie substitute nie. Dit kan nie en stel nie belang om die kerk te vervang nie.

Dis hoekom ek die so-gewaardeerde Padlangs-lid na wie ek aanvanklik verwys het aangemoedig het om na haar gemeente terug te keer – en sy sal dit bevestig.  Maar die drie werklikhede wat ek genoem bly werklikhede en meer en meer Christene (dis ‘n bewese tendens) vind hulle gemeenskap en leierskap en groei en ondersteuning en aanbidding op wyses buite die plaaslike gemeente, maar wel in die breër Kerk, waarvan die mediakerk en die virtuele kerk ook deel is.  Hierdie deel van die kerk kerk gaan nog baie groei, sy eie tipe gemeenskap bou en diens lewer en tien teen een later meer formele definisie kry.  Dis waarheen die wêreld op pad is.  Nogtans bly daar in die virtuele wêreld die hunkering na konneksie, na regte mense en regte verhoudings. 

My voorstel is ten slotte:

1. Wees deel van ‘n plaaslike gemeente, of skakel elders in by ‘n aktiewe groep Christene.  Ons moet ons geestelike lewe iewers diep deel.  Leef in community.  Dit is wonderlik om in die kerk te kom, op die bank te sit en wag vir die diens om te begin, om solank stil te word in daardie heilige atmosfeer, of na die musiek te luister, om saam te aanbid, om deel te wees van die gemeente om jou, om die Woord te hoor en ‘n aha te beleef, die Gees se teenwoordigheid …  Mens het dit soms so nodig.  Ai, en op Kersfees, Paasfees?

2. As jy nie tans (fisiek) lid van ‘n gemeente of geestelike groep is nie, sou ek sê dat jy ten minste geestelik moet groei deur die Woord gereeld in te neem, ‘n gebedslewe  te handhaaf, iewers aktief jou gawes vir die Here te gee, die kerk en koninkryk te ondersteun deur jou bydrae, aanbiddingsmusiek te luister (en saam te sing), as Christen te LEEF in die wêreld, m.a.w. deur liefde te leef.   Jou gesin moet steeds ‘n Christelike gesin wees waarin Christelike waardes geld, waarin julle bid, geestelike boeke lees en oor die Here praat.  As die bg. dinge nie gebeur nie is jy dalk eerder een van diegene wat die kerk verlaat het omdat jy afgekoel het.  Dan is die fout by jou. 

Die vraag is dalk – of jy nou behoort of nie : groei jy of stagneer jy?

 

 

You need to be a member of jimileroux30 to add comments!

Join jimileroux30

Email me when people reply –

Replies

  • Liewe ds Jimi

    Vanoggend, soos gewoonlik, het jy vir my waarlik die lig laat opgaan.  Ek besef Christenskap is n saamding, hetsy ek wat hulle ondersteun of hulle vir my ondersteun.  Tans kry ek veel meer ondersteuning en lering van jou as van my gemeente, maar dan ook was ek baie lanklaas in die kerk.  Die bediening, wat ek my kerkwerkie noem, doen ek tans op my manier by die werk en help en ondersteun en gee liefde na die beste van my vermoe en hulle waardeer my, nogtans  mis ek die eie mense van die gemeente.  Die submit is miskien my grootste probleem - ek submit heeltemal goed, maar ek mis iets - niemand is my vriend nie - hulle gaan nie vir my bel nie - hulle gaan nie vir my kom kuier nie - ek is net nog n gemeentelid.  En ek het vir maande die familiegroep saans bygewoon en toe was dit ook maar net so.  Ek moet erken omdat ek nie deelneem aan die kerkdinge nie, sal ek beslis uit voel.  My fout.

    Omdat ek tans nog werk woon ek nie die oggend selgroep in die week by by die kerk nie en dit klink my daar gesels almal oor alles en bly op hoogte.  Ek is in n gemeente met afgetrede persone en het heimlik gehoop dat ek iets vir iemand kan beteken maar almal is ok. 

    My kerkbydrae doen ek steeds op n EFT oorbetaling maandeliks want ek glo mens moet sorg vir jou di. 

    Toe ek nou hierdie werkstuk lees en ek kom by die heiligheid, die wete van God se huis, Sy teenwoordigheid en Kersfees en Paasfees - het ek besef ek is eintlik n kerkmens (warts and all) en ek wil kerk toe gaan.  Ek moet dit net doen. Slotsom mens kom in slegte ritmes en roetines - ek is daar...............

    Bid asseblief vir my

    Rynie

    • Haai Rynie - ek waardeer jou briefie VERAL.  Goed gaan en baie seën!

      • Liewe ds Jimi

        Die Here is wonderlik.  Nadat ek jou geantwoord het en jou skrywe weer en weer gelees het, het die Heilige Gees hierdie vuur (geesdrif) in my dringend gemaak om by die Kerk uit te kom.  Ek het ongelukkig toe nie meer geweet hoe nie - ek was skaam (oor maande se afwesigheid) en bang dat die mense my sal verwerp en dat die mense sal dink ek is 'n slegte mens omdat ek nie Kerk toe gegaan het nie.  Toe skryf ek aan ons 2 di en die een reageer onmiddellik en kom besoek my en dit was soos 'n dam wat se walle meegee en ek stort my hart uit.  Sy beveel toe aan dat ek iemand van die selgroep (wat ek net so verskriklik afgeskeep het die afgelope 2 kwartale) moet kontak wat saam met my kerk toe sal gaan.  Ek doen dit en weet jy wat ? - die selgroep, die gemeente, GOD, almal het my met ope arms verwelkom.  Ek het so gekoester en beskermend deur Jesus gevoel.  EN..... dit was Nagmaal.  Wat sê dit van ons Here?..Nie net het Hy my onvoorwaardelik vergewe nie, maar ook die geleentheid geskep vir my vir 'n volledige belydenis en afwassing van my sonde nl 'n skuldige gewete.  Ek was oorstelp.  Ek is so lief vir die huis van die Here ek kan nie dink "what took me so long to realise this" nie.  Ek is tuis by my Here en die Kerk en my geloofsgemeenskap en die onverdiende goedheid en vrede van God wat alle verstand te bowe gaan.  Jou skrywe het al hierdie gewaarwordinge in my wakker gemaak.  Ek sê vir jou baie baie dankie.  Seënwense. Rynie.

        • Dis 'n WONDERLIKE terugvoer, Rynie - waardeer dit so...  Baie, baie seën!

This reply was deleted.