Forum 2.0

ANTWOORD OP... skinder

Vraag

Ek kuier gereeld by 'n dierbare vriendin.  Sy is baie opreg en beslis 'n Jesus-kind.  Ek word egter dikwels ingetrek om te skinder oor ander mense.  Dit maak my telkens ongemaklik.  Hoe moet ek dit hanteer?

Antwoord

Kom ons wees eers eerlik

Ek voel altyd ons moet heeltemal realisties wees.  Oorgeestelikheid is baie vroom, maar as dit nie die waarheid is nie, gaan dit nie vrymaak nie.  Soms verwag ons dinge wat niemand – nie eers ek of jy – kan hou nie. Ek dink die volgende is die waarheid rondom skinder:

1) Ons praat almal van ander mense.  Dis normaal en is nie verkeerd nie.  Ons mag maar!

2) Om van ander mense te praat, of dalk om te skinder, word deur sielkundiges beskou as ‘n normale en gesonde stuk sosialisering.  Deur ‘n ander te bespreek bou ons ons eie verhoudings (onder mekaar) en maak ons seker ons is almal “op dieselfde blad”.  Ons wil m.a.w. uitvind of ons nog reg is deur sekere gedrag as afkeurenswaardig te beskou – stem die ander saam?  Dit is groepsgedrag (ons is mos kuddediere) en een van die maniere waarop die groep besluit wie is in en wie is uit. Op die manier handhaaf ons die goeie grense, goeie sedes en goeie maniere - en dis mos ‘n goeie ding!  Verder is die intieme geselsies gesond vir die liggaam, in die sin dat dit die bloeddruk laat sak, ons laat ontspan en sulke gesonde dinge.   Dis nou die goeie kant van “lekker skinder”…

Waar trek ons die streep?

3) Vir my persoonlik kom die streep tussen lekker geselsies en kwaadwillige geskinder by die volgende punte:

  • As ons nie meer in die waarheid is nie.  As iemand iets gedoen het en dis sleg kan ons bevestig dat dit sleg is, ja.  Soms egter, werk ons met gerugte en soms met patente leuens.  Stories kry stertjies – en ons las ook nog stertjies by.  Dalk moet ons net uitvind wat werklik gebeur het.  Meestal is daar ‘n ander kant van die saak, of inligting waarvan ons nie weet nie.  Soms wil ons nie ‘n sappige storie bederf met die feite nie, en vertel hom maar op die sappige manier – dis mos lekker as mense aan jou lippe hang!  Die een wat inligting het wat ander nie het nie, het mos mag in ‘n groep (‘n hartseer tipe mag as dit ‘n skinderstorie is, maar dis maar soos dit gaan).  As ons egter leuens oorvertel is ONS die verkeerde, slegte of swak een!  Leuens verstrik ons en dit kan maklik gebeur dat die vinger na ons wys as die een wat leuens vertel.  Dis beter om eerder te sê “dalk moet ons wag vir die feite”, “ek sal vir ons uitvind wat werklik gebeur het” of net”sjoe, dis moeilik om te glo”.  As ek regtig nie (verder) wil deelneem nie sal ek net sê “nee, ek kan dit nie glo nie!”  Ek hou net daarby!
  • As ons nie meer in die liefde is nie. Hou ten minste presies by die waarheid, ja - maar die waarheid hoef ook nie altyd met almal gedeel te word nie. Kyk, dit kan nie van ons verwag word om van almal te hou nie, en ons sal ook nie – en almal hou ook nie van ons nie!  Om in liefde op te tree moet ons egter reg optree, selfs teenoor diegene van wie ons nie baie hou nie.  Dit beteken bv. dat ons dit erken as selfs ons vyand goed gedoen het, of reg is. Dit beteken ook dat ons nie leuens hoef te versprei oor ons vyand nie – die waarheid oor hulle is waarskynlik al erg genoeg!  Dan kry jy dit dat ‘n geskinder gevoer word deur mense wat eintlik jaloers is op die een wat beskinder word.  Nie waar nie?  Ek maak ‘n ander, wat my bedreig of oortref, maar ‘n bietjie af – en so lyk ek self beter.  Dis liefdeloos en swak .  Dis nie ‘n konstruktiewe manier om ons minderwaardigheid te hanteer nie!  Ek voel baie keer die skinderaar is eintlik ‘n swakker persoon as die beskinderde (ja, ek dink ek maak nou die woorde op)!  Dis ook werklik vals om voor ‘n persoon die ene vriendelikheid te wees en agter hom of haar geniepsig.  Nee, mense!  Is ons Christene of wat?  Soms is ‘n saak dalk waar, maar ons hoef ook nie elke fout uit te lig nie. Kom ons beskerm mekaar eerder.  Kom ons laat die liefde eerder ‘n fout bedek, kom ons los die ou koeie en gee iemand ‘n kans op ‘n nuwe begin.  Kom ons bewys genade.  Dis ironies dat die hand wat die vinger wys, mos vier vingers terugwys (of ten minste drie).  Die skinderaar is self ver van volmaak af (hy of sy is bv. ‘n ou skinderbek), maar wys nog steeds vingers!  In sulke gevalle sal ek altyd geneig wees om ook iets goeds van so een by te voeg: “ja, maar dis omdat sy vir haar kinders omgee”, of “ja, maar wat sou ons gedoen het?”  Ja, ek is maar ‘n treurige skindermaat - en ek dink DIS my advies vir jou, word 'n treurige skinderaar!  Soms bly ek net langer stil – ek hoef nie saam te stem nie.  Of ek verander die tema heeltemal.  Mense kry dan die boodskap: ek word as ‘n regte ou drip beskou, maar word ten minste die stories gespaar.

4) Ons weet dat dit in die praktyk maar ‘n moeilike saak is.  Ons wil nie onsosiaal, ongemanierd of ‘n regte ou drip wees nie – en aan die ander kant wil ons mos ook skinder, dis lekker…  Baie keer is ons ongeïnspireerd om oor mense te skinder, behalwe oor ons geliefde skindertemas – m.a.w. ons eie gunsteling-vyande.  Dan trek ons lekker weg!  Baiekeer is ons de facto aan die skinder voor ons besef ons voel nou nie meer lekker oor die gesprek nie.  Die grens is werklik vaag!  Dan is dit die beste om dadelik en eerlik te sê: “Wêreld, ons skinder nou behoorlik – Marie het darem ook haar goeie eienskappe!”  Noem skinder by die naam en kry dit agter jou.  Vra vanaand dan maar vir die Here om jou te help om nie weer tot IN daardie situasie te vorder nie - na jy vergiffenis gevra het, né?  Stop die skinder betyds deur die gesprek te beheer en te bestuur – moenie ‘n slagoffer en meegesleepte wees nie (daardie woord ook nou net gemaak)! 

Laat die Here eerste kom en jou goedvoel tussen ander tweede.  Ons sal maai wat ons saai.

Sterkte!

You need to be a member of jimileroux30 to add comments!

Join jimileroux30

Email me when people reply –