Forum 2.0

Antwoord op... SPREEK IN TALE

Vraag:

Ek wil ook graag in tale spreek, maar die Here gee dit nie vir my nie.  Ek doen alles wat ek kan, maar niks gebeur nie. Met alle respek aan die Vader, maar ek weet nie waarom Hy my wegwys nie?

Antwoord:

Ek sit my antwoord met 'n bietjie huiwering op, want dit mag wel vir sommige mense vreemd wees. Jou agtergrond is dalk anders - dalk dink jy spreek in tale is verkeerd of ontoepaslik of dalk dink jy ek gaan te ligtelik daarmee om. Nogtans is hierdie my storie en dit is soos ek "tale" beleef en verstaan...

Ek sal jou eers my storie vertel:

Ek het groot geword in ‘n tradisionele kerkomgewing, maar met ‘n klem op "bekering en wedergeboorte".  Toe het ons die vernuwing van die Heilige Gees beleef - sewentigs en tagtigs van die vorige eeu.  Die sg. charismatic renewal. Ons het geleer van die gawes en die werking van die Gees.  Ek wou ook baie graag “gedoop” word met die Gees (soos dit genoem word, maar ek verkies vandag om ander woorde daarvoor te gebruik) en in tale spreek en het verskeie male uitgegaan dat mense vir my bid.  Hulle het regtig hard probeer (met allerhande instruksies van hoe ek moet maak), maar daar het nooit iets gebeur nie.  Ek het lank daarmee gewroeg – ook maar gedink ek is nie waardig nie, ens. Waar die tale baie beklemtoon word, is die wat nie in tale spreek nie maar tweedeklas Christene - vandaar die groot behoefte!  By Hatfield (jare gelede, onthou) het hulle ook eenkeer vir my gebid en my "confuse" deur te sê ek hoef nie in tale te spreek nie (om met die Gees gedoop te wees nie).  Ek glo dit inderdaad ook so, maar wou toe nog erg in tale spreek.  Ek het darem ‘n belofte by die Here gekry dat Hy dit vir my sou gee as ek dit nodig sou hê.  Toe het ek in ‘n sin daarvan vergeet.  Jare later was ek ‘n leraar in ‘n gemeente en uitgeroep na ‘n sterwende persoon in die destydse HF Verwoerd hospitaal in Pretoria.  Ek het op pad daarheen (in die  motor) oor die afspraak gebid.  Daarna was ek steeds in ‘n gebedstemming en het maar net die Here geloof vir sy goedheid en genade.  Skielik het ek besluit om in tale te bid – weet nie hoekom nie, en onthou ek kon nie! Dis asof ek net besluit het om te begin. Onmiddelik was ek in staat om dit te doen.  Ek was baie bly – na al die jare het ek ook die gawe gehad.  Sedertdien bid ek in tale as ek wil - ek doen dit as ek nie eintlik ander woorde het nie. Dis asof ek dit die laaste tyd minder gebruik. Ek kan dit egter enige tyd doen. Eers toe ek self in tale gespreek het, het ek ‘n paar dinge daaroor skielik verstaan (en dis my persoonlike belewing):

Hoe ek tale beleef het:

Ek glo...

  • dit is ‘n “normale” vermoë en ek glo enige mens kan in beginsel in tale spreek;
  • dit was duidelik wat hulle bedoel dat ‘n mens moet "begin" om in tale te spreek – dit is in jou beheer.  Dit gaan nie net met jou gebeur nie. Jy moet begin;
  • dit gebeur op ‘n syspoor van die normale spraakmeganisme – volgens my is dit amper soos om in daardie 3D prente te kyk, waarvan jy vroeër baie gekry het.  As jy daarop fokus, kan jy dit nie sien nie.  Jy gedagtes moet so half wegdwaal.  Dis moeilik om dit beter te verduidelik - dit gebeur nie vreeslik bewustelik nie;

Om in tale te spreek was vir my ‘n groot doelwit, maar toe ek dit kon doen, was dit ewe skielik nie meer so belangrik nie.  Ek het Paulus beter verstaan dat hy dit altyd aan die einde van die lys gawes sit.  Dit is nuttig op sy tyd (veral as jy nie weet wat om te bid nie), maar verder "doen" dit nie veel (wat mens kan sien) nie  - maar ek weet die Here doen sy werk onsigbaar vir my oë...  Ek het net besef dit is nie die be all and end all van gawes nie – dit het ook regtig nie so ‘n groot klem in die Bybel nie.  Dis asof sommige mense te veel daarvan maak. Ek kan net so goed ‘n kind van God wees daarsonder, en baie wat nie in tale spreek nie dien die Here baie beter as baie wat wel in tale spreek - soos ek.  Dis vir my sleg dat sommige met tale minder vrug-van-die-Gees dra as baie van die sonder tale.  Ek weet egter charismatics onderskei gawes van vrug. Dis egter dieselfde Gees en Hy het steeds dieselfde doel!

Is tale die teken van die doop met die Gees?

Pentecostals glo tale is die teken van die "doop met die Gees" (tale as teken) vs. die charismatics wat glo dit is een van die gawes (tale as gawe) en dat daar baie "tekens" kan wees.  Die pentekostalistiese of Pinkster-gelowiges is gewoonlik die in die "ou" Pinksterkerke soos AGS, Volle Evangelie, Assemblies, PPK, Pentecostal Holiness, Spade Reën, e.a. Ek kan nie sê of hulle almal dit nog presies so glo nie. Die charismatics is gewoonlik die nuwer, onafhanklike kerke, ook die charismatiese megakerke, asook die vernuwingsbeweging in die tradisionele kerke. Ek huldig die opinie van die tweede groep.  Ek glo die Skrif en die praktyk leer dat 'n ontmoeting met die Gees nie 'n enkele "second blessing" is nie, maar deurlopende geleenthede van toerusting, versterking of seën, geestelike mylpale langs die pad.  Ek glo die Skrif en praktyk leer dat tale nie die enigste teken van 'n Gees-ontmoeting is nie, want ander gawes of gevolge kan wees lof en vreugde, getuieniskrag, nuwe toewyding en die ander gawes, waarvan daar verskeie is.  As ons tale as die enigste teken sien lei dit tot ongesonde en onbybelse gewoontes. Sommige wil dit bv. kunsmatig forseer, soos dat mense net baie vinnig heeltyd "halleluja" moet sê (om te begin) of dan as hulle enige vreemde woord gesê het (om dit nooit weer te herhaal nie) is hulle ook nou "gedoop", alhoewel NIKS in hulle lewe verander het nie.  Dis NIE waaroor dit gaan nie!  Dan is dit algemeen dat sommige, wat nou nie hierdie ervaring kry nie, moet voel hulle is ongeestelik, ongeesvervuld en minder werd - tweedeklas Christene - terwyl dit glad nie so is nie.  Nee, ek glo glad nie aan tale as teken nie.  Ek dink die uitleg en die praktyk word geforseer en daar is nou weer 'n formule gemaak, 'n 1-2-3 skema, one size fits all.  God werk nie so met mense nie.

Hoe spreek jy in tale?

As jy regtig begerig is - en die Here sê ons kan ons uitstrek na die "beste" gawes (m.a.w. na profesie, 1 Kor 14) - kan jy die volgende weg volg. Ek glo ons ontvang gawes in geloof, beoefen dit in geloof en groei daarmee in geloof.  Laat gerus dat iemand vir jou bid - dit is inderdaad die Bybelse voorbeeld. Met my het dit egter privaat gebeur. Ek sou sê dat jy na worship-musiek moet luister en die Here werklik aanbid. Mens verloor jouself 'n bietjie daar, nie waar nie? Dit gaan maar oor ekstase, wat die wêreld nou ook al daarvan sê (dis deel van die geestelike belewing). Dan begin jy net om woorde te sê wat nie eintlik sin maak nie.  Hou net aan en jy sal vind dat dit toeneem en sy eie ritme vorm. Later (of vroeër) vloei dit maklik. Ek weet dit klink snaaks. Onthou, "tale" is nie eintlike TALE (languages) nie, dis eintlik TONGE (tongues) - dis "tongespraak" (speaking in tongues/"glossolalie") - dis vreemde klanke, soos die Nuwe Vertaling dit eers, heeltemal tereg, vertaal het. Wat as niks gebeur nie, of jy voel jy is nou nie ge-wire vir sulke dinge nie? Los dit by die Here! Almal het NIE dieselfde gawes nie, en Paulus spel dit uit dat almal NIE in tale spreek nie (1 Kor 12:30). Dit maak jou NIE 'n tweedeklas Christen nie.

 

You need to be a member of jimileroux30 to add comments!

Join jimileroux30

Replies are closed for this discussion.