Forum 2.0

Antwoord op... TATOEëRING

Ek het onderneem om iets oor tatoeëring te skryf, en het ook nou te lank uitgestel.  Die saak is eintlik heeltemal eenvoudig, maar laat ek maar net eers die opinies stel:

1) die tradisionele beskouing is dat die Bybel tatoeëring vir ons uitdruklik verbied in Lev 19:28, en dit is die einde van die argument – wat is eintlik dan nog te sê na so ‘n duidelike opdrag (Ou Vertaling):

Julle mag ook ter wille van ‘n dooie geen snye in julle vlees maak nie en

 geen ingeprikte tekening in julle vel maak nie. Ek is die HERE.

 

Die Jode sit om hierdie rede ook geen tatoeëring op nie, en die wat ‘n tatoeëring op het, mag (tradisioneel) nie in ‘n Joodse begraafplaas begrawe word nie.

2) die meer resente beskouing (onder sommige) is dat die bg. uitleg nie korrek is nie en nie oor tatoeëring gaan nie, maar oor iets anders, of nie op ons van toepassing is nie, en dat tatoeëring dus OK is.  Daar is dus ook Christene wat tatoeërings laat opsit, en daar is selfs spesifieke Christelike tatoeëer-winkels en daar is ‘n groot bedryf rondom die tatoëer van kruise en ander Christelike simbole.

Die agtergrond van tatoeëring is natuurlik maar negatief.  Let op:

·         Heidene het hulleself getatoeëer, en het spesifiek hulle gode se naam op hulleself gekerf. Tatoeëring is dus geassosieer met barbaarsheid (selfs deur die Romeine) en afgodediens.  Die heidene het hulleself ook algemeen as rougebruik stukkend gesny – uit hartseer, maar ook as ‘n soort offer.  Selfs die Jode het op ‘n stadium meegedoen.  Die bg. vers verbied beide hierdie gebruike uitdruklik;

·         Slawe en oortreders is natuurlik gebrandmerk;

·         Nader na ons tyd was dit gewoonlik maar die rowwe ouens wat tatoeërings gedra het: matrose, gangsters, bikers, tronkvoëls, die hardebaarde …   M.a.w. tatoeëring was ‘n teken van rebellie.  Juis omdat dit onaanvaarbaar was, het die rebelle van die samelewing dus vir hulle ‘n hartjie (soms met ‘n “MOTHER” daarmee saam!), ‘n anker, ‘n swaeltjie, hulle bendenaam, ens. op hulle laat uitkerf – dikwels maar swakkerig gedoen;

·         Dan is daar ook diegene wat hulle hele arm, rug ja tot gesig en alles laat tatoeëer – ‘n wandelende rariteit wat die verkeerde soort aandag trek.

Tatoeëring het tradisioneel dus maar ‘n slegte naam.  Konnotasies met tatoeëring is dat dit steeds die rowwe ouens is wat tatoes dra, dat dit steeds uitdagend en onkonvensioneel is. 

Kom ons keer terug na die Bybel.  Kan ons dan nog iets sê na die bg. duidelik teks?  Ja, eintlik baie! Let op:

1) Die teks is wel deeglik duidelik daar in Lev 19.  Die Jode verstaan dit uitdruklik en is heeltemal reg as hulle dan nie tattoeëer nie.

2) Kom ons lees egter net een vers terug (v27):

Julle mag die rand van julle hoofhare nie rond wegskeer nie.

Ook mag jy die rand van jou baard nie skend nie.

 

Ordodokse Jode hou ook hierdie gebod nog net so – Joodse mans laat hulle baard groei en skeer dit nie netjies met ‘n rand nie.  Sommige laat hulle hare aan die sye van hulle kop lank groei en draai dit in sulke krulle.  Het jy dit al gesien?  Dis om hierdie vers gehoorsaam te wees.  As Christene volg ons egter nie hierdie gebod nie.   Hoekom ignoreer ons dan die een vers en gehoorsaam dan die volgende een?

3) Kom ons lees nog ‘n vers terug (v26):

Julle mag niks met bloed en al eet nie.

Julle mag nie met verklaring van voortekens of goëlery omgaan nie.

 

Die eerste gedeelte het te doen met ‘n belangrike Kosher-reël , wat die Jode net so volg.  Ons eie vleis is egter nie Kosher geslag nie, en geen Jood sal sy mond daaraan sit nie.  Hulle koop vleis net by ‘n Kosher slagtery, nie by Checkers of Pick & Pay nie!  Ons volg dus ook nie hierdie reël nie.  (Wat die tweede opdrag betref, hou ons dit omdat dit in die Nuwe Testament vir ons bevestig word).

4) As ons nog teruggaan (v19), sien ons ‘n opdrag dat ons nie twee soorte saad in dieselfde land mag saai nie, dat ons nie twee soorte klere saam mag dra (bv. linne en wol) nie, ens.  Ons doen dit ook nie – sover ek weet probeer die Jode dit wel nakom.   Twee verse vorentoe (v30) lees:

Julle moet my sabbatte hou en my heiligdom ontsien. Ek is die HERE.

 

Ons hou as Christene ook nie die Joodse Sabbat nie, en rig nie ons geloofslewe op die (Joodse) tempel nie (wat natuurlik nie meer bestaan nie – maar sou ook nie al het dit nog bestaan).  Lees maar self verder in daardie hoofstuk na dinge wat ons ook nie meer doen nie (bv. die reëls van wanneer ons van ‘n boom se vrugte mag eet  -  eers in die vyfde jaar van dra (v23-25), ens.  Daar is natuurlik ook dinge daar wat ons wel doen, maar weereens is dit dinge wat uit die Nuwe Testament vir ons bevestig word.

Hoe moet ons dit dan nou hierdie vers verstaan?  Let op:

1) Ons is nie langer onder die Ou Testamentiese  wet nie.  In Romeine en Galasiërs maak Paulus dit duidelik dat Jesus ons losgekoop het van die wet en dat Christene, veral Christene uit die heidendom (soos ons) nie eers Jode hoef te word (en die wet te hou, met offers, besnydenis, Sabbat, eetreëls, ens.) ten einde Christene te kan wees.  Hy sê dat ons die wet volkome nakom as ons deur die Gees gelei word.  Lees Romeine 7-8 en Galasiërs 2-5.  Nie alles wat in die Ou Testament as wette vir die Jode gestel word, is dus langer op ons van toepassing nie – soos ons ook in hierdie hoofstuk sien.

2) Hoe kan ons dan onderskei wat in die Ou Testament van toepassing is en wat nie?  Wel dis inderdaad ‘n gryserige area, maar ons onderskei  tussen die kultiese wet en die morele wet.  Die eg. is duidelik spesifieke sake bedoel vir Jode in hulle konteks, hulle hele kultiese stelsel (offers, tempel, feeste, ens.), of dit is die toepassing van ‘n algemene waarheid in hulle antieke kultuur en dieselfde waarheid sal in ons tyd ‘n bietjie anders toegepas word.  Die lg. is meer algemeen van aard – die Tien Gebooie is ‘n goeie voorbeeld – en is duidelik geldige beginsels vir alle tye en mense.  ‘n Ander nuttige maatstaf is hoe Jesus dit hanteer het, want Hy het klem gelê op die essensie van die wet, en by ander geleentheid eenvoudig ‘n streep getrek deur ‘n Ou Testamentiese wet (bv. Mat 5:38).  Sy eie wet is dat ons mekaar moet liefhê (Joh 13:34) – dit is die vervulling van die hele wet (Rom 13:10).

3) Die kwessie van tatoeëring val duidelik onder die e.g. kultiese wette.  Dit het te doen met spesifieke heidense gebruike waarvan die Jode hulleself moes weerhou  (soos die hele hoofstuk ten doel het in die konteks).  Dit het te doen met:

·         Afgodediens

·         Rougebruike

4) In die Nuwe Testament is daar geen verdere verwysing na tatoeëring nie.  Paulus sê ons liggame is ‘n tempel van die Heilige Gees (1 Kor 6:19-20), en dat ons God in ons liggame moet verheerlik.  Dit is inderdaad ‘n belangrike beginsel, maar Paulus bedoel daar dat ons nie seksuele sondes moet begaan nie.  Dit is ‘n vergryp aan ons liggaam, wat God se liggaam is.  Dit is ‘n ope vraag of die gedagte  sou impliseer dat ons nie aan ons liggame mag “verbeter” nie.  Wat dan van:

·         Kosmetiese operasies (ook ‘n permanente “verbetering” van die liggaam)

·         Ortodontiese behandeling (ook permanent)

·         Operasies om gebreke reg te stel

·         Hare kleur, mooi aantrek, gym toe gaan, ens. om ons liggame “mooier” te maak?

Dit is te betwyfel of Paulus sulke dinge bedoel – hy skryf bv. nie teen sport nie – wel teen ydelheid!  Die Nuwe Testament se hele klem is eintlik weg van sulke tipe wettisisme af, en meer na ‘n wandel deur die Gees en ‘n lewe van liefde.  Daar is sekere dinge in die Nuwe Testament (bv. die eet van offervleis, die vier van ‘n spesiale dag (Sabbat) wat Paulus oorlaat aan die gewete van die Christen (sien Rom 14) en tatoeëring val heel waarskynlik onder sulke temas.  In Openbaring lees ons interessant dat die Here SY NAAM op ons sal skryf  (Openb 7:3, 14:1, 22:4) – aan die einde van die tyd is Hy dan die Groot Tatoeëerder?  Weereens sien ons dat tatoeëring ‘n geestelike konnotasie kry – getatoeëer (“gemerk”) nie vir die afgode nie, maar vir God.  Toh sê hierdie vers eintlik niks oor tattoeëring as sulks nie.

5) Mense vandag bring tatoeërings aan om heeltemal ander redes as waaroor Lev 19 skryf:  dit gaan nou:

·         Nie meer oor afgodediens nie

·         Nie meer oor rou nie

·         Nie meer oor rebellie nie (maar ek wonder of daar nie maar ‘n ietsie rebels oor is nie, nè?)

·         Maar wel oor die versiering van die liggaam, of dan ook omdat hulle dalk iets simbolies permanent wil maak: die naam van ‘n geliefde (eggenoot of kind), spesiale gebeure, spesiale simbole, en sommige Christene bring tatoeërings aan om God te eer en hulle verhouding met Hom te bevestig.

Ons afleiding uit die Nuwe Testamentiese perspektief is dat tatoeëring nie vir ons verbode is nie.   Beteken dit dat ons almal nou tatoeërings moet gaan kry ?  Nie sommer nie!  Let ook op die volgende:

·         As jy onder jou ouers se gesag is en jy word verbied, moet jy as kind van God jou daarby neerlê.  Jou gehoorsaamheid is belangriker as jou vryheid.  So ook as jy aan ‘n gemeente behoort wat dit afkeur.  Jy is nie ‘n rebel nie;

·         Daar is die praktiese wat jy in ag moet neem:

o   ‘n tattoe is permanent.  Dit word nooit weer verwyder nie (beswaarlik).  Die ontwerp  wat nou mooi is, is dalk oor tien jaar totaal uit die mode.

o   Jy word ouer en jou vel verouder.  Die voëltjie lyk word dalk ‘n volstruis, die bytjie ‘n bewer en die cute design op jou kuit ‘n blote rooi vlek.

·         Sal jy ‘n leeftyd met die spesifieke ontwerp en die spesifieke plek wou saamleef?

·         Sal jou tatoeëring God eer?  Baie tatoeërings is drake, slange en skedels – wat natuurlik die konnotasie van rebellie versterk.  Dit eer nie die Here nie.

·         Sal jou (toekomstige) lewensmaat tevrede wees met jou tatoeëring (veral as jou tattoe “Cindy “ sê en haar naam “Petra” is)?

Waarom wil jy jouself laat tatoeëer?  Ek sou sê hierdie vraag moet eers goed geantwoord kan word voordat jy iets so drasties soos ‘n tatoeëring oorweeg.  Gaan dit oor ydelheid?  Wat is die boodskap wat jy daarmee wil uitstuur?  Is daar dalk ‘n minder ingrypende manier hoe jy daardie boodskap kan oordra?  Praat eers met die Here daaroor – ons is onder sy gesag en leef nie vir onsself nie.

Persoonlik sou ek sê dat ‘n kind van God net tatoeërings moet laat opsit wat te doen het met sy geestelike lewe, of dalk ook iets wat intense persoonlike betekenis het.  Een is genoeg, mense, en dan ook daar waar ek (of jou toekomstige baas) dit nie noodwendig kan sien nie!

‘n Eeue-oue voorbeeld van ‘n Christelike tatoeëring is die kruis wat baie Kopte (Egiptiese ortodokse Christene) op hulle regterpols laat aanbring as getuienis vir Jesus in ‘n oorwegend Moslem-land.  Hul is op ‘n stadium so deur die Moslems gemerk (het hulle vir my gesê), en dra dit sedertdien as ‘n ereteken.  Daar is ook ander voorbeelde.  Lees meer daaroor by: 

http://www.christianitytoday.com/ch/bytopic/missionsworldchristianity/tattoosofthecross.html

Dalk is die oplossing om nie ‘n tatoeëring te laat opsit nie. 

Of dalk nie nou nie. 

Of dalk net ‘n tydelike een. 

Wees tog wys.

If in doubt, don't - dis PERMANENT!

 

 

You need to be a member of jimileroux30 to add comments!

Join jimileroux30

Email me when people reply –