Forum 2.0

Wat word van diegene wat nooit die evangelie gehoor het, of nie behoorlik kon verstaan nie? Is hulle almal verlore? My dominee sê hulle is, want hulle was nie uitverkies nie.

Moeilike vraag, hoor! Op watter kriteria antwoord jy? Bybels (wat net hier en daar iets sê), teologies (en dan moet ons een kies, die gereformeerde leer is 'n voorbeeld) of jou eie aanvoeling daaroor, wat jy ook vertrou die Gees se stem in jou insluit? Iets van alles, dink ek. Feit egter, sommige gaan van jou verskil, maar ja... 

  • Ons praat m.a.w. hier minstens van babas, klein kinders, verstandelik gestremdes en mense wat nog nie (genoeg) van die Here gehoor het, sodat hulle kon besluit nie.
  • Die (gereformeerde) uitverkiesingsleer leer dat diegene wat uitverkies is tot bekering sal kom, sal glo, sal volhard en so gered word. Geloof is die manier waarop ons God se toegesegde genade toe-eien. Die bg. persone doen niks van die bg. nie (alhoewel hulle nie kon nie) en word buite die geloof om salig. Dis Bybels en teologies 'n moeilike gedagte.
  • Aan die ander kant gaan dit teen ons sin vir regverdigheid as mense wat nie eers 'n kans gehad het - geen kans op aarde - gestraf word, selfs pasgebore babas, en dan nog met iets so vreeslik soos die ewige foltering van die hel. Dit kan eenvoudig nie. Ek glo ons kry ons sin vir regverdigheid van die Here, wat daarop aandring dat ons die reg handhaaf. Dis 'n baie groot tema in die Bybel en deel van die konsep geregtigheid. Ons sal dus nie babas, kinders of ontoerekeningsvatbares straf nie. Die Here sal dus ook nie anders optree nie.

Hoe dink ek daaroor? In die volgende lyne:

  • Ek glo eerstens aan die Here as ‘n regverdige Vader. Ek sien Hom as die mees volwasse en redelike wese, sonder om weg te neem dat die loon van die sonde die dood is. Dit sluit vir my in dat die wat geen kans gehad het om te reageer nie, regverdig behandel sal word.
  • Ek glo dat ek die Here kan vertrou vir daardie dinge, want Hy is meer regverdig as enige mens. Hy is die standaard van regverdigheid. Ek hoef my eintlik nie daaroor te bekommer nie.
  • Ek glo ook mens kan nie te diep op die saak ingaan nie, want die Skrif sê nie baie van die wat nooit gehoor het of behoorlik kon reageer nie. As die Skrif oor sulke dinge praat is dit nooit 'n les oor die tema nie, maar brokstukke in verskillende kontekste en literatuurtipes. Dit is gerig aan die wat KAN glo. Ons moet daaruit nou 'n lering of teologie saamstel, wat net gedeeltelik moontlik is. Ons moet dit nie te ver probeer druk nie en eerder staan by die feit dat ons nie verder weet nie
  • Ek sien in Rom 2:6-11 dat God Jood en nie-Jood sal oordeel op sy lewe, die Jood op die Joodse wet, en die nie-Jood op die wet van sy hart, nl. sy eie gewete. Die oordeel sluit straf EN loon in (2:14-16). Mens moet egter nie te veel gewig heg aan hierdie verse alleen nie, want dit staan in die konteks van die hele brief, en Paulus wil eintlik sê dat Jood en nie-Jood te kort skiet. Dit  sê egter tog dat God die persoonlike gewete in ag neem. Elders sê Jesus en Paulus ook dat God ons oordeel op ons werke, maar ja, Hy praat met gelowiges. Dis m.i. die naaste aan 'n "teksvers" wat ons in die verband kry.
  • Die saligheid word toegeeïen deur die geloof, ja korrek, maar ons kan nie sê dat geloof self ons red nie. Geloof is nie 'n werk of 'n meriete nie. God red ons, deur Jesus se werk aan die kruis, en ons aanvaar dit bloot in die geloof. Genade red ons. Ons kan hiermee die geloof relativeer. Sommige KAN immers nie glo nie.
  • Ek sien die uitverkiesing eerstens as ‘n korporatiewe saak, eerder as ‘n individuele saak. Dis soos die OT se uitverkiesing (van die volk) ook werk. Die volk as sulks was uitverkies en individue kon tot daardie verbond toetree (soos Rut) of uittree (soos menige ongehoorsame Jood). Die wat Christus aanneem is “in Hom” uitverkies, omdat die redding "in Hom" is. Verder is die uitverkiesing ook nog ander dinge. (Ons moet met die uitverkiesing deel, want dis 'n Bybelse feit).
  • Op grond van die bg. glo ek dat babas en almal wat ontoerekeningsvatbaar is by God se genade ingesluit is, op grond van die kruis van Jesus. Duidelik is geloof slegs bedoel vir die wat KAN glo.
  • Dis OF dit OF ons moet die kwessie van verlorenheid en die hel anders sien. Sommige glo letterlik “die loon van die sonde is die dood” (m.a.w. die ewige dood, vir ewig DOOD – nie vir ewig leef in die hel nie), “maar die genadegawe van God is die ewige lewe”. M.a.w. almal sterf en dis verby, maar die gelowiges ontvang die gawe van die ewige lewe. Die Jode sien die hel weer - waarby die katolieke aansluit - as 'n plek van reiniging. Dis waaroor die beeld van die vlamme gaan. Die bg. is egter ook problematies en die my oplossing hierbo is beter.

Dis al wat ek op die stadium kan of wil sê. Ek wil nie eintlik oor die gereformeerdheid stry nie (is self 'n dominee, maar ook 'n bietjie post-gereformeerd), want ek is nie op ‘n plek in my lewe om oor sulke dinge te stry of te redeneer nie…

You need to be a member of jimileroux.com to add comments!

Join jimileroux.com

Email me when people reply –