Forum 2.0

Ek antwoord net vinnig – die teksverwysings word geïmpliseer en is hopelik herkenbaar...

Ons het soms die idee dat die OT en NT twee radikale verskillende goed is. Daar is natuurlik definitiewe verskille, maar mens moet ook nie te erg veralgemeen nie. Dit sal dan daarop neerkom dat God eers een stel reëls gehad het, en toe ‘n ander stel – dit wat vir Hom eers belangrik was, is nou onbelangrik, en sulke dinge. Die wat sinies is sê sommer die God van die OT en die God van die NT is verskillend. Maar dis nie waar nie. Ek dink mens moet ook oplet na die ooreenkomste:


• Sowel Ou en Nuwe Testament het ‘n baie sterk aanspraak op die nakoming van God se wil. As ons die OT sedewet (algemene morele wet soos die Tien Gebooie) losmaak van die (spesifiek Joodse) kultiese wet, sal ons sien dat die sedewet net so sterk gehandhaaf word in die NT: Jesus sê geen jota of titel sal verlore gaan nie, trouens Hy sê as ons onderhouding van die wet nie beter is as die Fariseërs s’n nie, is ons verlore. Hy sê ook bv. vir die Ryk Jongman dat hy die wet moet hou en dan sal hy lewe. Ook Paulus (die OT was natuurlik hulle Bybel) lys die sondes van die 10 gebooie af. Hy sê ons is vry van die vloek van die wet (die straf of gevolge) deur Christus, en as ons die Gees in ons het, lei Hy ons om aan die bedoeling van die wet te voldoen. Jakobus stel ook enige misverstand reg dat geloof sonder werke ‘n opsie is. In werklikheid gaan die NT nie oor OF ons die wet (as uitdrukking van God se wil) moet nakom nie, maar HOE ons dit moet nakom. Ons doen dit deur te aanvaar dat die straf vir ons wetsoortreding deur Jesus gedra is, en dat ons nou God se wil in die vryheid van die Gees kan pursue.


• Ons moenie dink die OT ken nie geloof en genade nie – dat dit alles net wet en verpligting is nie! Nee inteendeel, die hele OT is vol daarvan dat ons op die Here sal vertrou, op hom staatmaak, sal steun en op Hom sal wag. Dit is alles verskillende woorde om die konsep van geloof te beskryf [ons moet ook nie dink dat geloof in die Bybel (soos ons dit dikwels sien) ‘n verstandelike instemming tot ‘n saak nie – nee dit is ‘n vertrouens-verhouding]. Dink maar aan hoe Dawid in die Psalms sy vertroue (m.a.w. geloof) in God uitspreek. Dan, wat genade betref, het reeds die ou Israeliete geweet dat hulle nie die wet hou soos dit moet nie – dan het hulle hul op God se genade gewerp. “Straf ons nie na ons oortreding nie, Here, maar na u groot ontferming”, is hulle gebed. “Dink daaraan dat die mens nietig is.” Hulle hele verootmoediging is daarop gerig om God se vergiffenis en genade te ontvang.
Nee, die OT en NT het baie dieselfde boodskap – God se wil is in beide dieselfde. In die OT sien ons hoe dit in die ou Joodse kultuur kontekstualiseer en in die NT sien ons wat dit beteken in die Grieks-Romeinse wêreld. Ook ons moet God se wil in die OT en NT raaklees en in vir ons tyd verstaan en doen.

In die praktyk lees ons die OT wel in die lig van die NT. In daardie sin is die NT die sleutel tot die OT. Nie dat ons nie die OT moet verstaan NET soos dit daar geskryf staan nie, maar om God se groter plan te sien, waarbinne die OT inpas. Jesus Christus is die vervulling van die wet, die sabbat, die offers en die feeste. Ons glo dat elke offer in die OT reeds op Hom gewys het (m.a.w. as simbool van sy kruis gestaan het), en van daar (die kruis) sy betekenis en krag gekry het. So ook met die hele OT bedeling, sê Hebreërs. Dit maak dat ons nie meer die kultiese wet nakom nie – hoe kan daar nog ‘n verdienste van ons kant wees, ‘n offer, ‘n Sabbat – na die Groot Werk van Christus, na die kruis, na die Here waarheen die sabbat wys? Ons kan niks by Christus se werk byvoeg nie. In die lig van Christus verstaan ons God se genade en liefde baie beter, en deur Christus kan ons sonder skuld met God in verhouding leef. So heg, dat ons Hom Vader kan noem (wat in die OT nog nie so sterk uitkom nie). Daar is ook verskeie ander ontwikkelende temas wat deur die OT na die NT groei en ontwikkel en ook wat dit betref het ons die NT nodig om die OT te verstaan. Ek dink aan die ewigheid, opstanding, ens.

Terloops: Andrew Murray het geskryf dat daar twee testamente moes wees, omdat daar twee kante van die verbond (of ‘n verhouding) is: die mens se kant en God se kant. Die Bybel werp lig op beide kante: OT en NT. Die OT en wet se doel is om die mens kans te gee om by die punt te kom waarvan Paulus praat: “Wee my, ellendige mens! Ek wil die wet hou, maar ek kan nie!” Dit is die punt van bekering. Die NT leer ons dan dat God vir ons doen wat ons nie vir onsself kon doen nie. In daardie sin is beide nodig. Ons moet beide lees en beide verstaan, en weet dat Christus tussen die twee staan om sin aan beide te gee. Ook in ons persoonlike lewe is daar ‘n OT, waar ons nog self iets probeer wees by God; ‘n bekering as ons ons sonde besef; en ‘n NT, waar ons God toelaat om alles te wees en ons self in sy genade verloor.

Die totaalboodskap van OT en NT is: onderwerp jou aan God en dien Hom met jou lewe deur ‘n navolger van Christus te word.

Hoop dit help – goed gaan!

You need to be a member of jimileroux30 to add comments!

Join jimileroux30

Email me when people reply –