Forum 2.0

Homoseksualiteit en die kerk

18 Oktober 2015. Verskeie mense het my om ‘n opinie gevra nadat die NGK se Algemene Sinode onlangs ‘n besluit aanvaar het tot die effek dat:

  • homoseksuele mense toegelaat word tot die ampte sonder die beletsel dat hulle selibaat moet bly;
  • homoseksuele mense in die kerk in ‘n ‘burgerlike verbintenis’ bevestig kan word deur NG leraars.

Dit moet bygevoeg word dat (1) kerkrade en individue steeds hulle vryheid in die verband behou, dat (2) die NGK nie daardeur nou los seksuele verhoudings vir homoseksuele ampsdraers kondondeer nie (ditword net soos heteroseksuele ampsdraers hanteer) en dat (3) huwelike nie tussen homoseksuele persone toegelaat word nie. Die NGK beskou die huwelik as ‘n saak tussen man en vrou.  Homoseksuele persone kan egter in die kerk ‘n ‘burgerlike verbintenis’ aangaan, wat ‘n wetlike ooreenkoms is wat mense wat bv. saamwoon met mekaar kan aangaan. Natuurlik kan dit in die praktyk soos ‘n troue lyk.

Nogtans is dit ‘n radikale besluit wat die NGK geneem het wat sekerlik nog opslae sal maak. Ek self is nie ‘n lid van die NGK nie – my opinie kom van die kantlyn en is heeltemal in my persoonlike hoedanigheid.

Nota:  Intussen is teen die besluit geappelleer en die besluit kan dus nie deurgevoer word voor die appél nie aangehoor is nie.

 

My opinie sal ongelukkig die meeste mense nie behaag nie.

Ek vermoed feitlik almal sal dit teleurstellend vind.

My antwoord kom in die vorm van tien punte wat ek as gegewes (m.a.w. feite) beskou en my besluit in die verband sal daarop volg.

1) Die saak is nie so eenvoudig as wat sommige mense maak nie.  Eenvoudige uitsprake oor ingewikkelde sake klink moontlik oortuigend of vroom, maar veralgemeen en stereotipeer sodanig dat dit baie waarheid prysgee.  Die waarheid is eerder in die middel te vind, waar sake baie meer kompleks is, maar dis presies soos die werklikheid is. Dis nie net reg of weg, goed of sleg, wit of swart nie.  Die een wat dit so sien, het te min inligting. Langenhoven het gesê:  Ek luister eerder na die man wat onseker van sy saak is as die een wat seker is, want die laasgenoemde het die saak maar van een kant bedink.

2) Volgens die wetenskap word ‘n sekere aantal mense homoseksueel gebore en dit is dit. Statisties is die variasie heeltemal normaal. Die ontwikkeling van homoseksualiteit is kompleks en multifaktoriaal. Navorsing oor seksualiteit is beskikbaar en wat hierdie saak betref, word deesdae gekyk na die afskei van testosteroon tydens kritieke fases van die embrio se ontwikkeling. Dit skep die manlike eienskappe, anatomies en ook die vermanliking van die brein. Dit is ook die ervaring van gay mense dat hulle so gebore is – hulle ervaar dit nie net as hulle gedrag nie, maar hulle wese. Seksuoloë en ander wetenskaplikes aanvaar die bogenoemde as ‘n gegewe – ook Christen-seksuoloë.

3) Omdat seksualiteit op ‘n spektrum voorkom is daar ook ‘n vloeibaarheid rondom sommige se seksuele belewing.  By sommige (meer so by vroue) is daar meer van ‘n besluit in die saak as by ander. Sommige is biseksueel, met ander woorde.  Dit skep vaagheid, want sommige gaan deur 'n homoseksuele fase (of 'eksperimentering') en vestig hulleself dan as heteroseksueel - daar is wel sulke getuienisse in die kerk - terwyl ander trou en kinders kry, maar later ‘uit die kas kom’ en hulleself as homoseksueel verklaar.  Dis onseker in watter mate en fases sommige persone beïnvloedbaar mag wees in kritieke fase en deur snellergebeure. Ook wat dit betref is daar nie noodwendig NET 'n straight of gay nie.

4) Die ervaring van die meeste gays (d.w.s 'egte' gays) is egter dat hulle oriëntasie nie verander nie.  Bekering, wedergeboorte, beraad en gedragsmodifikasie het weinig invloed op verreweg die meerderheid homoseksuele.  Die Christelike organisasie Exodus International was die grootste sambreel-organisasie vir bekeerde gays – DIE kenners van homoseksualiteit, bekering en ‘n heteroseksuele lewe. Nogtans het hulle in 2013 gesluit, nadat die leiers openlik erken het dat hulle nie gays se oriëntasie en identiteit kon help verander nie - ander organisasies onder die naam Exodus gaan voort, maar die klem is eintlik op hoe om met 'n gay oriëntasie saaam te leef.

5) Ons sin vir regverdigheid sê vir ons dat God nie mense sal veroordeel vir iets wat hulle nie gekies het nie. Verantwoordbaarheid en toerekeningsvatbaarheid is deel van die reg – ook in ons eie howe – en ons glo dat ons daardie sin van regverdigheid van God gekry het. Reg en geregtigheid, saam met die liefde, is immers God se groot eis.  Waar ons vrywillig die sonde kies - soos ons doen - is ons natuurlik verantwoordelik, maar vertrou ons op Christus se verdienste, wat ons sonde vergewe.

6) Wat die Bybel betref is dit duidelik dat die Skrif hom beslis teen homoseksuele gedrag uitspreek(1). Daar is nêrens ‘n goedkeuring, begrip of selfs relativering nie. Die sterkste uitspraak is by Paulus (nie in die Ou Testament nie), wat dit as teenstrydig met die ‘natuurlike verkeer’ noem.  Die Ou Testament noem dit 'n 'gruwel', maar so noem dit ook die eet van kreef en volstruis en ander dinge wat by ons alledaags is (2).

7) Elke kant van die argument beroep hom op dieselfde Skrif en glo dat sy standpunt “Bybels’ of ‘skriftuurlik’ is.  Dit help niks om eenvoudig te sê: ‘Die Here sê dit en daarom glo ek dit’ nie. Die kans is goed dat so een die Skrif in werklikheid baie inkonsekwent gebruik.  Dit gaan oor hoe mens die Skrif uitlê.  Elkeen lees die Skrif vanuit sy eie verwysingsraamwerk en deur sy eie hermeneutiese bril.  Selfs evangeliese (sg. ‘Bible-believing’) Christene vat en los die Skrif op redelik lukrake wyse:

  • Ons sal byvoorbeeld die gedeeltes oor tattoeëring (Lev 19) as voorskrif aanvaar, maar nie die verbod teen die skeer van jou baard of die dra van twee soorte materiaal in presies dieselfde verse nie. 
  • Ons sal die Sabbatsgebod (uit die Tien Gebooie) glad nie nakom nie, terwyl ons egter die gee van tiendes onderstreep. 
  • Apartheid is vroeër amptelik uit die Skrif geregverdig, maar die teenoorgestelde word tans gedoen. 
  • Paulus gee duidelike opdrag dat vroue in die gemeente nie mag lei of leer nie, en sluiers moet dra – en motiveer dit sterk vanuit die skeppingsbeginsel – maar ons oordeel dat dit ‘n saak van die antieke konteks is, wat nie op ons van toepassing is nie (alhoewel dit vroeër wel so nagekom is). 
  • Wat homoseksualiteit betref sê ons egter dat dit deel van die sedewet is (teenoor die rituele wet), maar ignoreer feitlik heeltemal die Skrif (veral Jesus) se sterk verbod op egskeiding en hertrou (as egbreuk), wat deel is van dieselfde sedewet. "Wedergebore" Christene skei meer as ander Christene en selfs gelowe (George Barna se navorsing in die VSA).

Die waarheid bly egter steeds dat die Skrif verklaar moet word aan die hand van goeie uitleg en dit behels dat die betekenis vir vandag nie altyd direk ooreenkom met die oorspronklike betekenis nie.  Kultuur, konteks en teologie speel inderdaad ‘n rol – dis hoekom ons by die bg. punte uitlê soos ons doen.  Dan is die kerk altyd in gesprek met sy eie kultuur en gebruik die Skrif om 'n sekere posisie in te neem. Dis presies wat Paulus ook doen.  Daardie posisie kan verander, maar ons moet erken dit kan mense moedeloos maak as die kerk na 'n sekere sinode besluit hulle posisie is nou presies teenoorgesteld en dit op dieselfde Skrif baseer!

8) In die Skrif is die tema van homoseksualiteit ‘n klein tema. Ook onder die sondes neem dit ‘n geringe posisie in. Die groot sondes in die Skrif is goddeloosheid en liefdeloosheid (teenoor liefde as die groot gebod), ontrou teenoor God, onreg en dan allerhande medemenslike oortredings. Die seksuele neem daarin ‘n gemiddelde posisie in, maar gaan gewoonlik oor owerspel, egbreuk en egskeiding. Die Bybel noem homoseksuele gedrag sonde, maar noem in dieselfde lyste ook dinge soos ongeregtigheid, slegtheid, hebsug, gemeenheid, jaloesie, moord, twis, bedrog, kwaadwilligheid, skinder, kwaadpraat en vele meer.  Dit beskryf eintlik alle mense.

 9) ‘n Verdere probleem is dat die kerk baie het om VAN die gay persoon te sê, maar min het om VIR die gay persoon te sê. Die kerk bied nie eintlik bediening aan gays nie (gegewe dat daar min aan te doen is) en hulle boodskap is bloot dat hulle selibaat moet bly, ‘n opdrag wat vir heteroseksuele en homoseksuele mense ewe moeilik is.  Dis asof die kerk nie met baie gay mense self werk nie en veral daaroor teologiseer.  Die netto effek is dat gay mense van die Here afgestoot word (en baie verloor hulle geloof).  As mense ‘n gay kind het, of gay vriende, leer jy die mens ken en verander dit jou ervaring geheel en al.

10) As ek na mense se standunte luister, luister ek gewoonlik nie soseer wat hulle sê nie, maar hoe hulle dit sê. Dit praat die hardste. Soms hoor mens selfs ‘wedergebore’ Christene se harte as hard, neerbuigend, liefdeloos. Die gebrekkige insig in wat genade beteken lei tot 'n houding wat nie aan Jesus herinner nie, maar aan die Fariseërs. Dit hang vraagtekens in my eie gemoed oor wat Christenskap en wedergeboorte is.  Mens kan nie oor die groot opdragte soos die liefde en die reg spring, maar dan op die klein opdragte wil reg wees nie – die splinter en die balk.

My opinie

Die bogenoemde is wat ek aanvaar as uitgangspunte – dis die waarhede, en ook die kompleksiteite wat deel uitmaak van die gesprek.  Neem kennis dat ek nie ‘n saak uitgemaak het na enige kant toe nie, dis ‘n heeltemal ander gesprek en nie my bedoeling nie. Ek sê ook niks oor die NGK se besluit nie – ek is eintlik ongemaklik met van die implikasies en wonder nog of daar ander moontlikhede was. Ek sou persoonlik gemaklik gewees het met 'n besluit dat ons die bg. feite oor homoseksualiteit erken, maar ter wille van die gebrokenheid en voordeel van die kerk 'n kompromis tref en besluit om nie gay leraars sonder selibaat toe te laat nie en so meer.  Dit klink na 'n draadsitter-tipe besluit, maar daar is verskeie voorbeelde in die Skrif (3), waarin die kerk hierdie soort kompromieë sluit, UIT WYSHEID, tot die voordeel van die kerk in 'n bepaalde kultuur.  Dis nie 'n alles of niks-saak nie en dit veronderstel gesprekke met homoseksuele Christene, en dit veronderstel dat opregte gay Christene dit sal verstaan.

Wat betref die hele kwessie is ek egter nog op die reis en het nie ‘n vreeslike uitgesproke besluit nie. Ek het wel besluit om in dit alles eerder nader aan Jesus te staan:

  • soos Jesus sal ek vir die huidige niks (verder) oor homoseksualiteit sê nie. Ja, Jesus sê niks oor die tema nie, alhoewel Hy bladsye te sê het oor regverdigheid, genade, liefde, afhanklikheid, vertroue, bekering en so aan.  Jesus het altyd ‘n ander blik op sake, wat vir my SO aantreklik is;
  • soos Jesus tydens sy bediening sal ek eerder nie mense oordeel nie (4) – Hy sal oordeel aan die einde van die tyd.  Ek is nie geroep as regter nie. Ja, ons beoordeel gedrag, maar hier sit ons juis met ‘n moeilike beoordeling.
  • soos Jesus sal ek eerder alle mense liefdevol insluit – Hy het dikwels teen die stroom in mense ingesluit soos owerspeliges, prostitute, tollenaars, Samaritane, heidene, vroue en kinders. By Hom was baie eerstes laaste en baie laastes eerste. Ek wil vir alle mense eerstens God se liefde wys – dis veel belangriker, want dis die GROOT gebod.
  • soos Jesus sal ek eerder mense na God toe lei.  Alle mense moet tot bekering kom – straight of gay – en alle mense moet hulle lewe met Hom uitsorteer, ook hulle sonde.  Die beste plek waar gay mense dus hulle lewe kan hanteer – hoe kompleks dit ook al is – is by die Here.  Aan alle mense sê ek: KOM NA JESUS TOE MET JOU HELE LEWE!

Dis my standpunt. Ek het nog 'n dag daaroor nagedink en weer daaroor gebid.  Ek kan nie wegkom van die oortuiging dat dit 'die waarheid in liefde betrag' nie:

Nee, ons sal in liefde by die waarheid bly en so in alle opsigte groei na Christus toe. (Ef 4:15).

Ek gaan nie eintlik in 'n bespreking hieroor tree nie. Dit is my bydrae.

Verwysings

1. Direkte verwysings: Lev 18:22, Lev 20:13, Rom 1:26-27, 1 Kor 6:9-11, 1 Tim 1:9-10.  Indirekte verwysings/aanverwante temas: Gen 19:4-7, Rigt 19:22-23, 1 Kon 14:24.

2. Kreef en volstruis: Lev 11:10-16; vroue wat mansklere dra: Deut 22:5; hertroude vroue wat weer met hul eerste mans trou: Deut 24:1-4.

3.Dink aan die volgende: (1) die heidense Christene is in werklikheid vrygestel van die wet, maar die kerk vra dat hulle sekere Joodse wette nakom ter wille van die eenheid met die Joodse Christene (Hand 15:28-29); (2) die afgode is in werklikheid niks en die afgodsvleis is niks, maar Paulus reël dat die Christene nie voor ander die afgodsvleis eet nie, ter wille van die liefde (1 Kor 8:4-13; 10:25-33). Dis eintlik relatief wesenlike sake wat op pragmatiese wyses toegepas word - dis kompromieë tot voordeel van die kerk. Dit vind ons regdeur by Paulus: die spreek in tale is van die Heilige Gees en Paulus spreek meer in tale as almal, maar ter wille van die kerk se beeld vra hy 'n orde; hy kan aandring op 'n salaris (en voltyds bedien), maar hy maak maar tente; dis werklik onnodig om vir Timoteus te besny, maar hy doen dit ter wille van die Jode (maar hy trek die streep by Titus). Paulus is nie 'n draadsitter nie, maar is wys en pragmaties.  Aan die ander kant is hy weer so begaan oor die kerk se beeld na buite dat hy dalk wesenlike dinge soos slawerny en die vrou se rol miskyk deur te staan op die bestaande kulturele gebruik.  Hy kon eenvoudig nie van die kultuurkonteks ontsnap nie (dalk omdat dit die kerk skade sou doen) - maar dit bewys net dat die kerk altyd in gesprek met die kultuur bly en daaruit sy Skrifverstaan doen.

4. Luk 6:37-38, Joh 3:17-18, Joh 8:15-16, Joh 8:10-11, Joh 12:47-48.

Naskrif

Soos Paulus dit soms nodig gevind het om sy geestelike credentials te gee, vra mense my ook wie ek is, sodat hulle my in ‘n boksie kan sit: dominee/pastoor, gered/ongered, evangelies/liberaal – wat ook al. Ai, die boksies. Laat ek die taal gebruik wat baie mense verstaan: ek is ‘n wedergebore kind van God, gedoop, spreek ook in tale en profeteer, maar is ook ‘n dominee in ‘n konserwatiewe, evangeliese, gereformeerde, kerk.  Ek heg nie baie waarde aan allerhande dogmas of aan kerkisme nie - my groot doel is eerder om Jesus te verstaan, te dien en bekend te maak.  Ek is minder konserwatief as in die verlede (ouer en wyser, deur skade en skande).  Is daar ‘n boksie waarin ek kan pas? Gelukkig nie!  God sit my ook nie in ‘n boks nie, maar het my aanvaar soos ek is.  Daar’s ‘n les in, nè?

You need to be a member of jimileroux30 to add comments!

Join jimileroux30

Email me when people reply –