Langs die Pad Januarie 2021

Welkom by 'n nuwe jaar!

Ons begin vandag weer amptelik met Padlangs Bediening, soos ons werk al 20 jaar bekend staan. Ons oordenkings, DAAGLIKSE STILTE, gaan bloot voort waar ons laas jaar opgehou het. Om meer daaroor te lees kliek hier

Ongelukkig is Suid-Afrika in die middel van 'n tweede golf Covid-infeksies en hierdie keer is dit meer ernstig. Ek het al twee direkte kollegas verloor aan die siekte en verskeie mense wat ons ken het ook al geliefdes verloor. Vyf mense in ons eie familie het al Covid gehad, maar het reeds weer herstel. Ons mag nie vrees nie, ons moet God vertrou, maar terselfdertyd moet ons versigtig en verantwoordelik wees. Gelukkig is daar hierdie jaar meer hoop in die sin dat ons die vaksienes kan verwag.

As jy wil kan jy kyk na 'n boodskap wat ek gister aan 'n gemeente in Parow hieroor gebring het. Dit som op wat die Here hieroor op my hart gelê het. Om daarna te kyk, kliek hier

Nogtans gaan die lewe aan en ons begin hierdie jaar met iets nuuts. Ons loods ons...

8402152882?profile=RESIZE_400x"Skool van Gebed"
Ek het ons gebeds-kursus oor die "Ons Vader", deeglik hersien. Die dele is nou korter en kragtiger en die temas is uitgebrei, om 'n meer algemene inleiding by gebed te vorm. Ons noem dit nou "Leer ons bid". Daarby saam voeg ons 'n kort weeklikse video, so 10 minute, waarin ek die materiaal verder verduidelik, en dan sal ons 'n weeklikse Zoom-klas aanbied, waarin ons dit sal bespreek en toepas. Hierdie drie elemente vorm saam ons "Skool van Gebed." Die aanlyn-klas is opsioneel, maar voeg heelwat waarde toe en is maklik om te volg. Om meer oor gebed te leer is 'n wonderlike manier om hierdie jaar te begin! Diegene wat reeds ons vlagskip-kursusse ontvang, sal outomaties met hierdie kursus voortgaan. Jy is ook welkom om aan te sluit! Om meer oor hierdie kursus te lees en/of in te skryf, kliek hier

Ander opsies
As jy eerder in ander rigtings wil groei, of voel dat jy reeds die "Ons Vader"-kursus gedoen het, is daar ook ander opsies:
1) Ek het ons persoonlike geestelike begeleidingsprogram, Geesplan, ook nou oorgedoen. Dis nou korter en meer tot die punt. Gaan gerus op 'n reis in hoe die Here jou gemaak het en waartoe Hy jou roep! Vir meer inligting, kliek hier
2) Geestelike Vorming bly steeds ons basis-program en dek al die elemente van 'n verhouding met God. Kry 'n stewige fondasie onder jou geestelike lewe! Vir meer inligting, kliek hier
Nog skakels na ons kursusse is hier:

Skryf gerus as daar nog vrae is!

Ten slotte
Ek wil graag afsluit deur baie dankie te sê vir die ondersteuners van ons bediening (dit word so waardeer!), vir die vele briefies van bemoediging wat ons oor die vakansie ontvang het en vir elke Padlangs-vriend wat ons dagstukkies volg en versprei. Ek bid dat daar 'n jaar van vrugbare bediening sal voorlê. Ek bid ook dat jy hierdie jaar veilig sal wees en dat die Here jou - in dit alles - sal seën met vreugde en voorspoed.

Leef sterk, leef met geloof, leef in oorwinning!

Jimi en Maryke

 

You need to be a member of jimileroux.com to add comments!

Join jimileroux.com

Email me when people reply –