Forum 2.0

Paasfees

Paasfees is een van die vroegste feeste wat in die kerk gevier is en is die Christen weergawe van die Joodse Paasfees.  Die Christene het geweet dat Jesus hulle paaslam is (1 Kor 5:7) en die aanduidings in die kerkgeskiedenis is dat die generasie na die apostels reeds die pasga op ‘n unieke en Christelike wyse gevier het.  Die sentrale element van hulle Paasfees was die kruisiging en opstanding van Jesus Christus, wat vir die kerk die kern van hulle geloof was.  Met die eeue het die gebruike rondom die paasfees uitgebrei.  Een daarvan is die vastyd wat die paasfees voorafgegaan het,  in Afrikaans genoem “Vaste” en in Engels “Lent” (die Oud-Engelse woord vir die seisoen Lente, net soos by ons).  Ons noem dit ook “Lydenstyd”. Rondom 200 nC skryf Ireneus oor die vastyd dat dit reeds in die vorige generasie (m.a.w. minstens tot by die apostoliese vaders) ‘n instelling was, alhoewel dit toe nog nie 40 dae lank was nie.  Eers met verloop van tyd is die periode vasgestel op 40 dae, n.a.v. Jesus se veertig dae in die woestyn, en ‘n paar ander Bybelse ooreenkomste.  

 

Vaste (Lent)

In die kerk het die gebruik ontstaan om vir 40 dae voor Paasfees te vas.  In ons onmiddelike kring is Vaste dikwels nie bekend nie, alhoewel die meerderheid Protestantse kerke dit vier.  ‘n Nuwe generasie Christene ontdek egter weer sekere mooi gebruike van die antieke kerk.  Vaste herinner ons aan die lyding van Christus.  Vaste begin op Aswoensdag, eindig op die Saterdag voor Paassondag en sluit die ses Sondae uit.  Tydens die Vaste:

  • Lê ons meer klem op gebed, vas en barmhartigheid – maak ‘n spesiale tydjie van gebed.
  • Vas ons op ‘n manier wat ons self besluit.  Tradisioneel word vleis uitgesluit, maar vis toegelaat, maar deesdae word dit wat besonders luuks of lekker is uitgesluit, bv. koffie, wyn, koeldrank, sjokolade en lekkergoed
  • Sommige vas in die periode ook een dag in die week.

Op Sondae (wat opsigself die Opstanding herdenk) vas ons nie.  Wat kan jy verwag?  Die ses en ‘n half weke van ons vas kan nogal lank raak, en jy mag leer dat jy sukkel om saam met Christus te ly – selfs op jou klein manier!  Nogtans is dit ‘n wonderlike en intense tyd van bewus wees van Jesus en sy kruis.  Jy moet dit doen om dit te kan beleef. Neem jou kruis op en doen mee met die kerk van die eeue!  Vier ook die Paasfees deur Paasbolletjies (hot cross buns) te eet en deel te neem aan die paasvieringe by julle kerk.

 

Besware teen Paasfees

 

Die bewerings dat die hele Paasfees op grond van die Engelse naam “Easter” eintlik ‘n heidense oorsprong sou gehad het, is verkeerd.  Net in Engels en Duits het dit daardie naam, wat die maand van die Germaanse kalender was waarin paasfees gevier is, later bekend as April.  Hierdie maand was volgens Bede, ‘n Christelike skrywer uit die  7de eeu,  inderdaad vernoem na ‘n heidense godin “Eostre” (soos ook baie van ons maande ook is, nie waar nie).  Bede – die enigste persoon wat van so ‘n godin vermeld – sê egter self dat enige aanbidding vir haar reeds voor sy tyd uitgesterf het (ma.w. dat hy net die Christelike gebruike ken).  Alle verdere konneksies wat tussen Eostre en Paasfees sou bestaan is op sy stelling gebaseer en blote spekulasie.  Elders in die wêreld word die paasfees sonder hierdie konnotasie gevier en ook Pase of Pasga genoem.

 

Ons kan egter wel aanvaar dat daar in Noord Europa feeste rondom die aanbreek van die Lente moes wees waarin vrugbaarheid (en so ook hase en eiers – sien verderaan) ‘n rol gespeel het. Omdat paasfees op grond van die datum van die pasga met hierdie feeste ooreengeval het, is van die gebruike met die Christelike Paasfees in verband gebring.  In die vroeë Christendom is sulke gebruike dikwels “tot bekering gebring” deur dit van ‘n “meer korrekte, Christelike betekenis” te voorsien.  Die Paashaas was veral in Duitsland ‘n konnotasie wat behoue gebly het.  Duitse setlaars het hul gebruike hierrondom na Amerika geneem, waarvandaan dit hoogstens eers die laaste 200 jaar oor die wêreld populêr geword het, veral om kommersiële redes.  Die “paashaas” is ook met eiers geassosieer, maar die eier as simbool het sy eie aparte oorsprong.  As universele simbool van nuwe lewe is dit van vroeg reeds met die opstanding van Jesus geassosieer in Christelike kerke.  Aangesien die eet van eiers verbode was gedurende die Vaste, was daar ook baie eiers beskikbaar om te eet op Paasfees. Dit is 'n antieke gebruik om gekookte eiers rooi te verf vir Paasfees, om die bloed van Jesus te herdenk. Eiers is inderdaad in die voorchristelike heidendom gebruik as simbool, maar ook deur die Jode, wat dit juis gebruik het as deel van hul Pasga-viering.  Diegene wat dus die paashaas (selfs paaseiers) uit hul vieringe wil weglaat is welkom. 

 

Ons moet egter onthou dat Paasfees al vir byna 2000 jaar bedoel om Jesus te eer en sy opstanding te herdenk en die belangrikste fees van die kerk is.  Hierdie einste, Christelike fees is wat die Engelse Easter noem, en die naam bestaan bloot uit historiese redes.

 

Sommige sê dat ons nie Paasfees, Kersfees, ens. moet vier nie omdat Jesus dit nie beveel het nie.  Dit is egter ‘n swak argument omdat Jesus baie dinge nie beveel het nie: dit is ons, sy kerk, se manier om te herdenk wat Hy vir ons gedoen het.  Ons vier ook nie meer die Joodse feeste (sabbatte, pasga, ens. nie), omdat ons nie Jode is nie.  Daarmee moet ons ook sê dat ons nie elke gebruik of gewoonte hoef oor te neem of na te doen nie.  Dit gaan steeds oor ‘n verhouding met God en die leiding van sy Gees.  Ons is vrygemaak van ‘n menslike godsdiens.  Hierdie is bloot dinge wat ons kan help om die Here te dien – soos wat ‘n stiltetyd doen (iets wat Jesus nie beveel het nie) en geestelike dissiplines.

 

Ek self kom uit 'n Duitse huis en het nog altyd 'n Paasfees gevier wat suiwer om die Here gegaan het.  Om paaseiers te soek in die tuin was deel van die tradisie en het glad nie afbreuk gedoen aan die betekenis van die dag nie.  Ek kan nie onthou dat die Paashaas eintlik 'n rol gespeel het in ons huis nie - dit was meer iets (sjokoladehasies) wat ons in die winkels gesien het (en van geëet het).  My ouers was toegewyde kinders van die Here.

 

Kyk asb. wat ek verder geskryf het oor die Paashaas - kliek hier

Kyk ook wat ek geskryf het oor THE TWO BABYLONS van Alexander Hislop - kliek hier

You need to be a member of jimileroux30 to add comments!

Join jimileroux30

Email me when people reply –