Forum 2.0

Maandelikse Nuus Augustus 2018

 
 
Augustus-groete!
Bitterlik koud nog, hier by ons in die Kaap - by julle ook, né? Augustus is vir my altyd die langste maand, dis asof die winter net nie wil loslaat nie. Nogtans, die lente is op pad, wie kan dit keer?  
 
Steeds die belangrikste!
Die belangrikste nuus is steeds ons nuwe platform, "Daaglikse Stilte". Ons is mos in die proses om ons "Padlangs"- oordenkings te hernoem na "Daaglikse Stilte" ('n beter naam in verskeie opsigte) en het 'n Daaglikse Stilte-FB Blad daarvoor oopgemaak. Daar is al meer as 700 mense opgeskryf en vele meer sal nog bykom. Ons boodskap is dat 'n daaglikse oordenking 'n kompakte, maar egte stiltetyd is, as jy dit reg doen. Daarmee sê ons nie dat dit 'n regte, egte stiltetyd, met die oop Bybel en met genoeg tyd in gebed, kan vervang nie. Natuurlik nie, maar die meeste mense kom nie by só 'n stiltetyd uit nie en vir hulle is 'n soliede daaglikse oordenking 'n aanvaarbare substituut. In ons oordenkings lees ons die Woord, bedink dit, bid dit en pas dit toe. Ons oordenkings is vaste spys en nie net die "lekker" verse nie. So ontwikkel 'n geestelike dissipline. Ons oordenkings moedig die leser in elk geval dikwels aan om Woord toe te gaan, binnekamer toe, die stilte met Hom op te soek - so, dis iets aanvullend. Elektroniese oordenkings het veral baie voordele - lees hier vir 'n lysie. Help ons asb. deur die volgende: bid asb. vir Daaglikse Stilte en maak dit gerus bekend onder jou vriende. Stuur die dagstukkie gerus aan, waar dit welkom sal wees. Like Daaglikse Stilte op Facebook as jy nog nie het nie (en as jy Facebook doen). Jy kan natuurlik bly by ons gewone Jimi le Roux Blad, maar daar sal voortaan meer gemengde inhoud verskyn.
 
Dan net 'n klomp inligting
Aan ons baie nuwe en al die bestaande lesers die volgende:
Verreweg die meeste mense kry ons oordenkings as 'n e-pos, om in te skryf kliek hier. Op daardie blad is ook die skakels om ons oordenkings in Engels of (in klankformaat) op WhatsApp te kry.
   
Daar's hy! Ten slotte...
1) Ons webruimte het 'n ligte facelift gekry en ek gebruik nou, onder andere 'n meer onlangse foto. Die vorige een was van 'n jonger Jimi op 'n stoep in Stellenbosch in 2012, maar hierdie een is van 'n meer besadige  Jimi in sy kantoor in Junie 2018. Om 'n ses jaar oue foto te gebruik is mos 'n kullery? Dalk sal ek oor nog ses jaar my foto bloot vervang met 'n mooi blom of berg, haha!
2) Ons vlagskipkursus die jaar, IN PRAKTYK, stoom nog voort en lewer weeklikse dele af oor 'n kind van God se gewone lewe. Ons is nou al ver oor die helfte en is tans besig met 'n Christen se huwelik: "Kry 'n maat" is pas afgehandel, dan kom seks in en uit die huwelik, hoe Christene in die huwelik kommunikeer (en baklei) en nog dergelike relevante temas. Die Bybel sê BAIE oor al hierdie dinge en ons vul dit aan met wit-warm wenke! Om meer hieroor te lees, kliek hier.
  
Ek seën jou in Jesus Naam! Mag jy SY teenwoordigheid beleef, elke dag, in die op en af van jou lewe.
 
Dankie vir elkeen se ondersteuning en belangstelling: briefies en kommentare, gebed en gebedsversoeke en finansiële bydraes. Dit word só waardeer!
  
Jimi en Maryke le Roux
 

 

 

 
 

You need to be a member of jimileroux30 to add comments!

Join jimileroux30

Email me when people reply –