Forum 2.0

Maandelikse Nuus Februarie 2017

Sjoe, Februarie hardloop einde toe, maar ek het teruggehou met hierdie nuusbrief tot ek iets konkreet kon oordra oor ons nuwe boek - en ons kan! Kom ons sê sommer dadelik iets daaroor:

In die Lig van Sy Genade

Nog 'n reeks van ons oordenkings is in boekvorm beskikbaar en hierdie keer is dit ons reeks uit Jesaja, Belofte vir Vandag. Onthou jy, ons het dit so twee jaar gelede gedoen? Dit was baie populêr omdat Jesaja so gepak is met beloftes van God se nabyheid en verlossing. Nou ja, die oordenkings, wat deur die hele Jesaja loop, is byeengebring in 'n pragtige, kleurvolle Bybelse dagboek en is beskikbaar by alle CUM boekwinkels - dit word hierdie week afgelewer. Soek dit ook aanlyn. Die beste nuus egter is dat dit ook in Engels beskikbaar is - die eerste keer dat ons oordenkings in 'n Engelse boek verskyn. Kry dus "In the Light of his Glory" vir jou Engelse vriende. Dis 'n uitstekende geskenk vir enige kind van God! Ek is persoonlik baie opgewonde en diep dankbaar.

--Om meer oor hierdie boek te lees kliek hier.

GroenGeestelik  

Ons is nog steeds besig met hierdie kursus, waarin ons probeer sin maak van Christene se reaksie op die krisis wat in ons weer ontwikkel. Het jy geweet ons kinders sal regoor die Noordpool kan vaar op oop waters (geen pool-ys), daar sal net 20% van die bosse en woude (die aarde se "groen longe") oor wees en Suid-Afrika sal permanent warmer en droër geword het. Dis as alles aangaan soos dit aangaan. Hierdie situasie sal nie binne 'n paar dekades omgekeer kan word nie. Wat doen ons as Christene aan die saak? Basies maar niks - en tog ken ons die Skepper die beste - en sy opdrag dat ons hierdie mooi planeet moet BEWERK en BEWAAK.  In GroenGeestelik bespreek ons dit meer deeglik.

--Om meer hieroor te lees kliek hier.

Dan nog hierdie belangrike sake:

1. Soos jy dalk weet het Lééf Tydskrif, vir wie ek ses jaar geskryf het, nou gesluit. Die rede is maar finansieel. Die sluiting is egter vir duisende mense 'n groot, groot verlies, maar daar is ook goeie nuus! Ek sal volgende keer meer daaroor kan deel. 

2. Nog 'n artikel is beskikbaar om ons huidige reeks oordenkings uit die Psalms, Leef met 'n Lied, toe te lig. In hierdie een gaan dit oor die gebruik van die psalms in die Bybelse tye en hoe dit gesing is. Baie interessant! Laai dit gratis af: kliek hier.

3. Op die 1ste Maart begin die Lydenstyd (Lent). Persoonlik neem ek elke jaar deel aan die vas, wat vir my geestelik van groot waarde is. Sien jy kans om iets prys te gee vir ses weke - saam met miljoene Christene wêreldwyd?  Ek gaan ook tydens Lydenstyd 'n spesiale reeks dagstukkies op ons Facebook-blad deel oor die hele periode. As jy ons Facebook-blad "Like" sal jy dit elke dag op jóú Facebook ontvang.

As jy meer wil lees oor Lydenstyd en die Vaste, kliek hier.

As jy ons Facebook-blad wil 'Like', kliek hier.

 Ten slotte wil ek vir jou dankie sê dat ons die geestelike pad saam mag stap. Dis so 'n voorreg, en 'n verantwoordelikheid wat ons ernstig opneem. 'n Ekstra dankie vir elkeen wat ons bediening ondersteun. Dit word SO waardeer!  

Beste wense en baie seën!

Jimi en Maryke

You need to be a member of jimileroux30 to add comments!

Join jimileroux30

Email me when people reply –