Forum 2.0

Maandelikse Nuus Julie 2018

 
 

Hallo vriend!
Net weer vinnig 'n nuusbrief - ai ja, so rol die maande by jou verby, ons is nou reeds in die tweede helfte van die jaar! Wat die W-Kaap betref juig ons omdat die damme nou al dubbel so vol is as laas jaar dié tyd, maar die Oos-Kaap beleef op die oomblik 'n groot droogte. Ons sal vir julle reën ook bid!

Daaglikse Stilte
Soos laas aangekondig het ons met 'n nuwe inisiatief begin, naamlik DAAGLIKSE STILTE. Hierdie naam word nou geleidelik die naam van ons oordenkings. Dit is meer beskrywend as "Padlangs", kan makliker gevind word op die internet en sal 'n wyer mark kan bedien. Ons DAAGLIKSE STILTE Facebook Page het in die laaste maand 360 Likes bygekry en word baie goed gevolg. As jy vorentoe veral ons oordenkings wil lees, kan jy dus DAAGLIKSE STILTE Like (kliek hier), waar elke oggend ses-uur 'n oordenking geplaas sal word (weeksdae, né). Naweke sal ons agtergrond en addisionele materiaal daarby voeg. Ons bestaande Facebook Page, JIMI LE ROUX (kliek hier), doen ook baie goed, dit het nou al oor die 4900 Likes, maar ons sal vorentoe daar meer gemengde inhoud opsit: oordenkings, gebede, ons kursusse en ander aspekte van ons bediening. Ek sal nie omgee as jy daardie blad Unlike nie, as jy wil! As jy dáár egter nie reageer op ons plasings nie, sal jy dit spoedig nie meer op jou tydlyn sien nie.

 

Ons fokus is aan die verander
Ons wil al hoe meer 'n geldige stiltetyd in die vorm van 'n daaglikse oordenking aanbied. 'n Oordenking of "dagstukkie" was nog maar altyd as 'n afgewaterde stiltetyd beskou, 'n kortpad - vir die luies en oppervlakkiges. 'n "Ware" stiltetyd is immers soggens sesuur, verkieslik vroeër, en duur minstens 'n halfuur (maar 'n uur as jy regtig geestelik is)! Dis nie noodwendig waar nie. Let op:

  • die Skrif spel glad nie die wanneer of die hoe van 'n stiltetyd uit nie. Trouens, die woord kom nie eers in die Bybel voor nie. Ons weet egter wel dat dié wat met die Here wil wandel tyd, veral gereelde tyd, met Hom benodig. Die punt is net dat ons mekaar nie hierin kan veroordeel nie;
  • die tyd of duur is nie noodwendig deurslaggewend nie. Tien minute wat jou beduidend help op jou geestelike pad is meer werd as 'n uur se rondlees oor temas wat eintlik 'n syspoor behels. Dit gaan oor wat jy met jou tyd doen;
  • ons wil ook graag geestelike ritmes ontwikkel in ons lewe. In die verband is dit nuttiger om elke dag tien minute te spandeer aan 'n stiltetyd as elke nou en dan 'n lang tyd. Die eerste bou dissipline en kan jou lewe meer stuur - die laaste is soms 'n dringende spaarwiel-aktiwiteit vir as die pôpô die fên straaik - dan soek ons daai mooi Bybelteks :-)
  • sommige van ons kan ook doen met 'n bietjie struktuur. Anders keer ons altyd terug na ons gunsteling-temas (gewoonlik God se beloftes en seëninge) of weet ons nie wat om volgende te lees nie. In die verband kan 'n dagstukkie ons sistematies deur temas laat werk;
  • die wêreld het ook baie verander. Daar word vandag gewerk soos nog nooit vantevore en daar IS eenvoudig nie die tyd wat daar vroeër was nie. Dit maak dat baie mense geheel en al nie by 'n stiltetyd uitkom nie. Dan eerder tien minute per dag wat 'n verskil maak en die Here in jou dag indra.

Natuurlik is ons honderd persent vir goeie en lang tye met die Here, vir goeie blootstelling aan die Woord en diep gebedstye, maar tussendeur hoef jy jou nie te skaam vir jou dagstukkies nie. Dit help jou om daagliks die Bybel te lees, te bedink, toe te pas en te bid. Ons probeer spesifiek om vaste spys te verskaf, prakties te wees maar ook werklik geestelik. Ons werk sistematies en kies nie net die mooi tekste nie. Saam het ons al groot dele van die Bybel deurgelees! Ons gaan dit vorentoe verder uitbrei om 'n leesrooster te verskaf en praktiese toepassings, vir die wat meer tyd het. Nee, as jy dit reg doen, kan jou dagstukkie 'n goeie en ordentlike - alhoewel kompakte - daaglikse stiltetyd wees. Op die trant wil ons in elk geval DAAGLIKSE STILTE ontwikkel.

 

Ten slotte
Persoonlik gaan dit goed met ons. Ons beleef hierdie jaar veranderinge, maar die Here het vir my aan die begin van die jaar op die hart gedruk dat dit 'n jaar van transformasie sal wees - so glo ek en so beleef ons dit ook. Ons bly verstom en dankbaar oor die Here se voorsiening en vir die voorreg om só, voltyds, vir Hom te mag werk. Jy is baie welkom om aan ons te skryf - ons het heelwat "korrespondente", wat elke nou en dan saamgesels. Reply net op enige van ons briewe. Meestal sal ons nog dieselfde dag antwoord! Ons bediening is NIE om net materiaal uit te stuur nie, maar om verhoudings te bou met mense, om besig te wees met dissipelskap. DIT is ons roeping en ons voorreg.

Nou ja - moet afsluit - mag die Here jou seën en jou behoed, mag Hy jou vrede gee!

Jimi en Maryke

 

 

 

 

You need to be a member of jimileroux30 to add comments!

Join jimileroux30

Email me when people reply –