Forum 2.0

Maandelikse Nuus Oktober 2017

So vlieg jou lewe by jou verby, né? Al weer middel Oktober! Hiervandaan is die jaar afdraend, Kersfees toe. Terloops, as jy wonder wat jou spesifieke skeppingsdoel is, of hoe jy die toekoms moet aanpak, moet jy na ons lewensbegeleidingskursus, KIES, kyk (kliek hier) – deeglike en billike life coaching! Skuus, dié reklame-boodskap het net ingeglip! Eintlik wil ek oor die volgende deel, dié maand:

'n Mooi prent vir jou!

Ek het weer ‘n nuwe skermprent gemaak vir jou rekenaar – doen mos een elke kwartaal – en hierdie een het pragtige lente-kleure in blou, pienk en oranje. Dit pryk reeds op al ons rekenaars, tot op my selfoon! Kyk hier onder – mooi né? Laai dit gerus vir jou af binne ‘n paar sekondes: kliek hier.

‘n Reguit woord oor ons nuwe oordenkings

Ek dink en bid baie oor ons nuwe reeks oordenkings, VOLG MY. Die terugvoer wat ons kry is dubbelsinnig: soms baie goed en ander kere afwesig! Ek besef dat dit nie dieselfde inspirasie-waarde het as die beloftes of die psalms van die verlede nie, maar voel dikwels dat ons nie net opkikkering kan deel nie. Die hele internet is vol stigtelike gedagtes, mooi verse, inspirerende aanhalings en ander geestelike lekkergoed. Ek wil juis iets anders doen en probeer dat ons oordenkings meer “vaste spyse” bevat, soos Paulus sê.

Hierdie spesifieke reeks, gebaseer op ons Dissipelskap-program, Geestelike Vorming, is eintlik ‘n kursus en werk sistematies deur al die aspekte van die geestelike lewe. Uiteraard begin ons by die begin en tans gaan dit oor temas soos die Woord en gebed. Dalk voel mense dit is baie basies, alhoewel ek telkens mik om iets leerbaar en prakties aan te bied vir die geestelike lewe. Dit sal spoedig na verdere temas toe beweeg, maar intussen wil ek jou aanbeveel om dit as ‘n kursus te sien wat jy volg ten einde geestelik te groei– lees dit asb. volgehoud en met dissipline. Dit sal beslis waarde toevoeg! Geestelike Vorming is steeds ons gewildste kursus en honderde mense het dit al oor die jare geneem. Dit verskaf ‘n soliede basis om jou verhouding met die Here op te bou. Ons dagstukkies dek dieselfde temas, in bietjie groter detail.

  • Hier is nog iets wat jy kan kry: ek werk Geestelike Vorming tans oor en gee die eerste dele GRATIS weg. Om dit verniet af te laai (en sommer te sien hoe ons kursusse lyk EN wat die temas is wat ons nog vorentoe in ons dagstukkies gaan hanteer): kliek hier

Ten slotte nog net dit:

1. Ons dagstukkies is mos ook in oudio-formaat beskikbaar en dis vreeslik oulik. Dis te lekker om sommer in die kar daarna te luister en jou stiltetyd dáár te hou – maar hou jou oë oop as jy bid! SMS gerus vir Olga Maartens, wat die opnames baie professioneel doen, by 264 81 279 0454 (dis ‘n lang nommer, ja – Namibië) en vra haar om jou op die lys te sit. Dan kry jy dit elke oggend op jou Whats-App om na te luister. Jy kan ook daarna luister op ons Facebookblad:kliek hier

2. Woon jy in die buiteland? Dra gerus by tot ons bediening deur ons kredietkaart-sisteem.Die wisselkoers maak dat jou klein bydrae daar ‘n groot (en gewaardeerde) bydrae hier word! Dis deesdae doodeenvoudig: kliek hier.

  • Jy kan ook via WorldRemit geld oorplaas na ons toe, of na enige iemand oorsee, goedkoop en maklik. Kliek hier
  • Vir ons rekeningbesonderhedekliek hier

Daar’s hy! Bietjie langer gesels as gewoonlik (ek is mos maar ‘n geselser), maar ek wou hierdie dingetjies deel. Vriend, BAIE DANKIE vir jou betrokkenheid by ons bediening – weet dat ek gereeld vir jou bid, soos vir al ons Padlangs-vriende en -vennote. Bid asb. vir ons ook!

Mag die Here jou ryklik seën! Mag hy jou hart hoor en jou gebed verhoor… Amen!

Jimi en Maryke

You need to be a member of jimileroux30 to add comments!

Join jimileroux30

Replies are closed for this discussion.