Forum 2.0

Maandelikse Nuus Sep 2018

 
 

Nog 'n maand! Ek vermoed dat dit in jou deel van die land warm tot bitter warm is, maar hier in die Kaap was dit 'n relatief koue September, en daar is steeds weekliks 'n koue front. Ons kla nie oor die reën nie (en is regtig bly vir PE se goeie reëns), maar ek sal bly wees as die koue nou bietjie besgee! Waar ek hier sit en tik in Tulbagh, is daar steeds sneeu op die berge sigbaar. Dis eintlik baie mooi. Ek kan myself egter nie langer inhou nie... ek het ‘n gróót aankondiging!

Ons mooiste boek ooit

CUM het sopas ons nuwe boek in hulle winkels uitgepak en dis inderdaad die mooiste boek ooit. Jammer as ek uitasem oorkom, maar ek bedoel dit eerlik dat ek nog nie so 'n mooi dagstukkie-boek gesien het nie – dis self mooier as ons vorige een. Hierdie een is die ene goud-foelie, tot op sy rande, soos 'n Bybel, en met die mooiste kleur-ontwerpe op die blaaie. Sy naam is HOU VAS AAN DIE HOOP en hy bevat ons onlangse reeks oor die Psalms. Ook wat die inhoud betref voel ek dis die beste wat ek nog kon doen. Psalms leen hom eenvoudig so tot oordenkings dat mens beswaarlik daarop kan verbeter. Die boek is ook in Engels beskikbaar as HOLD ON TO HOPE en dit kos R249. Om ‘n bietjie meer te lees, kliek hier.

Koop dit vir jouself en werk daardeur – dit sal ‘n wonderlike reis wees – maar dis ook 'n pragtige, pragtige geskenk. Jy kan die boek ook aanlyn koop, van enige plek op aarde, by die skakels hieronder. Laat weet as jy nie regkom nie, dalk ry iemand wat ons ken daar by jou verby!

Kan ek iets hierby voeg: moet asb. nie dink dat ek hier spoggerig voel oor myself nie, al mag dit dalk so lyk. Nee, die hele kwessie laat my diep nederig voel; ek is eintlik net dankbaar en verwonderd oor die Here se genade. Dat die werke waaroor ek baie dae so wroeg op die wyse aangebied word, terwyl daar soveel mense is wat dit baie beter sou kon doen, is eenvoudig 'n wonder. Ek sê dit doodeerlik.

Daaglikse Stilte: donker temas

Ons huidige dagstukkies is mos 'n dissipelskap-reeks en ons kom nou by donker temas. Dit gaan oor sonde, versoeking en die Bose. Onthou dat ons dagstukkies nie net die lekker verse en die mooi beloftes bevat nie, dit is “vaste spys” – behoorlike lering, teaching – oor die lewe van 'n dissipel. Neem dit asb. in ag. Ons doen nie eintlik mooi verse en so aan nie – daarvoor is daar genoeg Facebook-blaaie. Ten spyte daarvan getuig baie mense dat hulle ervaar die Here praat met hulle deur ons temas, al gaan dit soms bietjie dieper. Later die jaar gaan ons na 'n deel waarin ons die vernaamste lering deurwerk oor God, die mens, die kruis, geloof, ens. Dis ook belangrik. Ons reeks werk dan geleidelik na 'n hoogtepunt toe op en sal vroeg in Maart 2019 klaarmaak. Ek bid nog oor wat daarop sal volg. Lees gerus meer oor ons huidige reeks by hierdie skakel en laai die gratis dele daar af – ander mense het vir daardie dele R120 bygedra...

Dis genoeg vir vandag. Ek wou veral net ons boek bekend stel - dankie Here! Dankie ook aan jou, met wie ons die woorde van God mag deel, watter voorreg! Deel gerus oor waar jy op die pad van God is.

Beste wense en baie seën!

Jimi en Maryke

 

 

 

 
 

You need to be a member of jimileroux30 to add comments!

Join jimileroux30

Email me when people reply –