Forum 2.0

Maandelikse Nuus Maart 2017

Beste vriend en vennoot van ons bediening

So 'n kort-kort briefie om te laat weet dat ons darem nog hier is en wat ons doen en so aan...  Hier is die nuus:

Lééf Tydskrif

Soos gesê het Lééf tydskrif gesluit - finansiële redes - maar die tydskrif her-Lééf, kan jy maar sê, op die internet. Die inhoud van Lééf is maand-vir-maand beskikbaar by www.leef.co.zaEk gaan voort om my rubrieke aan Lééf te lewer en bly graag deel van die span. Ek het waardering vir Christine-hulle se benadering om geestelike diepte te kombineer met die mooi van die lewe. Gaan kyk gerus!

Dissiplines van die Meester

Ons begin hierdie week met 'n nuwe kursus! Elke kind van God wat geestelik wil groei kom te staan voor die feit dat hy sy lewe so moet inrig dat daar plek vir God is. DIT is waaroor geestelike dissiplines gaan - om jou te "oefen" in die godsaligheid, soos Paulus in die Ou Vertaling sê. Nogtans is geestelike dissiplines nie 'n las nie, maar 'n vreugde, want dit maak ons vry van onsself en vry om vir God te leef. Dissiplines van die Meester is ons ou kursus "Geestelike Dissiplines", wat ons blad vir blad oorgewerk en verbeter het. Dit is vir elke kind van God wat die volgende stap wil neem. Diegene wat ons bediening maandeliks ondersteun kry dit elke week vanself, maar jy kan ook enige tyd daarop inskryf. Vir meer inligting hieroor, kliek hier.

KIES

Ons life coaching program, KIES, is ook heeltemal oorgewerk, uitgebrei en verbeter en heelwat mense is aan die gang met die drie modules van hierdie oulike program. Dit is veral vir die wat voel dat hulle lewe iewers vashaak, dat hulle nuwe rigting benodig en dat hulle verantwoordelikheid wil neem vir hulle toekoms. Soos jy dalk weet is ek 'n geregistreerde life coach en ek glo ons program is tops - ons terugvoer sê dit ook. Kyk gerus na die inhoud van hierdie bekostigbare persoonlike coaching: kliek hier

Dis genoeg vir nou

  • Dis Lydenstyd, soos jy weet, en ons doen "Lent" soos nou al tien jaar, met vas, gebed, barmhartigheid en verootmoediging, maar Lent leer jou maar vinnig jou feilbaarheid! As jy wil lees wat ons doen, kliek hier. Ek het ook 'n gedig geskryf vir my blog, vir die wat in sukke dinge belangstel: kliek hier.
  • Dankie vir jou saamstap, vriendskap en ondersteuning! Dit word baie waardeer. Baie dankie veral aan die Here vir die voorreg om in hierdie bediening te mag staan.

Beste wense daar en baie seën!

Jimi en Maryke

Bid asb. saam met ons:

  • Bid tog saam met ons vir 'n vroeë reënseisoen in die Kaap, want die droogte is ernstig. Damme lê droog en die diere vrek. Ons gebruik die dag se bad om die toilette te spoel en die nodigste plante aan die lewe te hou. Nogtans is God 'n God van wonders!
  • Met die Le Rouxs gaan dit goed. Dis nou al ons tweede jaar in die leë nes-fase, maar ons is bly ons kinders gaan goed aan. Ons het ons dingetjies, maar wat - almal het, en God is goed.
  • Bid maar altyd vir ons bediening: ons werk, maar bly ook so afhanklik dat God sal werk!
  • Kan ons vir jóú bid?

You need to be a member of jimileroux30 to add comments!

Join jimileroux30

Email me when people reply –