Forum 2.0

Padlangs Nuus Julie 2016

outydse woorde #7: bejeën - beskou,benader, behandel. Jy kan iemand met guns bejeën, of ook met liefde of met agterdog bejeën. Die Ou Vertaling sê in 1Sam 20:34 Saul het vir Dawid "smadelik bejeën". Sjoe... ons praat nie meer vandag van bejeën (of van smaad) nie!
 
Dit is Julie - middelwinter! Ek skryf hierdie brief vanuit Tulbagh tussen die berge en het natuurlik my warm baadjie by die huis vergeet, so ek sal vanaand iets moet leen, of môre by Pep iets gaan soek. Mag ek oor hierdie koue dae net 'n pragtige, inspirerende winter-woord vir jou meegee, naamlik die woord "trooskos": pasta met baie parmesaan, goeie sop met vars brood, warm sjokolade of rooiwyn by die vuur - ag wat, kom ons sluit mieliepap met botter in vir ontbyt, en braaihoender met genoeg slaptjips, alles met die hand geëet! Inspirerende woorde inderdaad!
 
Artikels: Leef met 'n Lied
Ons huidige reeks dagstukkies uit die Psalms is goed op dreef. Alhoewel ons vroeër jare ook al deur die psalms gewerk het, gebruik ek die ou reeks maar min. Mens ontwikkel in jou denke en ek sal baie dinge nou eerder anders stel. Die nuwe reeks is ook korter (en kragtiger, hopelik!) en het 'n doen-deel en 'n leesrooster deur die Psalms. Dan gee ons ook vyf agtergrond-artikels saam, waarvan die eerste twee al beskikbaar is. Dit kos niks en help jou om die psalmboek en sy vyf dele beter te verstaan. Kliek hier om na die toepaslike webblad te gaan en dit daar (onderaan - op die groen skakels) in 'n japtrap af te laai.
 
Padlangs kursusse
Ek het nou die dag weer deur die groot klomp kursusse gekyk wat ons beskikbaar het. Daar is baie! As jy inskryf vir 'n kursus, ontvang jy weekliks 'n studiestuk van enkele bladsye per e-pos - alles heel prakties en reguit, niks te ingewikkeld nie. Daar is geen huiswerk of terugvoer nie... Leer meer oor dissipelskap en die geestelike lewe, gebed, werk deur die hele Bybel, leer oor leierskap, selgroepleiding, innerlike heling, die Gees en sy gawes, geestelike dissiplines, mannebediening; doen huweliksverryking saam met jou man (of vrou), kry materiaal vir julle selgroep oor die gelykenisse, Ons Vader of die "doodsondes" en vele meer! Tans werk die grootste groep kursusgangers deur God se name ("Naam bo alle name").
Lees gerus meer:
  • Kliek hier vir algemene info oor ons kursusse - hoe dit werk, ens.
  • Kliek hier om al ons beskikbare kursusse deur te kyk - jy kan telkens die eerste dele gratis aflaai.
  • Kliek hier om meer te leer oor ons kursus oor God se name
Lewens- en geestelike begeleiding
Soos jy dalk weet, is ek 'n geregistreerde lewensbegeleier (life coach). Dis hoekom ons oordenkings dikwels so 'n klap van die 'lewenskuns' weg het. My opleiding is onder Bill Price gedoen, gesertifiseer deur Noordwes Universiteit. Ek doen dus persoonlike begeleiding en ook berading. As jy in die Kaapstad-omgewing is, kan jy my daaroor skakel. Begeleiding gaan meestal oor lewensveranderings, oor keuses en doelwitte, terwyl berading oor die oplos van een of ander probleem gaan: persoonlik of in verhoudings. Jy kan ook kyk na ons selfbegeleidingsprogram (kliek hier vir meer info daaroor), maar ek is ook besig om dit heeltemal oor te werk - sal later meer hieroor skryf.
Dis dalk genoeg vir nou.  Onthou daardie inspirerende woorde oor sjokolade (Wholenut, dankie...) en so aan - ja, dis wel toelaatbaar in die winter!
 
Ten slotte wil ek vir jou baie dankie sê vir die voorreg om die geestelike pad saam te mag stap - dankie dat ons mekaar mag bemoedig en ondersteun en met ons verskillende gawes mag bedien. Hou op SY pad, of sal ek eerder sê: hou agter HOM aan! Mag die Here JOU ryklik seën.
 
Jimi en Maryke
 
Bid asseblief saam met ons:
  • Bid asb. vir ons behoeftes en ons bediening.  Baie, baie dankie!
  • Ons bid ook graag vir jou.  Laat weet gerus!


You need to be a member of jimileroux.com to add comments!

Join jimileroux.com

Email me when people reply –