Forum 2.0

Padlangs Nuus September 2016


outydse woorde #9: neig - nader/draai/buig. In die Ou Vertaling "neig" jy jou oor of jou hart, bv. tot die Here. Ons "neig" nog in 'n rigting, en ons is "geneigd" om iets te wil doen, maar ns ore neig nie meer nie, meneer... Hoe meer jy hierdie woord sê, hoe vreemder word dit! Dit kom van die ou woord vir "naby", dink aan die Engels "nigh" of "neigh + bour" = naby boer. Oulik, né?
 
Hallo Padlangs vriend!
Ai, die maande vlieg en ons is in die "heerlike lente, die winter is verby", ook hier in die Kaap - elders in die land is dit natuurlik al lankal regtig warm.  Dis onnodig om te sê dat die weer te warm en te droog bly en dat ons almal water en krag moet spaar (en die ander nodige dinge) om die klimaat te help red. Dis 'n baie ernstige saak - een waarmee ons kinders hulle lewe lank sal deel. As Christene nie voorstap hiermee nie, verstaan ons nie die Bybel nie.  Amen - dis my preek wat dit betref...
 
Gratis dinge eerste
Ek het weer 'n PRAGTIGE skerm-prent gemaak vir jou rekenaar, hierdie keer van Kirstenbosch Botaniese Tuin, met pragtige pers veldblomme.  Kyk net hoe mooi!  Kliek hier om dit in 'n japtrap op jou rekenaar af te laai.
 
 
Nog groot nuus...
Soos jy dalk gesien het, het ons laas week Padlangs #3333 uitgestuur.  Ek maak 'n hele hoe-ha daarvan, want dit behels meer as 15 jaar waarin Padlangs ONONDERBROKE uitgegaan het!  Ek is innig dankbaar teenoor die Here vir die voorreg om voltyds oor die internet te bedien en sê ook vir jou, LIEWE LESER, baie dankie vir die voorreg om met jou te mag deel wat ek in God se Woord raaksien.  Ek waardeer dit opreg. Help asb. ons bediening aan deur ons dagstukkies aan te stuur of aan te beveel aan jou vriende!  As jy self op Padlangs Oordenkinsg wil inskryf, kan jy hier kliek.
 
Nog goete, gou-gou
Dan herhaal en bevestig ek net 'n klompie goete:
1) Ons life coaching-program, KIES, het 'n hele aantal mense getrek en ons werk nou lekker saam met hulle om hulleself beter te verstaan en om doelwitte in plek te kry wat hulle hele lewe kan verander!  Kyk gerus daarna, dis beslis die billikste begeleiding wat mens ooit kan kry - en die inhoud is so
legit as kan kom.  Kliek hier vir die info.
2) Ons "vlagskip"-kursus is mos tans NAAM BO ALLE NAME, en jy is ook welkom om aan te sluit by die byna honderd mense wat tans meer leer oor God se name!  Kliek hier vir meer info.
3) Ons het steeds 'n aanbod om vir jou ons Padlangs-dagboek, PADLANGS DEUR DIE LEWE, gratis te stuur as jy 'n debietorder teken.  Ek weet nie hoe lank ons hiermee kan volhou nie, want vir elke vyf wat ons stuur, word twee nie deur die Poskantoor afgelewer nie - die mense kry nie hulle strokies om dit af te haal nie.  Dan moet ons dit weer stuur, teen R60 per keer!  Gelukkig, of ongelukkig, raak dit teen dié trant al amper so veel soos die koerier.  Maak egter nog van die aanbod gebruik - dit geld vir bestaande en nuwe lede wat nou debietorders teken.  Kliek hier vir meer info.
 
Nou ja, ek dink dis genoeg vir vandag - mag die Here jou ryklik, ryklik seën, vriend!  Dankie vir elke
briefie, vraag of gebedsversoek
- onthou, ons is maar net aan hierdie kant van die lyn - ook vir almal wat 'n kursus volg en so ondersteun.  
 
Beste wense!
 
Jimi en Maryke
 
Bid asseblief saam met ons:
  • Bid asb. vir ons behoeftes en ons bediening.  Prys die Here vir die voorreg om saam met soveel mense die geestelike pad te mag deel, en bid ook asseblief vir ons behoeftes, op elke vlak.  Baie, baie dankie!
  • Ons bid ook graag vir jou.  Laat weet gerus!



You need to be a member of jimileroux.com to add comments!

Join jimileroux.com

Email me when people reply –