Forum 2.0

Cecilia Fourie skryf af en toe vir my 'n briefie uit São Tomé, 'n eiland direk wes van Gaboen in Wes Sentraal-Afrika.  Hier is haar boodskappie vir Padlangs-lesers:

 

Hi alle mede-Padlangslesers,

Baie dankie dat ek myself aan julle kan voorstel.  Ek woon nou al 10 jaar lank in Wes Sentraal-Afrika. Dit is ‘n wonderlike avontuur, maar soms is dit tog moeilik sover van my mense af en ‘n gebrek aan alledaagse goed, wat ek nou as luukshede beskou...

Ek en my man het in November 2002 na ‘n klein eilandjie genaamd Principe gegaan om ‘n resort, die BomBom Island Resort, te bestuur. Ons dogtertjie, Jana, is gebore terwyl ons daar was. Sy het letterlik op die goue strande grootgeword en het Portugees voor Afrikaans begin praat. ‘n Paar foto’s van Principe:

Aan die einde van 2006 het ons in Principe bedank om by die Loango Lodge in die Kongo Basin, Gaboen, te gaan werk.  Na 3 maande het die eienaar, 'n Hollander, 'n hotel gekoop op São Tomé - die groter eiland waarvan Principe die kleiner maat is (beide deel van die eilandstaat São Tomé & Principe). My man het vir eers agtergebly, maar ek is toe na São Tomé om die bestuur van die hotel daar te behartig.  Dis die hotel waar ek vandag nog werk, maar dit behoort nou aan Mark Shuttleworth. Hier is 'n paar fotos van ons tyd in Gaboen (ons het dikwels in klein vliegtuigies moes vlieg, aangesien dit soms die maklikste vervoer was):

Nadat ons bietjie apart moes bly het my man ook gedurende 2007 in São Tomé kom woon.  Ek geniet my werk as ‘n hotelbestuurder en ag myself gelukkig dat ek tyd het vir my familie. Die gesegde lui: Hotel management isn’t a job, it is a way of life. Die werk het goeie ondersteuningsisteme in plek wat baie help.

Ons is baie bevoorreg om as expats in Wes Afrika te werk sonder die normale stres wat die omgewing kan bied. Om 'n voorbeeld te gebruik, ons 10de regering in 10 jaar is so pas weer omver gewerp - gewoonlik hardloop al wat ‘n expat in die naburige lande terug huis toe, maar hier hoef ons dit nie te doen nie. Ek ry in die dorp met my kinders rond tussen die betogers, want ek vergeet so bietjie van die drama!

Dis ook ‘n groot voorreg dat my kinders aan verskillende kulture blootgestel word en reeds van baie kleins af twee en drie tale magtig is - my dogtertjie is vinnig op pad om nog aan te leer... Dit is egter vir my van die grootste belang dat my kinders Afrikaans praat en in noue kontak met ons families in Suid-Afrika bly.  Gelukkig het my ma nege kleinkinders en my kinders sien hulle niggies as aangelapte sussies. Die hele lot is dogtertjies, behalwe my seuntjie!  My skoonouers woon tussen Caledon en Greyton. Daar is my kinders weer die enigste kleinkinders, so hulle word sommer baie bederf! Kyk hoe lekker word daar in die duine (Kalahari) gespeel:

Ek het in 2007 by Padlangs aangesluit. Dit het ‘n groot verskil in my lewe gemaak om ‘n dominee te hê wat my op ‘n daaglikse basis inspireer en leer van die Bybel. Hier is nog 'n paar fotos van São Tomé:

(6 Des 2012)

You need to be a member of jimileroux.com to add comments!

Join jimileroux.com

Replies are closed for this discussion.