Forum 2.0

Cor van Tonder – nou in Kanada – is een van die min mense wat ons oor het (wie’s daar nog?) wat Padlangs-dagstukkies sedert nommer 1 ontvang het - hy het letterlik almal!  Dit maak Cor ‘n ikoniese lid hier by Padlangs en dit is ook die rede dat ek SO GRAAG wou hê dat ons hom hier bekendstel.  Dankie Cor!  Lees hoe mooi hy daaroor skryf (hy verwys na Gary Kieswetter, my swaer, en bekende prediker in SA):

Ek het in 2003 in Botswana gewerk. Dit was 'n goeie werk, maar dit het beteken dat ek vir 'n week op 'n slag, aanvanklik elke 3de week maar later elke 2de week, alleen daar moes bly, weg van my vrou Lana en my kinders.

Gedurende daardie tye van alleen wees het ek eendag 'n e-pos gekry van iemand wat my ingeskryf het op daaglike Bybelstukkies wat deur iemand in Bloemfontein uitgestuur is.  Op 'n dag het die persoon egter gesê dat hy gaan ophou maar dat Jimi le Roux gaan oorneem met iets soortgelyks. Aanvanklik was ek hartseer want my oggend was onvolmaak as ek nie my stukkie kon lees nie. Toe begin Padlangs deur Matteus.  Die feit dat die Padlangs stukkies 'n sentrale tema of Bybelboek bestudeer het, het by my byval gevind want ek hou daarvan om 'n studie ordelik te doen.

Omtrent dieselfde tyd het Gary Kieswetter ons een oggend kom toespreek by 'n manne-ontbyt op Dendron en het ek opnuut my lewe aan Jesus verbind. Gary het ook daardie oggend pamflette uitgedeel oor Padlangs en ek was trots om die ouens aan te moedig om ook daarop in te skryf, want ek was toe alreeds 'n lid. 

Tussen jou dagstukkies en die honderde CD's wat ek van Gary geluister het, het my geloof met reuse spronge in aksie oorgegaan. Ek het elke liewe dagstukkie gekoester en bewaar en kon en kan steeds nie wag vir die volgende een nie. Na Matteus was Padlangs deur Psalms aan die beurt en wat 'n juweel was dit nie. Daarna Padlangs deur Korintiërs, Padlangs deur die Seisoene en toe Padlangs deur die Lewe  en Padlangs met Jesus, met Padlangs deur die Woord kort op sy hakke.

Ek het hulle almal bewaar en elke nou en dan lees ek terug om te sien wat jy oor daardie spesifieke stukkie sou sê.  Ek kon oor die jare sien hoe die Here met jou 'n pad stap en hoe jou persoonlike geloof ook gegroei het. Jou insig en aanslag bly skerp en tot die punt. Ek glo daar is 'n menigte mense wat tot geloof gekom het deur jou bemoedigende boodskappies.

Ek weet egter hoe dit gaan, in die begin is dit lekker, nuut en opwindend om die groei te sien en dan, amper 10 jaar later, is ek seker dat jy ook al gewonder het of jy moet aanhou hiermee. Wel my vriend, laat ek jou vandag bemoedig soos wat jy al vir so baie duisende mense gedoen het en sê:  asseblief, moenie stop nie! Jy word wonderlik deur God gebruik en jou moeite met die opstel van die stukkies word verseker nie mis gekyk nie. As jy weer 'n studie van 'n Bybelboek wil doen sal dit wonderlik wees, maar vir die oomblik geniet ek jou Padlangs met Wysheid.

 

 

Ons woon vir die afgelope 5 jaar in Kanada. Ek werk hier maar my hart is daar in die Bosveld. Wat ek egter wel weet is dat, maak nie saak waar in die wereld jy jou bevind nie, ons God is reg daar en altyd dieselfde, elke dag. Sonder Hom sal ek nie die lewe kan aandurf nie. Ek dank Hom vir diensknegte soos Jimi en Gary en oom Angus en soveel ander wat getrou elke dag saad saai en sorg vir Sy kinders se geestelike groei.  

Baie dankie vir Padlangs, Jimi. Dit beteken so baie vir my.

Groete uit Kanada.

Cor van Tonder 

Okotoks, Alberta, Canada 

 

Dankie Cor, dankie… waardeer jou mooi woorde so... Aan my en jou Meester al die eer!

 

You need to be a member of jimileroux.com to add comments!

Join jimileroux.com

Replies are closed for this discussion.