Forum 2.0

Ek ken René al sedert sy op laerskool was daar in Springs en ons het met die jare nog altyd die kontak behou.  Toe sy klaar studeer het (BA Kuns op UP) het sy in Engeland gaan rondloop en mettertyd 'n lewe daar gemaak.  Kort voor lank het sy 'n oulike Engelsman ontmoet en aangekeer en dit was wonderlik toe ek haar en Iain vroeër vanjaar naby Gansbaai kon trou - 'n pragtige 3-dae geleentheid. René se Afrikaans is nog soos altyd (sy kry  Padlangs in Afrikaans as ek so vinnig kyk), maar haar Engels klink nou al net soos die Engelse s'n! Hier is wat sy skryf:

Iain en René Bloomfield (en hulle ondersteun duidelik die regte span)

Ek het in 2006 die helder sonskyn van Suid Afrika vir ‘n nat en grys Londen verruil vir wat ek toe gedink het 2 jaar gaan wees. Dit is nou 7 jaar later en ek is nog steeds hier. My besittings het intussen net vertiendubbel en sluit nou onder andere ‘n huis en ‘n man in - baie meer as net die rugsak en slaapsak waarmee ek daai koue wintersdag hier aangekom het!

Die eerste paar maande in ‘n vreemde plek vol mense - almal haastig iewers heen op pad - was ‘n groot aanpassing. Die vreemde was opwindend, maar terselfdertyd ook vreesaanjaend. Ek dink my ma het veral daardie eerste twee jaar haar knieë stukkend gebid vir my en wanneer ek nou terugdink aan die moeiliker tye, was dit alles net deel van die groter plan vir die volgende fase van my lewe. Hier het ek geleer om selfstandig te wees, 

Ek is vroeër hierdie jaar in Suid Afrika deur Jimi getroud aan ‘n wonderlike Engelsman (ja – hulle bestaan!) en ons woon tans in Brockley, ‘n voorstad in Suid-Oos Londen. Die weer is baie belangrik vir Britte, en hulle praat (kla) gedurig daaroor (met goeie rede), so wanneer die son skyn maak ons almal die meeste daarvan. Ek en Iain geniet dit om fiets te ry, en op 'n warm dag (m.a.w. enige-iets bo 14 grade) ry ons die vlaktes in.

'n Fietsrydag - Britse seaside

Reis is in my bloed en my ouers was al ‘n paar keer hier om te kuier en ons het saam al soveel plekke verken. Ek raak nog steeds opgewonde wanneer ek in die stad rondloop en die bekende landmerke sien en besef: ek bly in Londen! Tog verlang ek na Suid Afrika se son en mense, braai, biltong en koeksisters, so ons maak ‘n punt daarvan om gereeld terug te gaan.  

You need to be a member of jimileroux.com to add comments!

Join jimileroux.com

Replies are closed for this discussion.