Forum 2.0

Nieu-Zeeland is mos een van die mooiste lande ter wêreld, grasgroen (het mos die Lord of the Rings daar geskiet) en dan nog so 'n lekkerbly-land ook, veilig, modern en goeie versorging.  Saramariè se ma, Joan Grobler - wat ook elke nou en dan vir my 'n mooi briefie skryf - het haar aan Padlangs bekend gestel (soos ouers in Suid-Afrika dikwels met hul oorsese kinders doen) en sy het vir ons 'n pragtige brief en klomp fotos gestuur - dankie!  Ek was net weer so vies dat sommige so gelukkig kan wees... Kyk hoe mooi skryf sy: 

Sam en ek is in diens op 'n melkplaas op ’n klein plattelandse gemeenskap heel suid in Southland waar jy net die mooiste landskappe sien … mere, valleie, berge, skape met twee- en drieling lammertjies, takbokke en beeste wat onverstoord wei.  Waar jy kyk, is dit groen, die lug helder skoon en blou … wanneer dit gereën het, tel jy die reenboë en verwonder jou aan elkeen se  glimmende kleure.  ’n Sonsopkoms en -ondergang is ’n skouspel in die ware sin van die woord … die wolke se stand bepaal hoe dit gaan lyk en wanneer die kleure in oranje, rooi, goud, pers, pienk en blou deurbreek, kan jy nie anders as om alles met ’n loflied in jou hart gade te slaan nie!  Hier is gewoonlik sneeu op die berge … selfs nog in Desember.  Wanneer die windjie roer, is dit koud, maar enige iets bo 10 is ’n heerlike  dag!  Sam is die bestuurder en ek is die "Calf Rearer".  Om die kalfies groot te maak, is vir my ’n verlenging van my onderwysloopbaan – hulle soek net soveel aandag soos die kinders!  Almal wil jou hand loop en suig en teen jou loop net soos die kleintjies altyd Juffrou se hand wou vat … Na kalftyd val ek ook met die plaaswerk in en het ek by Sam alles geleer oor hoe om beeste te voer, kuilvoer uit te voer, trekkerwerk te doen en die moeilikste van alles om te bemeester, was … om met die sleepwaens aan agteruit te ry!

Oggend by ons is aand in Suid-Afrika.  Wanneer Sam soggens net voor 5 melkery toe gaan, gesels ek ’n rukkie met my ma en my oudste dogter in Suid-Afrika.  Sy het ’n 5-jarige dogtertjie en dan 'n baba wat twee maande gelede gebore is.  Die verlang is soms seer, maar ek is dankbaar vir WhatsApp en BlackBerry en internet wat ’n mens in kontak met jou geliefdes hou, en dankbaar vir Jimi en Maryke en Padlangs met kursusse wat jou gees  verryk … My jongste dogter is my assistent.  Sy is ’n spesiale mensie wat altyd in my sorg sal wees – sy praat dieretaal en is baie gelukkig hier op die plaas. 

 Die Doubtful Sound is 'n toeristeboot waarop ons soms die wêreld verken 

Moeraki Boulders aan die Weskus

Die mediese diens hier is puik. Sam het vroeër vanjaar ’n abses ontwikkel wat onder narkose oopgemaak en dreineer moes word.  Die hospitalisasie en operasie was gratis.  Na hy ontslaan is, het die distriksverpleegsuster daagliks uitgery plaas toe en die wond kom behandel.  Na sy my gewys het hoe om dit te doen, het sy een of twee keer per week gekom en ons voorsien van alles wat nodig was – van ontsmettingsmiddels, pleisters en wondbedekkings tot handskoene en medikasie!  

Ons is nogal ver en afgesonderd van ander mense, maar dit pla my glad nie.  Kruideniersware kan aanlyn bestel word en dit word binne twee dae hier by die huis deur ons posman afgelewer.  Jy kan enige iets aanlyn bestel en laat aflewer … klere, parte, huishoudelike artikels, ink vir jou rekenaar … noem dit!  Ons bestel selfs DVD's. Wanneer dit klaar gekyk is, gaan dit terug in die koevert en gaan dit in die posbus by die pad.  Wanneer die pos die volgende dag weer afgelewer word, sien die posman daar is iets wat gepos moet word en neem dit saam!  Ons pos word elke dag, Maandag tot Saterdag stiptelik om 09:35 afgelewer.  Wanneer ’n pakkie te groot vir die posbus is, los die posman dit (nadat hy gebel het) soms sommer vir jou daar teen die paal en gaan kry jy dit maar later.  Nou die dag het ons skoon vergeet van die produkte wat ek by die Suid-Afrikaanse winkel in Auckland bestel het … Mrs Balls blatjang, All Gold tamatiesous, rooibostee, ens … die volgende dag het die kartondoos presies nog net so teen die hekpaal gestaan!  Niemand vat iets wat nie vir hulle bedoel is nie. 

My dogter - briewe van SA neem 8 dae om ons te bereik, maar heen kan dit tot 'n maand neem!

Die skoolkinders se fietse staan in ’n oop fietsloods teen die sypaadjie … hulle skoene staan in rye voor die saal (niemand gaan met vuil skoene by ’n huis of vertrek in nie – almal los hulle vuil skoene daar op die sypaadjie as hulle in ’n winkel ook gaan!) … geen hekke, geen heinings … die plaas se heinings is ’n meter hoog net om die beeste uit die pad te hou. By die koöperasie is 'n blou kas waarin hulle vir jou goed bêre indien jy dit nie voor toemaaktyd kan afhaal nie.  Ons voertuie se sleutels bly binne die aansluiter van elke voertuig.  Dis hulle plek. Die huis se deure word nooit gesluit nie.  Die agterdeur se sleutel hang aan die buitekant. 

Dit wat eg-Suid-Afrikaans is en ons nie hier kry nie, maak ons self soos ons eie biltong en boerewors (ons hou niks van die Kiwi’s se “sausages” nie), kook konfyt en lê vrugte in.  Wanneer ons gaan vrugte koop, is daar padstalletjies met 'n kissie sodat jyself jou geld daarin kan gooi - ook 'n kaartmasjien om jouself te help indien jy nie kontant by jou het nie. Niemand hou dop of bedien jou nie! Ons bak beskuit, brood, pannekoek en vetkoek en my dogter leer die Kiwi’s melktert eet – dis haar spesialiteit! Hier is geen beskuit in die winkels te koop nie, behalwe Ouma beskuit wat van Suid-Afrika ingevoer word. Dit kos dan ongeveer R60 per pak van 500 g.  

In die sneeu

Die blou kas waarin hulle jou goed sit wat jy later kan kom afhaal

Hier is vrede.  Wanneer ek by my kamervenster uitkyk, kyk ek na Psalm 23.  Wanneer ek by die sitkamer uitkyk, kyk ek na Psalm 121.  Wanneer ek opkyk, sien ek Psalm 8 …  Hier kan ek my dogter los om haar eie lewe te leef en tuis te bly wanneer sy nie lus het om saam te ry nie. Sy kan onbesorg met Zulu die labrador in die kampe op die vierwielfiets gaan ry en haar drome in vryheid droom.  Hier is vir ons ’n tweede kans … ’n nuwe lewe.

You need to be a member of jimileroux30 to add comments!

Join jimileroux30

Replies are closed for this discussion.