Forum 2.0

Vier Kersfees

Nota:

 

Vier Kersfees as ‘n Christen

deur Jimi le Roux

 

#1 Vier Kersfees as ‘n Getuienis

Moet ons Kersfees vier?  Hoe ironies dat ons so ‘n vraag ooit sou vra – Kersfees is dan een van die grootste Christelike feeste ter wêreld?  Nogtans is daar baie Christene wat nie meer Kersfees wil vier nie.  Hoekom?  Omdat Kersfees ook met oorgawe deur baie ongelowiges gevier word, en hulle dit – om eerlik te gaan – eintlik op ‘n manier oorgeneem het.  Hulle het daarvan hulle eie fees gemaak, wat in drie gestaltes bestaan:

  • In sy mooi vorm is dit vir hulle ‘n tyd van gee en vir die gesin, ‘n tyd van welwillendheid.  Hulle streef die bg. waardes na, versier die huis, rig ‘n boom op en deel geskenke uit.  Hulle eet heerlik saam.  Dis alles baie goed en mooi – maar so word Kersfees ook tot in Japan gevier, deur miljoene oortuigde nie-Christene...  Vir die meeste is dit bloot ‘n Westerse en kulturele fees – en ‘n oulike manier om die jaar op ‘n hoogtepunt af te sluit.
  • In sy minder mooi vorm is Kersfees natuurlik ‘n koopfees vir handelaars.  Hulle buit dit uit net om geld te maak – winkels is feestelik behang met versierings en die Kersliedere speel, maar dis die geklingel van die kasregisters wat hulle die blyste maak.  Om te verhoed dat klante van ander gelowe aanstoot neem, noem hulle dit maar net die Festive Season of (so aaklig) die Silly Season, wat ons bring by Kersfees op sy slegste: 
  • In sy lelike vorm is Kersfees die geleentheid vir drink en partytjie hou soos nog nooit nie… dink aan die tipiese jaareind-Kerspartytjie waarop mense dronk raak, op tafels dans en dan ook sommer onder die tafel al daardie ander dinge aanvang waaroor hulle die hele volgende jaar spyt sal wees.  Hei, happy, happy – dis immers Krismis…  

Vir Christene is dit geen Kersfees nie.  Moet ons Kersfees vier?  Ja, ons moet – maar nie so nie.  Kersfees is steeds die grootste getuienis wêreldwyd van Christus se geboorte en net op grond daarvan moet ons dit bly vier.  Ja, die hele wêreld weet dat daar in die middel van die Kersfeesversierings ‘n krip is, en dat in daardie krip ‘n baba lê: Jesus Christus.  Almal weet…  en net omdat dit so is, mag Kersfees nie afgeskaf word nie.  Ons moet dit vier.  Ons eerste punt is dus dat JY moet (of mag - niemand kan jou keer as jy regtig nie wil nie) Kersfees vier.  Maar ons moet dit reg doen.  Kersfees moet ook ‘n getuienis van Christus se geboorte in jou eie huis en vriendekring wees.  DIT is wat ons hierdie week gaan bespreek!

 

Nota: Sommige vier nie Kersfees nie omdat hulle glo dat dit in datum en gebruike vanuit ou Babiloniese godsdienste oorgeneem is – dat dit wesenlik ‘n heidense fees is.   Ek glo nie so nie.  Kliek hier as jy meer daaroor wil lees.

 

#2 Vier Kersfees as ‘n fees

As Christene moet ons beide fees en vas kan doen.  Daar is ‘n tyd om fees te vier en daar is ‘n tyd om te vas.  As Hy beskuldig word dat sy dissipels nie vas nie, sê Jesus dat hulle feesvier omdat die Bruidegom daar is.  Mens vas nie op ‘n huweliksfees nie!  Ons moet dus mooi onderskei.  So is dit ook met Kersfees.  As ons Kersfees met Paasfees vergelyk, sien ons die volgende:

  • Die een herdenk die koms van Jesus na die aarde, die ander herdenk die vertrek van Jesus van die aarde.  Die een gaan oor ‘n geboorte en die ander oor ‘n dood.  Duidelik het die een te doen met die verwagting van redding en die vreugde van ‘n nuwe lewe, en die ander met verlies, afskeid en die dood.
  • Paasfees is dus ‘n tyd van verootmoediging.  Voor Paasfees is daar ‘n 40 dae Lydenstyd waarin baie mense vas van sekere items, om op ‘n manier met Jesus se lyding te identifiseer.  Kersfees het egter ‘n heeltemal ander karakter. Kersfees is ‘n ware feesviering

Maak Kersfees dus ‘n wonderlike en mooi geleentheid.   Versier die huis, speel kersliedere, betrek die kinders by die koop van geskenke, nooi die familie, reël ‘n groot ete.  Volg julle spesifieke tradisies. Laat dit alles stylvol en Christuswaardig wees, maar nie swaar nie.  Hou die  atmosfeer lig en vreugdevol.  Laat die kinders verstaan dat die opgewondenheid en afwagting nie net oor geskenke gaan nie, maar oor Christus se koms.   Verduidelik dat die geskenke oor Hom gaan (die wyse manne het ook geskenke gebring, nie waar nie),  dat die kerse en liggies oor die Lig gaan wat in die duisternis kom skyn het (Mat 4:16), ens.  In die Christelike tradisie van 1500 jaar staan die denneboom vir die ewige lewe, die ster bo-op vir die Betlehem-ster, die stekelrige holly vir Christus se doringkroon, sy rooi bessies vir sy bloed.  Sommige mense doen wondere om ‘n somer-, Afrika-kersfees te vier, teenoor die Europese een wat ons sommer so oorneem.  Om die afwagting vir die kinders op te bou kan die gesin op die vier Adventsondae voor Kersfees telkens nog ‘n kers op die adventkrans aansteek, of die kinders kan van 1 Desember elke dag ‘n venster op die adventskalender oopmaak.  Pak ‘n Kersstelletjie (geboortetoneel) uit sodat daar darem ‘n Josef en ‘n Maria en Kindjie in die krip kan staan, met herders, wyse manne en skape.  Gradeer sommer jou hele Kersfees op – moenie so afskeep nie.  Dit is 'n ware fees! Eet, drink, kuier, geniet!  Hier is elke ouer se belangrikste uitdaging: om vir die kinders die nouste assosiasie te skep tussen die geboorte van Jesus Christus, en wat dit beteken, en die wonder van die Kersfees (terloops ‘n woord wat “Christus”-fees beteken).  Dit is AL waaroor dit gaan.

 

Nota: Ek het meer geskryf oor die oorsprong van die verskillende Kersfeesgebruike en hoe ons Kersfees kan vier.  Kliek hier as jy meer daaroor wil lees.

 

#3 Vier Kersfees rondom Christus

Ons argument is dat ons Christus se geboorte moet vier, maar op die regte manier.  Die Woord Kersfees kom van die Germaanse woord Krist wat Christus beteken en het met ons huidige woord kers eintlik net ‘n toevallige verband.  Dit beteken dus letterlik Christusfees.  Ons moet met vrymoedigheid die fees vier as ‘n Christusfees! Hoe doen ons dit?  Die volgende speel ‘n rol:

  • Eerstens is daar ‘n besluit nodig.  Besluit radikaal dat julle hierdie jaar ‘n wonderlike Christusfees gaan vier.  Verwerp die gedagte wat soms geopper word dat Kersfees ‘n “heidense fees” sou wees.  Dit is waar nie.  Vir minstens 1500 jaar is dit ‘n fees wat Christus se geboorte vier en niks, maar niks anders nie.  Besluit om Kersfees as ‘n Christen, ‘n kind van God te vier dat dit Hom sal eer;
  • Tweedens kan jy deelneem aan die kerk se viering van Kersfees.  Die kerk vier Advent (die afwagtingstyd) en Kersfees deur ‘n hele seisoen van prediking en gebruike en ons kan daarby inskakel.  Lees self ook in hierdie tyd die Kersverhale in die Bybel, let op die leraar se boodskappe daaroor, woon die geleenthede by wat die kerk reël – die Kersspel vir die kinders (as daar nog een is), die Kerssang by kerslig, die Kersdiens op die 25ste.  Sing die kersliedere wat Christus verheerlik – Kom, alle getroues, in die gees nou na Betlehem, kyk daar die Kindjie, tot ons heil gebore… kom buig daar in aanbidding…  hoe mooi!
  • Derdens moet jou privaat Kersviering ook oor Christus gaan.  Gebruike verskil – sommige hou ‘n “Kersboom” op Kersaand (24ste), ander wag vir 12-uur, nog ander deel geskenke uit op Kersoggend.  Hoe dit ook al gebeur, dink ook aan die volgende:  (1) as julle (‘n feestelike ete) saam eet, bid eers en prys die Here vir sy koms – wat van ‘n mooi Bybelvers by elke bord; (2) speel kersliedere; (3) praat oor julle leraar se boodskap – vra die kinders wat hulle verstaan het; (4) praat oor die jaar wat verby is – sê elkeen moet sê waaroor hulle dankbaar was; (5) ook by die Kersboom moet ons eers bid, of ‘n mooi gebed voorlees, en dan ‘n gedeelte in die Bybel lees (dikwels het ons ook gesing);  klein kinders kan verduidelik wat Kersfees beteken – in die verlede het sommige kinders items gelewer (dink nie hulle het daarvan gehou nie!)

As jy ‘n kind van die Here is, is dit nie moeilik om die Here in sy eie feesdag in te bring nie!  Dit kom natuurlik.  Weet dit: ‘n Kersfees sonder Christus is sinneloos en leeg.  Ons hoef nie prekerig of swaar te wees nie (o, asseblief tog nie), maar op ‘n mooi, betekenisvolle en stylvolle manier gaan ons Kersfees oor Christus.   

 

#4 Vier Kersfees met liefde

Kersfees gaan oor God se liefde vir ons.  So lief het God die wêreld gehad dat Hy sy eniggebore Seun gegee het…  Dit wat God in Christus gedoen het, word vir ewig die maatstaf van wat liefde is.  As ons dus Christus se geboorte vier, doen ons dit ten beste deur liefde te bewys.  Jesus sou gesê het dat dit nie soseer moet gaan oor die blink aan die buitekant nie, maar oor die blink aan die binnekant – die blinkste feestafel, heerlikste kos en smaakvolste geskenke beteken niks as daar nie in die hart ook gulhartige liefdevolheid,  warm welwillendheid of ‘n opregte insluiting is nie.  Om mense lief te hê, is moeilik, want mense is dikwels so onliefbaar, maar ware liefde gaan nie oor die liefbaarheid van die mens nie.  Ware liefde gaan oor liefde vir God. Ek het ander lief omdat ek Hom liefhet.  Ek doen dit ter wille van Hom.  En hierdie Kersfees kan iets daarvan na vore kom.  Die volgende is moontlikhede:

  • Maak die familie groter.  Kersfees is die tyd vir families om bymekaar te kom en dis wonderlik.  Ons kan egter verder kyk as net ons eie onmiddelike kringetjie.  Laat ons hierdie Kersfees ons deure, Kersbyeenkoms en feestafel ook oopmaak vir iemand anders.   Laat ons hulle inderdaad welkom laat voel – hulle maak nie inbreuk op ons Kersfees nie, hulle is geëerde gaste.  Nooi betyds!
  • Reik uit.  Nie almal kan ons Kerstafel bywoon nie, maar soveel wat Kersfees sonder familie gaan deurbring, sal ‘n besoekie waardeer.  Onthou die groot behoefte is dikwels nie ‘n koek of geskenk nie, maar belangstelling, menslike kontak, geselskap, tyd.  Dis die groot geskenke wat jy kan gee (maar mooi geskenkies aan die ouetehuis of kinderhuis sal beslis waardeer word)!  Daar is soveel geleenthede vir uitreik en liefde bewys. 
  • Doen iets spesiaals – wat van ‘n persoonlike briefie aan mense om jou waardering te wys (of sommer net dankie te sê vir hulle voorbeeld), wat van anonieme geskenkies aan mense wat jy wil bless…  Is dit dalk tyd vir ‘n jaarlikse dankoffer – ‘n groter bydrae aan ‘n verdienstelike saak?  Is dit dalk tyd dat jy mense kontak en verhoudings reg maak?  Wil jy dalk pakkies maak met ‘n eetdingetjie en ‘n geldjie om op Kersdag aan straatverkopers of parkeerwagte uit te deel?
  • Maak dit ‘n tyd van gee.  Maak die kaste deeglik skoon en ruim uit wat jy WEET jy nie meer gaan gebruik nie. Ons reis met heeltemal te veel bagasie.  Ons leef in ‘n tandekners-arm land en elke bietjie sal ‘n verskil maak.  Gee radikaal weg.  Dit sal jou nie armer maak nie, maar ryker.

Kom ons kry die gesindheid van Christus en beweeg uit ons privaat “hemel” uit, ons gemaksone, en ons betree die “wêreld” daarbuite waar dit rof gaan.  Kom ons laat liefde ‘n verskil maak.  DIT is mos waaroor Kersfees gaan!

#5 Vier Kersfees deur te gee.

Ons argument is dat ons Kersfees moet vier, maar reg moet vier.  Kersfees gaan in sy wese oor die gee van God van homself.  Christus is die grootste kersgeskenk.  Ons gee van geskenke is daarvan die simbool.  Ongelukkig het Kersfees ontaard in ‘n kommersiële fees, nie waar nie?  Die groot bedreiging vir Kersfees is nie die sg. heidense oorsprong daarvan nie (sien Deel #1), maar die kommersiële uitbuiting en oorname daarvan vandag.  Dit steel die wese van Kersfees – nou gaan dit oor mense en hulle geskenke en nie meer oor God en sy Geskenk nie.    Geskenke gee is wonderlik, maar kan ons dalk die klem reg plaas?  Ons kan bv. ‘n streep trek onder die hele mors-van-geld wat geskenke betref.  Ek praat nie van keurige geskenkies om waardering te wys of kinders se harte bly te maak nie.  Gee tog, asseblief!  Ek praat van die banale oordaad van duur, maar nuttelose goed, aan mense wat reeds alles het, van die ophoop van ontoepaslike speelgoed aan kinders wat dit nie kan  waardeer nie.  Iewers moet die dam weer onder die eend teruggesit word…  dink aan die volgende:

  • Hou geskenke klein en min – besluit in die familie dat julle hierdie jaar net by ‘n sekere bedrag gaan hou en hou daarby.  Moenie in ‘n bose geskenke-kringloop verval nie… waar elkeen die ander probeer oortref. 
  •  Hou geskenke smaakvol en keurig – kom ons sien af van baie, groot en goedkoop goed (en sommer van alles wat met batterye werk...  Less is more! Koop eerder ‘n enkele item wat van goeie smaak getuig en draai dit besonder mooi toe.
  •  Hou geskenke persoonlik – ‘n goeie geskenk getuig van moeite wat gedoen is en versigtige oorweging wat daar ingegaan het.  Lê jou eie konfyt of vrugte in en versier die glas spesiaal.  Wat van gemmer-kerskoekies met wit en goue versiersuiker, ‘n stel snare vir ‘n kitaarman, ‘n blik-emmertjie met jou eie badsoute of mooi sepies?
  • Skryf ‘n seën daarby.  As jy ‘n geskenk gee, skryf ‘n mooi nota by waarin jy jou waardering teenoor iemand uitspreek.  Sê wat jy aan hom of haar waardeer en seën hom of haar opreg.  Sulke briefies word tipies meer gewaardeer as die geskenk self.
  • Gee van jouself.  Soms is ‘n geskenk die goedkoop of maklike opsie.  Wat ons eintlik moet gee is soms eintlik versoening, vergiffenis, hulp, aandag, tyd of moeite.   Jou gesindheid moet dalk verander word hierdie Kersfees…  dalk moet jy die Here toelaat om jou ‘n nuwe mens te maak.
  • Gee weg.  Laat ons ons geld nie net in ons eie kringetjie rondstuur nie.  Ons moet ook radikaal kan weggee.  Ons het laas keer meer daaroor gedeel.  Ons rykdom lê nie in besittings nie, maar in verhoudings, in liefde en in diens.  Om weg te gee is ‘n seën, om liefde te beleef is die ware rykdom, sê die Here.

Christus gee sy goddelike lewe prys om na die aarde te kom, en Hy gee sy menslike lewe prys om na die hemel te gaan.  Beide kere gee Hy alles.  Hy gee net.  Hy gee van Homself en Hy gee wat ons nodig het.  DIT bly die fokus van ons geskenk-geëry op Kersfees.  Laat ons dit onthou.

Geseënde Kersfees! 

 

You need to be a member of jimileroux30 to add comments!

Join jimileroux30

Replies are closed for this discussion.