Forum 2.0

Vorige antwoord(e) op ... TIENDES

 

Wat behels my "tiende" en waarheen moet dit gaan?


TIENDES IN DIE OU TESTAMENT

Tiendes in die OT is nogal ’n komplekse saak. Tiendes is net na die tempel gebring, maar daar het dit verskillende funksies gehad:

  • Dit was die onderhoud van die tempel: leefgeld vir priesters en leviete, aankope, herstelwerk, alles wat geld gevra het
  • Dit was ook tot beskikking van die staat. Tiendes en belastings (kerk en staat) het by tye saamgeval. Die koning het dus ook die tempel se skatkis gebruik bv. in oorloë
  • Jy kon ook jou tiendes (ingesluit jou offers) na die tempel bring en daar ’n feesmaal geniet saam met jou gesin (in die Here se teenwoordigheid – Deut 12:17-19), of jy kon betaal vir ander wat arm was (Deut 14:22-29)

Apart daarvan het die koning egter ook belastings gehef (aanvanklik sporadies, later meer gestruktureerd), en was mense aangemoedig om aalmoese te gee vir behoeftiges. Daaruit kan mens aflei dat tiendes in die OT primêr bedoel was vir die onderhoud van die “kerk”, maar dat dit ook via die "kerk" wyer gebruik gehad het.

TIENDES IN DIE NUWE TESTAMENT

Tiendes is steeds die manier waarop die kerk vandag onderhou word, en mens kan dit beskou as God se manier om die kerk te finansieer. Dit is egter ook vandag ’n breër begrip, want ons sien die Nuwe Testament werk op die volgende manier met tiendes en bydraes: 

  • Die opdrag van tiendes word nie in die Nuwe Testament onderstreep nie. Die hele klem in die Nuwe Testament is weg van die wet af, en meer na die hart toe, die motief, dit wat gebeur in 'n verhouding met God. Dit is nie asof die (sedelike) wet ontken word nie, maar asof die klem skuif – reeds met Jesus. Ek sou sê dis in Jesus se lering om eerder onbekende bedrae te gee met liefde en seën in jou hart as om presies 10% af te weeg met ’n verkeerde gesindheid. Ons sien hierdie benadering in al Jesus se uitsprake oor die OT wet – Hy onderstreep altyd die wese van die wet en die gesindheid; die hoekom m.a.w., nie die hoe nie.
  • Paulus sal ook nêrens van tiendes praat nie. Hy neem ’n groot offergawe op vir die arm Christene in Jerusalem (2 Kt 8, 9), maar dis onduidelik of hy bedoel dat hulle hul “tiendes” ook daarvoor moet gebruik. Hy praat nie van tiendes nie, en dit lyk asof hy eerder ’n ekstra, vrywillige offer in gedagte het. Hy beklemtoon die beginsel van saai en maai. Sommige onderskei op grond daarvan (en die OT) tussen tiendes en offergawes. Tiendes dan aan die kerk en offergawes vir liefdadigheid, sendingwerk, ens. Dit mag so wees, alhoewel die Nuwe Testament dit nie so uitspel nie.

Ten spyte van die bg. leer ons uit die Didache (uit omtrent 60-100nC) dat die vroeë gemeentes wel maandeliks ’n tiende weggesit en gegee het. Dit was betaal aan die besoekende leraars wat hulle kom bedien het, asook vir die armes in en buite die gemeente.  Paulus maak dit wel duidelik dat die arbeider sy loon werd is, en dat die leraar vergoeding verdien. Wat mens daarmee saam moet onthou is dat hulle gemeentes nie so goed gestruktureer was soos ons s’n nie – dit was informele groeperings, dikwels sonder ’n eie leraar en daar was reisende leraars wat hulle kom bedien het (soos Paulus self – hy self het egter nie altyd geld geneem nie, maar vir homself gesorg). Die “tiendes” was hulle bydraes tot die kas waaruit vir hulle betaal is.

GEVOLGTREKKING

Wat beteken dit vir ons? Ek het self vroeër onderskei tussen tiendes en offers en het aan die tiendes ’n meer wettiese karakter gegee. Ek dink nou anders daaroor want ek sien nou ook raak hoe Jesus en die vroeë Kerk geoordeel het oor van die ernstigste wette van die OT, nl. Sabbat, en die besnydenis. Hoe kan ons die Sabbat en die besnydenis laat verbygaan, maar op die tiendes klem lê? Die Joodse wet was beskou as bedoel vir die Jode en het nie onder die heidense Christene posgevat nie. Die feit dat Paulus aan die Korintiërs nie van hulle tiendes praat nie kan daarop dui dat hulle in elk geval nie gewoond was om hulle tiendes (’n Joodse gebruik, en hulle was Grieke) te gee nie. Ek dink ons moet in die vloei en gees van die NT probeer bly en dus

  • minder konsentreer op die wettiese van die saak en die detail soos presies hoeveel, netto/bruto, en so aan. Ons moet doodgewoon nie so erg daaroor debatteer nie, want die Nuwe Testament gee NIE 'n antwoord daarop nie.  Ons is van nature op soek na die detail van die hoe en die wat en die aan wie en sulke dinge, maar aangesien die Bybel nie al te veel daaroor sê nie (NT), moet ons aanvaar dat ons ook die klem elders moet plaas;
  • Ons moet meer maak van ons hartsgesindheid, motiewe en ons lewende verhouding met God. Dinge soos ‘n blymoedige hart, die geloofsoorvloed (“mentality of abundance”), die seën van gee (vs. ontvang), gee om die Here te eer, gee en vergeet, en so aan moet eerder onderstreep word.  As ons hart met God reg is, en die Gees lei ons, sal ons reg besluit - dis soos Paulus dit hanteer in Rom 7 en 8.
  • Die beginsel van saai en maai geld in die Woord vir sowel “tiendes” as “offers” en ons praat waarskynlik meer van een groot bydrae vir die Here se werk, met 10% as ’n Bybelse riglyn.

My gevolgtrekking is prakties dat:

  • Ons ons 'tiendes' gee vir die werk van die Here (en 10% van ons inkomste is ‘n goeie riglyn, maar ons kan nie wetties daaroor wees nie.  Diegene wat min het, kan minder gee en die wat meer het, kan meer gee
  • Ons dit breedweg aan die kerk gee; aan die plaaslike kerk veral, maar ook vir God se werk, en soos die Here lei, buite die plaaslike gemeente
  • Ons gee met die regte gesindheid, anders mis ons die hele doel!
  • Ons gee om weg te gee. Tiende-gee is ’n geloofsoefening, geestelike groei, ’n geestelike dissipline, nie ’n geldmaakmetode nie. Dit is nooit ’n koue formule wat ek kan gebruik om geld te maak nie – die wat dit probeer sal agterkom dat dit nie so werk nie. Dan is die motief die groot EK, en nie langer jy, of die Here nie. Tiendes gaan oor loskom van die wêreld, nie om vaster daaraan en aan Mammon te kleef nie. Geld is gewoonlik ’n struikelblok vir ons geestelike groei, en my ervaring is dat die Here nie so oor ons rykdom begaan is as wat ons is nie! Die oomblik as iets nie meer oor die Here (se wil) gaan nie, mis ons die doel

Ten spyte van die bg. is daar ’n belofte in die Skrif (OT en NT) van saai en maai (bv. in Maleagi 3). Dit is ’n geestelike beginsel wat ons as waarheid kan aanvaar. Die toepassing daarvan is egter in God se hande en die doel van tiendes is om dit blymoedig daar by Hom te los.  Om in die koninkryk te gee, kan ons nie armer maak nie, net ryker.

You need to be a member of jimileroux30 to add comments!

Join jimileroux30

Replies are closed for this discussion.

Replies

  • Jimi jy gebruik dieselfde "dele/verse" in die Bybel wat ek ook nagegaan het, maar in hierdie skrywe maak jy ñ ander deur oop wat ek glad nie raakgesien het nie. Ek voel altyd ek wil so graag gee soveel ek kan om dankie te sê vir die genade en liefde wat ek in my lewe ontvang - wat reg is ook, MAAR (hier kom dit nou) ek lei af uit hierdie skrywe dat ek nie stereotipies die 10% vir die kerk hoef te gee nie, maar ek kan dit vir iemand by die werk gee wat swaar kry en ek sien dit. Mens sien letterlik hoedat daardie persoon skraler word omdat die gordel so styf getrek word. MAAR (weereens) as ek dit doen en al die ander gemeentelede redeneer so wie sorg vir ons dominees? Ek is baie lief vir hulle en wil nie sien dat hulle sukkel nie en soos jy tereg sê Paulus stel dit baie duidelik dat die gemeente vir die leraars moet sorg. Vir die geestelike groei wat hulle in my lewe gebring het, wil ek asseblief deel wees aan "sorg vir hulle" hoe klein my bydrae ookal is. Nou die ander saak sê bv ek het hierdie groot skuld - ek gee maandeliks my tiende (dit is nou bydrae en ingesluit in hierdie tiende barmhartigheidsdiens van ons kerk) maar as ek ietsie minder gee vir ñ jaar kan ek my skuld gouer afbetaal - is dit toelaatbaar. Jimi jy weet hierdie website is enige christen se droom - om te kan vra en hulp te kan kry. Duisend dankies. Rynie
    • Dis eintlik baie moeilik om hierop te antwoord Rynie - ek sou nie sê ons moet ons "tiende" gebruik om ons skuld te betaal nie, maar ek weet wel dat ons uit Nuwe Testamentiese perspektief "tiendes" radikaal uit die konteks van 'n WET moet haal en radikaal in die konteks van LIEFDE moet plaas (soos Jesus met al die OT wette doen). Ons gee omdat ons Hom liefhet - en natuurlik ook sy gemeente liefhet en sy leraars liefhet en behoeftiges liefhet. Liefde is die motief, niks anders nie. Die spesifieke detail van toedelings moet ons individueel met die Here uitmaak. Goed gaan!
      • Baie dankie ek verstaan. Soms raak mens se kop bietjie deurmekaar en haak mens uit. Ek moet maar net teruggaan na my persoonlike missiestelling "Jesus het my verlos deur SY kruisdood en vir daardie genade wil ek dankie sê deur die liefde te lewe". Soms voel dit vir my sodra mens konsentreer op iets dan is daar die donker/verkeerde wat allerhande goed fluister. Nouja seënwense vorentoe en nogmaals dankie vir jou geduld en tyd met my. Rynie.
This reply was deleted.