Padlangs Bediening is 25


Padlangs Bediening is 25

Die storie van Padlangs

(Lees: 2-minute) 

In 2001 het ek saam met enkele vriende met 'n internet-bediening begin wat ons “Netkerk” genoem het. Om “kerk” op die internet aan te bied was ’n nuwe gedagte en ons was een van die eerstes wat dit in Afrikaans gedoen het. Ek het geweet dat die gedagte en roeping van die Here kom, maar dit het net ’n jaar of wat gehou. Ons het wel baie lesse geleer. Een aspek van Netkerk het bly staan, naamlik die daaglikse oordenkings, wat ek “Padlangs” genoem het.

Die eerste Padlangs-oordenking is uitgestuur op 2 Julie 2001.

Na Netkerk se ondergang het ek met Padlangs as eie bediening voortgegaan. Vir agt jaar was dit iets wat ek apart van my werk as leraar gedoen het – ’n pet project. Die Here het Padlangs egter geseën en met tyd het dit uitgebrei van die dertig eerste ontvangers tot vyfhonderd en later duisende.

In 2004 moes ek bydraes begin vra, omdat ek nie meer elke oggend vyfhonderd oordenkings persoonlik kon uitstuur nie. Ek moes ’n rekening oopmaak, by 'n professionele poslys aansluit, 'n webruimte kry, ens. Na ’n tyd van wisselende inkomste het die Here vir ons ’n model gegee wat ons inkomste gestabiliseer het: om kursusse as insentief vir bydraes te gebruik - nie net vra nie, maar ook gee. So het ons met ons kursusse begin. DIt het die bediening volhoubaar gemaak. Maryke het toe ook begin om die administrasie te behartig.

In 2007 het ek besef dat ons 'n punt kan bereik dat ons voltyds met Padlangs sal kan werk. Ek het dit stadig benader, want ek wou nie onverantwoordelik wees nie. Ek het immers ’n salaris gehad en 'n goeie posisie by 'n pragtige kerk in Johannesburg. Ons het ’n baie duidelike roeping nodig gehad om so ’n stap te neem, want ons inkomste was nie genoeg vir 'n maandelikse salaris nie.

By die See van Galilea, op 27 Maart 2008, het ek ernstig hieroor begin bid en op 29 April 2008 het die Here vir my sekerheid gegee uit Luk. 5:4-6: “Gaan uit na die diep water, en laat sak julle nette daar om vis te vang.” “Meester,” antwoord Simon, “ons het die hele nag deur geswoeg en niks gevang nie, maar op u bevel sal ek die nette weer laat sak.” En toe hulle dit doen, het hulle soveel vis gevang dat die nette wou skeur. Netkerk was ’n mislukking, maar ek moes weer probeer, in die “diep water” van ’n voltydse geloofsbediening.

Op grond van hierdie woord en dit wat in ons harte geleef het, het ons na 'n voltydse bediening toe begin werk. In die middel van 2009 het ek dit met my mentor gedeel en aan die einde van 2009 het ons die geloofstap geneem. Uit Jeremia en Esra het die Here vir my die lesse geleer van hoe dit sou wees. Ons het Kaap toe getrek - waar ons vandaan kom - en werk sedert 2010 voltyds met Padlangs.

Met die jare het baie aspekte van die bediening gekom en gegaan. Ons het baie mense oor die wêreld ontmoet, seën en wonders beleef, maar ook baie mislukkings. ’n Geloofslewe is soms baie moeilik. In dit alles was die Here getrou en het Padlangs in diepte en breedte gegroei. Vandag is byna 5900 oordenkings al geskryf. Ons het vir jare oor die radio bedien, skryf vir tydskrifte, het ’n Padlangs-toer na Israel onderneem en ons oordenkings word in boekvorm gepubliseer. Die Zoom-klasse wat ons nou hou is vir my lekker. ’n Groep vrywilligers het hulle by ons aangesluit.

Nou, 25 jaar later, moet ons weer deeglik besin. Die wêreld het baie verander, tegnologies, geestelik en ekonomies. Die krag van die internet lê nou in sosiale media en die selfoon. Daar is nou honderde geestelike blaaie en oordenkings beskikbaar. Die temas en behoeftes van die nuwer generasies is anders. Daar is egter ook wonderlike nuwe moontlikhede, bv. KI. Ons vertrou die Here weereens om vir ons die pad te wys.

Ons is só dankbaar teenoor die wonderlike mense wat ons deur die jare ontmoet het, die getroue lesers en bowenal die ondersteuners, bidders en vennote – sommige maak ’n besondere verskil. Ons gemeenskap is committed en lojaal – die gemiddelde ondersteuner is al agt jaar by ons – en daar is steeds diegene wat van die heel eerste Padlangs-oordenking af steeds met ons is. ’n Besondere dank ook aan ons vrywilligers wat help, veral die wat al jare met ons is. Dankie vir JOU - wat jou verhouding ook al met ons ook al is.

Nog meer is ons dankbaar en nederig vir die goedheid en guns van die Here oor al die jare. Hy het dit moontlik gemaak, hoe weet ons self nie - in onsself het ons werklik geen besondere verdienste, vertroue of vermoë nie. Alles is genade. 

Wat 'n voorreg!

Jimi le Roux

2 Julie 2026