Lydensreis - 40 dae


Lydensreis - 40 dae

In 2024 is Lydenstyd van 14 Februarie (Aswoensdag) tot 30 Maart (Stil Saterdag).

  • Kliek hier om die gebede af te laai wat ons oor Lydenstyd op Facebook sal plaas.
  • Kliek hier om na ons Facebook-Blad te gaan.

Wat is Lydenstyd of "Lent"?

Lydenstyd (“Lent” of “Die Vaste”) is die 40 dae (Sondae uitgesluit) vanaf Aswoensdag tot die Saterdag voor Paasfees. Lydenstyd herdenk Jesus se laaste dae, soos dit oploop na die kruis toe en is ‘n tyd vir nadenke, gebed, verootmoediging en hertoewyding. Die oorsprong van Lydenstyd is in die vroeë kerk, wat ‘n vastyd voor Paasfees gehad het. Mettertyd het baie Lydenstyd-gebruike ontwikkel, wat vandag deur Christene uit alle agtergronde gevolg word. Lydenstyd word allerweë ervaar as ‘n besondere tyd van verdieping en ontmoeting.

Wat is die belangrikste dae tydens Lydenstyd?

  • Aswoensdag, die 40ste dag (Sondae uitgesluit) voor Paasfees, is die eerste dag van Lydenstyd. In die ou kerke is daar ‘n diens op Aswoensdag waartydens gelowiges ‘n kruis van as op hulle voorkoppe kry. Die as simboliseer rou en verganklikheid.
  • Palmsondag is die Sondag voor Paasfees en herdenk Jesus se intog in Jerusalem, toe die skare Hom met hosannas verwelkom het en palmtakke en klere voor Hom gegooi het. Op hierdie dag word die kerk met palmtakke versier. (In die ou kerke word die palmtakke dan later gedroog en verbrand om die as te skep vir die volgende jaar se Aswoensdag.)
  • Donker Donderdag is die dag voor Goeie Vrydag. Dit herdenk die instelling van die nagmaal op die aand voor Jesus gesterf het. Baie kerke het op Donderdagaand ‘n Tenebrae-diens. Hierdie “Diens van Duisternis” behels Skriflesings en sang, waartydens die ligte geleidelik afgeskakel word. In duisternis en stilte gaan die lidmate dan huis toe.
  • Goeie Vrydag is die herdenking van Jesus se kruisdood. Die “Goeie” in die naam dui op die feit dat Jesus se dood 'n offer was, in ons plek, waardeur ons vergifnis vir ons sondes kan ontvang. Die meeste kerke hou op Goeie Vrydag ernstige dienste wat fokus op die betekenis van die kruis.
  • Stil Saterdag is die dag waarop Jesus in die graf was. Stil Saterdag leer ons om te wag, soos Jesus ook moes wag. Dit is die 40ste en laaste dag van Lydenstyd, en van ons vas, want die volgende dag, Paassondag, is 'n feesdag.
  • Paassondag is die blye viering van Jesus se opstanding uit die dood. Deur sy opstanding het Jesus die weg vir ons gebaan om 'n verhouding met God in hierdie lewe te hê en om die ewigheid met Hom in die hemel deur te bring. Kerke het dikwels vroegoggend-dienste waarin die opstanding blymoedig aangekondig word: “Hy het opgestaan! Hy het waarlik opgestaan!”

Wat gebeur gedurende Lydenstyd?

Elke Christen vier Lydenstyd soos hy wil, met die volgende breë riglyne in gedagte. Na aanleiding van Mattheus 6:1-21 is die drie hoofsake waarop ons gedurende Lydenstyd fokus (1) gebed, (2) vas en (3) barmhartigheid.

  • Gebed gedurende Lydenstyd fokus op ons behoefte aan God se vergifnis. Dit gaan oor berou (om weg te draai van ons sondes) en om God se genade en liefde te ontvang. Ons doen in hierdie tyd meer moeite om te bid.
  • Vas, om iets prys te gee, is 'n algemene praktyk tydens Lydenstyd. Mense gee iets kleins prys om hulle aan Jesus se groot prys te herinner, bv. koffie, soetgoed, alkohol, of ander dinge soos hulle tyd op Facebook.
  • Liefdadigheid is 'n manier om op God se genade, vrygewigheid en liefde te reageer. Tydens Lydenstyd sal mense meer moeite doen om geld te gee, hulp aan te bied of op ander maniere nood te help verlig.

Dis belangrik om op te merk dat hierdie dinge (BID, VAS, GEE) nie Jesus se offer aanvul of verdienste in sigself behels nie. Dit weeg natuurlik geheel en al nie op teen die groot offer van die kruis nie. Nee, dis slegs ‘n herinnering vir onsself aan die groot dinge wat God gedoen het.

Ek vier Lydenstyd al baie jare en vind dit telkens weer 'n wonderlike geestelike ervaring. Neem gerus deel op jou eie manier, of volg ons daaglikse gebede op Facebook. 

.