Langs die Pad Mei 2021

Hallo daar!

Die dae raak koeler en korter soos ons stadig die winter in beweeg. Ons leef steeds in die skadu van Covid-19, of ons nou wil of nie. Feitlik almal is al daardeur geraak, hetsy finansieel, emosioneel of liggaamlik. Sommige is deur diep waters en ander het geliefdes afgestaan. Ek het vandag weer met iemand gepraat wat net dankbaar is dat hy leef.  Ons moet eenvoudig in geloof vorentoe gaan, so verantwoordelik as moontlik, en die Here bly vertrou. Daar is 'n les in al hierdie dinge en die les is om na God te draai en op te hou om onverantwoordelik met die aarde om te gaan. 'Skuus vir die "winter"-gedagtes, my eintlike nuus is inderwaarheid baie positief:

 

In die tempel

Terwyl ons baie kursusse het wat mense by ons volg, is daar altyd 'n "vlagskip"-kursus. Dis die kursus wat die meeste mense van ons ontvang. Ons vlagskip-kursus van Januarie af was Leer ons Bid, ons nuut oorgewerkte kursus oor die Ons Vader. Daarmee saam het ons ook 'n weeklikse video gehad en 'n aanlyn-klas. Hierdie kursus kom egter binnekort tot 'n einde. In Junie begin ons met 'n nuwe kursus, "In die Tempel". Dit gaan oor die heiligdomme van Israel en wat dit vir ons beteken. Ons beskryf die altare, die tabernakel en die tempels van Israel en wat die uitleg en elemente daarvan vir ons geestelike lewe beteken. Die tempel is immers 'n simbool van ons eie nadering tot God, in die heiligdom van ons eie hart. Kom reis gerus saam - die geskiedenis en simboliek van die tempel is so interessant! Vir meer inligting en die eerste dele, kliek hier.

  • ons kursusse gaan aan diegene wat ons bediening ondersteun met 'n nominale bydrae. Vir meer inligting, kliek hier
  • ons kursusse behels bloot 'n weeklikse studiestuk. Daar is geen verpligting i.t.v. huiswerk, bywoning of so iets nie
  • kyk gerus deur al die interessante temas wat ons aanbied deur hier te kliek

 

Net weer die volgende...

1. Ek sou graag 'n Facebook Blad vir ons Engelse oordenkings wou oopmaak en benodig 'n medewerker wat dit vir ons kan hanteer. Dit sal o.a. behels om weeklikse plasings te skeduleer en op minimale wyse te interakteer - in Engels, né...  Ek wil nie ons bestaande medewerkers verder belas nie en my eie program is vol. As dit nie gaan gebeur nie, is dit ook goed - ons werk net met die kapasiteit wat ons het. Maar dalk HET jy tyd...

  • Skryf gerus op ons Engelse oordenkings in op hierdie blad . Jou aanbeveling aan jou Engelse vriende word ook baie waardeer.

2. Ek benodig vervoer vir die laptops wat ruimhartig geskenk is PE/Uitenhage toe. Dis tans in Mosselbaai. As iemand dalk weet van 'n geleentheid, laat asb. weet. Dis vir 'n leraar. 

Dan wil ek net weer, soos altyd, dankie sê vir die saamstap op die geestelike pad. Elke Padlangs-vriend en -vennoot word waardeer, en elke briefie, elke gebed en elke bydrae. Baie dankie! 

Baie seën!

Jimi en Maryke

 

You need to be a member of jimileroux.com to add comments!

Join jimileroux.com

Email me when people reply –