Waar kom Padlangs vandaan?

3656857774?profile=RESIZE_180x180

Waar dit begin het...

Doer in 2001 het ek saam met Gary Kieswetter (my swaer), sy seun Timothy en Leon Goosen (gospelsanger) met 'n internet bediening begin wat ons "Netkerk" genoem het. Daar was beslis iets in my hart wat van die Here gekom het, maar dit het net so 'n paar maande gehou... Ons het baie lesse geleer, o.a. dat daar wel 'n groot behoefte aan internet-bediening is - en sekerlik sal toeneem - maar dat dit nie noodwendig 'n inkomste gaan inbring om van te leef nie!  Die kultuur van die internet is dat dit verniet moet wees, en die evangelie is mos in alle geval verniet, nie waar nie...?  Nou ja, "Netkerk" het gevou, maar een aspek - die gratis een, natuurlik - het bly staan en gegroei: ons dagstukkies, wat ons "Padlangs" genoem het.

Na Netkerk se ondergang het ek met Padlangs as eie bediening aangegaan. Timothy het weer voortgegaan om 'n internetbediening rondom Gary se prediking te bou, asook sy eie bedieninge. Padlangs was vir agt jaar 'n sideline, soos hulle sê - 'n stuk bediening wat ek apart van my voltydse werk gedoen het. 'n Pet project.  Iets wat ek kon doen, en wat die Here geseën het. Met verdrag het dit egter uitgebrei tot die duisende lesers wat dit vandag volg, en ons het stelselmatig verbeter, verbrei, verdiep. Die uitreik het toegeneem, die uitgawes ook, maar darem ook die inkomste. Op 'n stadium het ek net begin bydraes vra - lees lees hier hoe en hoekom ek die ondersteuning van PADLANGS gereël het.

Mettertyd het ek besef dat ons 'n punt kan bereik dat ons voltyds met hierdie bediening sal kan werk. Ek is egter nie iemand wat sommer my salaris prysgee nie en was in elk geval in 'n goeie posisie by 'n pragtige, groot kerk. In 2008 aan die See van Galilea het ek met die Here hieroor begin praat en het ek daarna sy stem gehoor uit Lukas 5: Gaan in na die diep water, en gooi julle nette weer in! Waarop Petrus natuurlik sê: Here, ons het reeds dit probeer - dit het nie gewerk nie! Maar, op U Woord sal ons gaan.... En so het hulle 'n groot vangs gehad. Op grond van hierdie woord en dit wat in ons harte geleef het, het ons begin werk na 'n voltydse bediening toe. In die middel van 2009 moes ons daaroor besluit.  Alles het daarop gedui en ek het, toe ons van verlof terugkeer, dit met my mentor, Johan Geyser, gedeel. Hy het 'n mooi pad met my daaroor gestap en aan die einde van 2009 kon ons die geloofstap neem. Uit Jeremia en Esra het die Here vir my die lesse geleer van hoe dit sou wees. Ons het sak en pak Kaap toe getrek - waar ons vandaan kom - en werk sedert 2010 voltyds met Padlangs.  En dis waar ons nou is.

As ek terugkyk op my lewe sien ek hoe alles wat ons gedoen het bygedra het tot waar ons nou is: ons finansiële sake, geestelike vorming, beroepsondervinding, ons vriende en verhoudings.  As ek in myself kyk, weet ek dat ek uitleef wie ek is - dat God my gawes in bediening kan gebruik en DIT is die grootste voorreg wat daar is. Ek is diep, diep dankbaar.

 

3284372311?profile=RESIZE_480x480En nou...

Padlangs word daagliks deur ongeveer 7000 mense ontvang.  Die terugvoer gee aanleiding tot gebed, bemoediging, begeleiding - bediening! Omtrent 'n 1000 mense het reeds ons geestelike kursusse gedoen. Medewerkers het by ons begin inhaak en help ons met die verskillende formate en platforms wat ons tans gebruik (Afrikaans, Engels, podcast, Facebook, WhatsApp, Telegram...) - ek is so dankbaar vir hulle! Van ons Padlangs-vriende is al jare met ons, en enkeles is van nommer een saam met ons!  Met sommige vriende stap ons die pad net kortliks saam, met ander stap ons jare en jare saam - dis heerlik!  Ons het 'n vriendekring ontwikkel, 'n virtuele gemeenskap - en alhoewel ons nie die kerk wil of kan vervang nie (ons is immers deel van die kerk) is Padlangs vir sommige hulle kerk, om 'n verskeidenheid van redes.  Behalwe Padlangs bedien ons waar ons kan, ek skryf maandeliks vir Lééf-tydskrif (so 'n voorreg), en het vir jare weekliks 'n radio-spot gehad. Ons dagstukkies en ander materiaal is intussen deur CUM in boekvorm uitgegee, en omtrent tien boeke het al verskyn. Ons het al na Israel getoer met Padlangs-lede en sal dit graag weer wil doen...

Waarheen gaan ons?

Ons wil die standaard hoog hou. Ons gaan eerder vir diepte as breedte. Ons wil bou, nie net bless nie. Ons gaan vir die lang termyn.  Ons doen alles in verhoudings.  Daar is soveel wat nog moet gebeur. Ons moet uitbrei: verdubbel, verdriedubbel.  Die ander aspekte van ons bediening moet groei. Daar moet nog deurbrake kom. Ons klop aan baie deure en baie moet nog oopgaan... Nogtans is God altyd betroubaar, altyd goed en altyd die Een wat ons verras. 

In dit alles bly ons afhanklik. In eie vermoë kan ons nie op hierdie pad bly nie. Ons oë bly dus op die Here vir leiding en seën. Ons bly op die pad agter Hom aan - soms nader, soms verder, maar ons sê soos Merton:

We don't know where we're going, but we know we're following Jesus.

Jou belangstelling en ondersteuning is baie waardevol. Dankie vir die voorreg om jou te mag bedien. Ons hanteer dit altyd met die grootste respek. As jy ons dagstukkies lees, dankie! As jy dit aanstuur, of kommentaar lewe, des te meer so. Baie dankie! As jy bydra deur 'n kursus te bestel of andersins: baie, baie dankie. Ons bid gereeld vir jou, vir elke leser, elke kursusganger, elke bydraer en elke voorbidder. Bid asb. vir ons - bid vir ons bediening, bid vir Padlangs! 

Die Here seën jou.

Jimi

 

As jy meer inligting wil hê oor ons kursusse, kliek hier

As jy meer inligting wil hê oor 'n bydrae, kliek hier

 

Terug na die Jimi-infoblad

Terug na die Bydraes-infoblad

 

 
3801042100?profile=RESIZE_180x180

You need to be a member of jimileroux.com to add comments!

Join jimileroux.com

Replies are closed for this discussion.