Jimi: Waar staan ek geestelik?


Jimi: Waar staan ek geestelik?

Waar staan ek geestelik?

Ek kom al ‘n pad met die Here. Ek is gebore in ‘n huis met ouers wat die Here gedien het en het finaal my lewe vir die Here gegee in St 9. Ek het die Here se roeping beleef terwyl ek besig was om ingenieurswese te studeer en het toe teologie gaan studeer by die CGTS, Unisa en die US. Daarna is ek bediening toe. Ek is geestelik in die middel:

  • Ek is opgelei in die gereformeerde teologie en put daaruit die wesenlike van hoe ek glo. Nie dat ek met alles saamstem nie - ek is ook post-gereformeerd. Hierdie denke staan immers in 'n konteks en ons konteks is soveel anders. Nogtans voel dit ek word al meer gereformeerd hoe ouer ek word. Ek hou van die soberheid en ritme.
  • Ek het grootgeword in 'n evangeliese kerk en glo elke mens moet die Here persoonlik aanneem, maar ek glo nie dat God met twee mense presies dieselfde werk nie. Ek glo nie aan worsmasjien-christenskap of aan 'n 3-stap benadering nie. God is groter as dit. Ek is "post" dit - post-evangelies. 
  • Ek het die charismatiese vernuwing beleef, ek ken die werk van die Heilige Gees en ek beoefen sy gawes (meer so as wat jy dink). Ek is egter ook post-charismaties, bloot omdat daar goed is wat fake en vlak is, skeefgetrek om God sover te kry om my te seën. En die kerk van Jesus is groter as wat die laaste 100 jaar gebeur het...
  • Ek is in 'n sin ook post-protestants. Die Hervorming was nodig, maar die ou kerk was nie nét verkeerd nie. Dit wat reg en mooi is moet ons behou. In elk geval, almal was nie vir 1500 jaar verlore nie. Ek voel tuis in die rustigheid van die kontemplatiewe benadering, en groei daarin, maar ook weer net tot op 'n punt.

Ek is seker maar 'n post-moderne leraar, maar hoe anders, want ons leef in 'n post-moderne tyd. Onthou, "post" is nie "non" of "anti" nie - dit is bloot vry om terug te kyk en te beoordeel. Ek neem die beste uit elke benadering. Ek is bekommerd omdat die kerk van Jesus relevansie verloor - en amper geheel en al onder die jeug. Ons moet dringend nuwe maniere vind om Christenskap vir 'n nuwe generasie aan te bied. Totaal nuut. Ons kan eenvoudig nie vasgevang bly in die historiese, evangeliese en charismatiese tradisies nie. 

Eintlik wil ek nie 'n etiket hê nie. Ek sê nie ja vir 'n sisteem as sulks nie. Dis meestal mense se dinge. Ek is op 'n reis met die Here. Ek is op ‘n ruimer plek. ‘n Nederiger plek ook hopelik, want ek wil naïewer wees as wat ek eens was, toe ek nog antwoorde vir alles gehad het - of so gedink het. Ek wil eintlik minder weet, behalwe dat God groot is. En dat sy liefde en genade alles is.

Die volgende is my persoonlike geloofsbelydenis, na aanleiding van die credo van die kerk van die eeue:

    Ek glo dat die Almagtige God my Vader is -
    dat Hy my gemaak het, my ken en my liefhet.
    Ek glo dat Jesus Christus God is
    wat Homself vir my sonde gegee het.
    Hy is uit die Maagd Maria gebore,
    maar deur ons verwerp,
    Hy is onder Pontius Pilatus gekruisig en begrawe,
    maar het op die derde dag weer opgestaan,
    na die hemel opgevaar,
    waar Hy aan die regterhand van God regeer
    en vir my intree en bid.
    Ek glo dat die Heilige Gees my na God toe lei,
    my gebreke vergeef,
    my vorm na die beeld van Jesus Christus,
    sy Eniggebore Seun, my Here.
    Ek glo dat ek deel is van een heilige, algemene kerk,
    die Liggaam van Christus,
    dat alle gelowiges my broers en susters is,
    dat Christus weer sal kom om my te haal,
    dat Hy alles reg sal stel en
    dat ek vir ewig by Hom sal leef.



    .