Daar is ‘n ontstellende e-pos wat die rondte doen, oor die feit dat die Ouijabord nou by Toys-R-Us te koop is. Baie (of die meeste van die) e-posse wat die rondte doen , m.a.w. wat deur goedbedoelende Christene aangestuur word, is ongelukkig oordrywings of leuens, oftewel fabriseersels, scams, hoaxes, ens. Wonderlike vondse wat gemaak is, ens. is meestal nie eg nie. Die kindertjies van Liewe Jesus is dikwels baie liggelowig, wat jammer is, want dit verlaag ons geloofwaardigheid in die wêreld as ons agter elke ding aan hardloop wat later blyk vals te wees. As jy ooit oor iets twyfel, kopieer net die opskrif van die sirkulerende e-pos en google dit – dit sal jou binne ‘n sekonde bring by webruimtes waar daardie einste wonderlike ontdekkings al gekategoriseer is en gewys word hoeveel jaar dit al om die wêreld gaan. Onthou, as reuse skedels werklik gevind is, sal dit beslis in die Huisgenoot of Rapport berig word! Dit sal die argeologiese ontdekking van die jaar wees.
Hierdie een is egter waar. Jy kan dit vir jouself verifieer deur eenvoudig na www.toysrus.com te gaan en ouija in te tik onder SEARCH. Wie sou kon glo dat ‘n spiritistiese toestel van die aard in ‘n speelgoedwinkel verkoop sou word? Dit is absoluut skokkend en ‘n teken van die tye waarin ons leef. Dit is presies dieselfde as dat hulle stelle sou verkoop om mense te vervloek, om geeste op te roep of om fortuin te vertel. Hierdie dinge is natuurlik alles beskikbaar op die internet, en in boekwinkels (as okkulte materiaal), maar hier word dit op groot skaal bemark as onskuldige speelgoed aan kinders.
Die Ouijabord is ‘n eeue-oue manier om geeste te raadpleeg en word nou verkoop as ‘n gewone bordspeletjie soos Monopoly. Dit staan ook bekend as glasie-speel, of glasie-glasie. Dit werk so: die letters van die alfabet is uitgepak op die bord. ‘n Glasie word onderstebo op die bord gesit en die deelnemers sit elk ‘n vinger daarop. ‘n Vraag word hardop gevra. Die glasie beweeg dan letter vir letter (met die vingers daarop) en spel die antwoord uit. ‘n Vraag bv. soos hoeveel geld is in een deelnemer se agtersak, waar is ‘n item wat ek verloor het, ens. word gewoonlik korrek geantwoord. Lees gerus die kommentaar van die persone wat die “speletjie” gespeel het op die bg. webruimte. Dit “werk” regtig, tot almal se verbasing. Die wat dit speel, glo dat hulle die vrae vra aan ‘n afgestorwe gees. Let wel, dis nie ‘n kullery nie. Die nie een persoon wat die glasie stoot of manipuleer nie, en daar is nie ‘n onbewuste psigiese oorsaak nie. Dan sou die korrekte antwoorde nie verklaar kon word nie.
LET WEL
Hierdie speletjie is baie, baie gevaarlik! Ek wil elke kind van God waarsku om nie naby so iets te kom nie, aangesien dit ‘n toestel is wat vir die duiwel opgestel word, wat hy graag sal gebruik. Wees verseker, as ons vir hom ‘n toestel opstel, bv. ‘n naald wat swaai, ‘n boek wat oopval, ens. sal hy dit gebruik. Die volgende kan egter gebeur met die Ouijabord:
· Soos uit die terugvoer op die bg. webruimte blyk, kan die speletjie hand-uit ruk. Deure begin klap, ligte gaan dood, en geluide word gehoor. Daar word gewaarsku om nie die gees se naam te vra nie, en ook nie hoe hy gesterf het nie;
· Let op dat ons nie glo dat dit werklik hier oor afgestorwe geeste gaan nie, maar oor bose geeste – oor demone. Sommige het dan ook skrikwekkende ondervindings van bose geeste wat hulle besoek, ens.
· Mense wat werk met bevryding se ondervinding is dat mense wat hulleself op die wyse met die okkulte bemoei (en dit sluit alle vorme van waarsêery, fortuinvertellery, mediumisme, spiritisme, toordery, heksery) agterna probleme kan hê met demoniese belasting.
Die Here het ons ten strengste verbied om met die okkulte om te gaan. Lees die volgende uit Deuteronomium 18:9-13:
As jy kom in die land wat die HERE jou God jou sal gee, moet jy nie leer om volgens die gruwels van daardie nasies te doen nie.
Daar mag niemand by jou gevind word wat sy seun of sy dogter deur die vuur laat deurgaan—wat met waarsêery, goëlery of met verklaring van voortekens of towery omgaan nie,
of wat met besweringe omgaan, of wat ‘n gees van ‘n afgestorwene vra of ‘n gees wat waarsê, of wat die dooies raadpleeg nie.
Want elkeen wat hierdie dinge doen, is vir die HERE ‘n gruwel; en om hierdie gruwels ontwil verdryf die HERE jou God hulle voor jou uit.
Opreg moet jy wees met die HERE jou God.
Die Ouijabord maak gebruik van ‘n gees wat waarsê en is vir die Here ‘n gruwel. Waarsku asb. veral die kinders, aan wie hierdie speletjie aangebied word as ‘n blote kinderspel. Hulle moet dit NOOIT probeer nie, nie saamspeel nie, die Here vra om hulle te beskerm as ander dit speel en verkieslik dadelik huis toe gaan.
Ek wil afsluit deur die volgende versekering te gee: in die Naam van Jesus is daar oorwinning oor elke bose mag en oor elke binding van die duiwel. Die bloed wat die Here aan die kruis vir ons gestort het, beskerm ons van elke tipe onheil. Ons kan veilig by Hom skuil teen alle gevare, ook van hierdie aard. Ook diegene wat in die verband oortree het, kan na Jesus gaan vir vergiffenis en bevryding.
Laat ons die Here met volle oorgawe dien.
Replies