Antwoord op... DIE WREDE OU TESTAMENT

Die vraag is hoe kan ons verstaan dat die volgende kon gebeur – watter tipe wêreld was dit dan en waar kom God in die prentjie?  Kom ons vertel eers die storie waarna die leser verwys:

 

In Rigters lees ons die skokkende verhaal (hfst 19-21) van ‘n man wat ‘n gas (nogal ‘n Leviet) inneem in Gibea, ‘n stad van Benjamin.  Hy was juis bang dat die gas en sy vrou (eintlik “byvrou”) alleen op die plein oornag.  Daardie aand hamer ‘n klomp straatboewe (letterlik ’n klomp duiwelskinders) op sy deur en eis dat die gas uitkom, sodat hulle hom kan verkrag. Die man sê toe asseblief nie, en toe hulle aanhou, sê hy vat eerder my dogter, sy is nog ‘n maagd, of vat die Leviet se vrou(!).  Hulle was egter eerder lus vir die Leviet self, en toe hulle nie ophou nie, stoot die Leviet maar sy vrou uit.  Die boewe het haar toe verkrag die hele nag deur en verinneweer tot sy dood was.  Dit was so ‘n verskriklike daad dat die Leviet toe haar lyk in 12 stukke opsny en na al die stamme ‘n stuk stuur en sê: Dit is wat die stam Benjamin deesdae aanvang.  Wat gaan ons daaraan doen?  Daar breek toe ’n groot oorlog los en die stam Benjamin word feitlik uitgewis (lees maar self die detail) – mans, vroue en kinders word uitgemoor.  Hulle sweer toe ook voor die Here dat nie een Israeliet ooit sy dogter met ‘n Benjaminiet sal laat trou nie.  Die stam Benjamin staan egter toe op uitsterf en toe is almal weer jammer.  Hoe gaan hulle hul red?  Op ‘n groot volksvergadering besluit hulle toe om (uit straf vir ‘n oortreding) die groep van Jabes te gaan straf deur hulle almal te gaan doodmaak, mans, vroue en kinders, behalwe die meisies wat nog maagde was (seker op inspeksie) - maagdskap synde ‘n voorvereiste vir die huwelik.  Die strafkommando doen toe so en vang vir die Benjaminiete 400 meisies (van so 12 tot 15).  Dit het baie gehelp maar was egter nog te min.  Hulle maak toe ‘n ander plan: elke jaar is daar ‘n fees vir die Here (nogal) in Silo.  Die Benjaminiete wat nie geluk gehad het met die vorige plan nie, het toe in die wingerde rondom Silo weggekruip en toe die fees op sy lekkerste is en die meisies uitkom om te dans, spring hulle in, gryp elkeen vir hom ‘n meisie en sleep haar terug na Benjamin.  Dis toe die oplossing.  So is die stam van Benjamin gered – prys die Here (wil mens amper byvoeg)!

 

Ek kan nog een byvoeg (uit Rig 11), en die is amper nog erger – Jefta, een van die Rigters, word aangestel om teen die Ammoniete te veg en die Gees van die Here kom (nogal) op hom.  Hy is toe so vol ywer dat hy beloof dat, as die Here hom die oorwinning gee, hy die eerste persoon wat na hom toe kom uit sy huis uit sal offer as brandoffer aan die Here.  Na die oorwinning kom hy toe huis toe, en daar kom sy dogter toe uit, vol celebration, met die tamboeryn, singende en dansende oor die oorwinnning wat pa bereik het.  Nogal sy enigste kind.  Wat kon hy doen?  Hy was baie hartseer maar ‘n gelofte is ‘n gelofte.  Hy het haar twee maande gegee om haar maagdskap te beween (m.a.w. dat sy nooit die vervulling van die huwelik en kinders sou smaak nie) en het haar toe aan God geoffer.  Ten spyte daarvan dat die hele gebeure totaal strydig is met al God se opdragte, word dit nie in die Bybel gerepudieer nie – die gedagte is eerder dat ‘n belofte aan God swaarder weeg as die lewe van ‘n mens. 

 

Dan kan mens ook in Rigters rondblaai en verder sien:

  • hoe Simson, die groot leier, te lief vir prostitute, heidense meisies en Delilas was, wat sy ondergang beteken het (Jefta se ma self ‘n prostituut gewees);
  • hoe Ehud, die linkshandige rigter, vir Eglon die koning van Moab verras deur die swaard van sy regterkant af te trek en hom daarmee te steek – Eglon was so vet dat die swaard se hef heeltemal in sy liggaam verborge was;
  • hoe Jael, die vrou van Geber vir die vyandige genl. Sisera in haar tent toelaat om weg te kruip, en toe hy wegdommel ‘n lang tentpen vat en toe sy kop regdeur die slape anderkant uit teen die grond vaskap.  Toe gaan roep sy die Israeliete en kon hulle die oorwinning vier - Debora skryf toe ‘n pryslied;
  • Hoe Gideon wat ook so Godvresend was vir die Israeliete ‘n goue beeld maak, wat hulle toe aanbid het, toe hulle hom koning wou maak;
  • Hoe Abimelek die mense van Sigem in ‘n toring vasgekeer het, maar hoe ‘n vrou van bo ‘n klip op sy kop laat val het en sy kopbeen verbrysel het.  Gelukkig kon hy gou sy wapendraer opdrag gee om hom met die swaard dood te maak en so die skaamte vryspring om deur ‘n vrou doodgemaak te word;
  • Hoe Miga vir hom ‘n beeld (moontlik bedoel om Jahweh uit te beeld) maak, en ‘n Leviet as priester aanstel (eintlik onwettig).  Die stam van Dan was toe nog op soek na ‘n blyplek en kom daar verby.  Hulle soek toe ook “geestelike dekking” en steel toe vir hulle die Leviet, die beeld en nog ‘n klomp afgodsbeelde.   Toe Miga hulle agternasit, dreig hulle hom en sê hy beter waai, voor ‘n paar van hulle manne dalk hulle humeur verloor.  In elk geval, hulle oorwin toe ‘n ideale en houtgeruste dorpie, moor almal uit en neem hulle eiendom in besit, stel die beeld op as hulle eie heiligdom en stel die Leviet aan as hulle priester.  Daardie heiligdom in Dan het daar gebly vir honderde jare – later het die Israeliete goue bulle daar aanbid.

Dit lees omtrent soos ‘n soap opera – net erger!  Verder in die Ou Testament sal jy ook lees van Noag se kale dronkenskap, Abraham se gewoonte tot lieg, aartsvader Juda se besoek aan ‘n slim prostituut, die psalmskrywende Dawid se lustige owerspel (dalk was Batseba self nie te onskuldig daar in Evasgewaad waar die koning haar kon sien nie) en hoe hy toe skaamteloos haar man vermoor, Salomo se 1000 vroue wat hom verlei om afgode te gaan aanbid, tot selfs die aaklige Molog en vele meer. 

 

Wat sal ons hiervan sê?

  • Rigters verhaal eintlik vir ons die laagtepunt van wetteloosheid in Israel se geskiedenis - die Bybel sê self dat dit ‘n wettelose en slegte tyd was.  Rowwe, rowwe tye…  Dit leer ons eintlik die waarde van goddelike leierskap.  Die feit dat hierdie sondes vertel word en “Bybelse” verhale is, sê nie dat dit goedgekeur word nie.  Dit bly sondig en verkeerd.  Ons sien wel (en dis maar goed, nè) hoe reguit die Bybel dinge by die naam  noem.  Moenie alles gaan doen wat Bybelse mense gedoen het nie!
  • Selfs Bybelse leiers was mense vol foute en hulle het selfs in hul ywer vir die Here voortgegaan met allerhande sondes.  Ons sien en is absoluut verbaas hoe genadig God is om sulke mense te gebruik wat so crooked is.  Mens moet darem bysê dat by die bg. ook die berou, belydenis en vergiffenis veronderstel word. 
  • Ons sien sommer die hele kultuur van hulle tyd – vrouens is inderdaad soms sommer gevang (‘n man het ‘n vrou ge-“vat” – geen priester of seremonie was nodig nie).  Weer sien ons dat ons nie die Bybelse kultuur hoef oor te neem nie – net omdat hulle in Bybelse tye vroue verdruk, slawe aangehou en ongehoorsame kinders gestenig het, beteken dit nie ons moet dit doen nie – dis nie die boodskap nie.  Ons sien veral hulle groepskultuur en groepsdenke – daar was geen individualisme soos by ons nie – as ‘n groepslid oortree, het die groep oortree.  Een vir almal en almal vir een, daar was geen ander manier nie.
  • Goeie uitleg van die Ou Testament is om hulle konteks te verstaan, te weet wat God vir hulle in hulle tyd gesê het, en om daardie boodskap dan vir ons tyd toe te pas.  Om net te sê “die Bybel sê” kan nogal ‘n gevaarlike ding raak – daarom die honderde groeperings en duisende opinies.  (Droë dominees wat betroubare uitleg doen se vervelige opinies word dikwels eerder vervang deur vroom tannies se meer opwindende openbarings of ouens se slim somme van die eindtyd, wat jaar na jaar NIE in vervulling gaan nie en jy wag vergeefs op ‘n verskoning – dominees en pastore is gewoonlik te goedgemanierd om uit te bars van woede en onreg.)
  • As ons die Ou Testament lees, kan ons dit nooit doen as ons nie die bril van die Nuwe Testament op het nie.  Die Ou Testament wys na die nuwe.  Die Ou Testament bewys waarom die Nuwe nodig was.  Die Oue vertel van ons mislukking.  Met die koms van Christus en die Nuwe Testament bestaan die hele ou bedeling vir ons eintlik nie meer nie.  Christus gee die sleutel om die Ou Testament te verstaan.  Hy sê: Julle het gehoor, maar Ek sê vir julle…  Onthou die Ou Testament leer ‘n oog vir ‘n oog, glo nog nie aan die duiwel (soos ons) nie, ken nie ‘n opstanding, hemel of ‘n hel nie.  Jesus kom leer oor al hierdie dinge wat ons moet weet.

Nogtans kan ons nooit die Ou Testament weggooi nie.  Trouens, die bg. is eintlik die ekstreme pool en nogal eensydig.  Die Ou Testament is wel vol sondige mense (soos ons), maar ook opregte mense,  wat sukkel maar tog die Here liefhet.  Dit is vol geweld, maar ook vol poësie en wysheid, en uit dit alles emerge ‘n prentjie van ‘n volk se opstandigheid maar ook afhanklikheid en ‘n God wat straf, maar ook so liefhet dat Hy hulle behou – tot vandag toe nog sy geliefde volk.  Daardie prentjie vertel vir ons presies hoe ons ook is.

 

Nota: Ek het al oor die Ou en Nuwe Testament geskryf.  Kyk dus gerus ook by die volgende:

Hoe om die Ou Testament te verstaan

Hoe die Ou en Nuwe Testament ooreenkom

 

You need to be a member of jimileroux.com to add comments!

Join jimileroux.com

Email me when people reply –