Ek dink die kort antwoord is JA. Die redes daarvoor is:
- Ons word nie gered op grond van ons werke nie, maar op grond van Jesus se kruisdood. Redding is ‘n vrye gawe, wat ons deur geloof aanvaar. Daaruit vloei dat ons ook nie deur ons werke gered bly nie. Ons kan nie in geloof begin en dan in werke eindig nie. NIKS wat ons doen beinvloed ons redding nie (maar sien die punte hierna). Sola gratia – net genade!
- Ons sonde speel dus nie ‘n rol in ons redding nie. Ons sondig hopelik minder nadat ons gered is, maar ons hou nooit op sondig nie. Sonde sit in ons motiewe en ons denke. Dit kom nie net uit in ons woorde en dade nie, maar in ons versuime: om lief te hê, om te groei soos ons moes, ens. God vergewe al ons sonde: verlede, hede EN toekoms.
- Aangesien God ons red, en nie onsself nie, volg dit dat Hy ‘n volkome werk doen. Niemand is halfpad gered nie. As dit van ons afgehang het sou ons beslis ons redding moes kon verloor, want ons toewyding is gebrekkig. Nou is dit egter die Here, en sy werk is volmaak. Hy sê: “Niemand sal hulle uit my hand ruk nie.”
- Aangesien die Here ons red, kan ons sekerheid hê oor ons saligheid. As dit van ons afgehang het, sou niemand ooit seker kon wees of hy ooit gered gaan word nie, want hy kan dalk op sy laaste dag weer sondig en verlore gaan. God se werk is egter die basis vir ons sekerheid. Die Skrif sê ons kan wel “weet” dat ons gered is (Rom 8:16, 1 Joh 5:13).
- Vandaar dus die gedagte dat ons “soos deur vuur heen gered word” (1 Kor 3:9-15), selfs al het ons met hout, hooi en stoppels gebou. Die fondament bly Christus, nie ons werke nie. Daar is ‘n mooi gedagte dat alle gereddes in die Eendag loon sal ontvang na die mate waarin hulle gebou het.
Ons sê dus “ja, eenmaal gered, altyd gered”. Terloops, hierdie frasering is ‘n populêre een, maar dis nie werklik die formulering van enige spesifieke leer nie. Onmiddelik kom egter altyd hierdie vraag op: “Beteken dit dan nou dat ek kan sondig soos ek wil, want ek kan nooit weer verlore gaan nie?” Die antwoord daarop is ‘n besliste NEE. So iets is nie ‘n Bybelse gedagte nie. Paulus het ook dikwels so ‘n teenvraag gekry, waarop hy dan sou sê “me genoito!” Volstrek nie! By ons JA is daar dus ‘n MAAR… Ons kan dit soos volg verduidelik:
- As ons gered word, verander ons. God red ons nie sodat ons sondaars kan bly nie. Hy red ons VAN ONS SONDE. As ons dus nie ‘n nuwe lewe begin leef nie (die betekenis van wedergeboorte) het niks verander nie en moet ons so ‘n “redding” betwyfel. In teologiese taal: na die regverdiging kom die heiliging en die volharding en dan (uiteindelik) die verheerliking. God se redding is nie net een ding nie, dis alles. Hy neem ons hele lewe oor en verander die koers daarvan. Dit is dus ondenkbaar dat ‘n gelowige sal WIL sondig. So een is nie gelowig nie.
- Verdere voorbeelde en metafore uit die Skrif van die bg. gedagte is dit:
- Die feit dat Jesus ons “losprys” betaal beteken dat Hy ons uitkoop van een meester, die duiwel, vir Homself. HY word nou ons nuwe Meester – die betekenis van die woord “Here” (Kurios). Ons dien nou ‘n ander, beter Meester. Ons doen wat HY sê. As iemand duidelik nie die Meester dien en nadoen nie, is hy losgekoop?
- Johannes die Doper sê die mense moenie net hulle laat doop (as teken van bekering) nie, maar die “vrugte dra wat by die bekering pas”. Bekering moet lei tot ‘n sekere vrug – gedragsverandering moet plaasviind. Johannes spel vir die tollenaars, soldate, ens. uit wat dit beteken. So nie lê die byl reeds aan die wortel. Volgens hom.
- Jesus sê ook, in die Gelykenis van die Saad, dat sommige saad op rotsagtige plekke val, en dat die bekering daarvan spoedig vervaag. Sommige saad val tussen die dorings en lewer ‘n bekering wat nooit tot vrugdra kom nie. Die saad in die goeie grond lei egter tot baie vrug. Die afleiding hier is dat nie elke bekering ‘n “redding” is nie, maar dat die vrug (die gevolg van die Heilige Gees in ons) sal bewys of dit eg was. Daar is dus ook skynbekerings. Die getuienis is die vrug!
- Dit is dus ‘n kwessie van geloof wat tot werke lei, soos Jakobus ook sê. Geloof wat geen werke voortbring nie, is insigself dood, sê hy. Daarmee sê ons nie dat geloof PLUS werke ons red nie. Nee, deur geloof word ons gered, maar dit gee erkenning aan die feit dat werke deel is daarvan. Trouens, ‘n wesenlike en onontbeerlike deel.
Ten slotte nog hierdie twee punte:
- Wat van die moeilike verse wat suggereer dat mens wel jou saligheid kan verloor, bv. in Heb 10:26-29? Daarvan kan ons egter sê dat dit dui op ‘n baie ernstige aksie teen God (v.29): “wat die Seun van God vertrap het en die bloed van die testament waardeur hy geheilig is, onrein geag en die Gees van genade gesmaad het”. Weer sou ons kon sê dat geen opregte gelowige kon droom om sulke dinge “opsetlik” (v26) te doen nie. Sommige verbind dit met die “sonde teen die Heilige Gees”, waarvoor daar geen vergiffenis is nie. Die rede waarom daar geen vergiffenis is nie, is natuurlik omdat daar geen belydenis is nie. So een se hart het verhard geword: hy glo hierdie dinge nie meer nie en soek God nie meer nie. Omdat hy God nooit soek nie, vind hy God nie. Omdat hy dit nie vra nie, ontvang hy nie vergiffenis nie. “Elkeen wat die Naam van die Here aanroep”, sal egter gered word. “Elkeen wat glo”, gaan nie verlore nie, maar beërwe die ewige lewe. Ek brei bietjie uit op die bg. omdat sommige Christene in ‘n stryd gaan of hulle ooit gered is. Mense in so ‘n stryd is eintlik gered, want dis die Heilige Gees wat hulle begeerte na God opwek. Dis juis die teenoorgestelde van verharding.
- Ons moet ook nie “sekerheid van saligheid” verabsoluteer nie. Ons is nie gered omdat ons gered voel nie. Alhoewel ons die sekere wete mag hê, is gevoelens as sulks wispelturig. Soms voel ons naby aan die Here en ander kere ver. Sommige mense sukkel juis met onsekerheid, angstigheid en so aan. Ons moenie na binne kyk om te bepaal of ons gered is nie, maar na buite: na Hom wat ons red. Sy Woord bly waar. Geloof, nie gevoelens nie, is die basis van ons sekerheid. Ons moet hieroor met mekaar genadig wees. Weereens kyk ons eerder na die vrug in die hart: Begeer ons om met God reg te wees? Wil ons vir Hom leef, al kry ons dit nie altyd reg nie? Ervaar ons dat Hy ons hart sag maak? Dat Hy ons sy liefde gee, sy vrede ens.?
Met die bg. gee ek nie voor dat die bg. die laaste antwoord is, of dat dit alle vrae beantwoord nie. Dis God se dinge, maar Hy gee ons genoeg om wel gered te word. Ons maak dit self moeiliker as wat dit is. Hy sê ‘n kind verstaan gewone vertroue eintlik die beste. En dis wat geloof veral is: vertroue dat GOD my red!
Kom ons gee alles wat ons kan vir die Here!
Replies