ANTWOORD OP... Egskeiding

Iemand het my gevra wat die Skrif nou eintlik van egskeiding sê en ek het besef ek wil nie net 'n oppervlakkige antwoord gee nie.  Ek wil dieper op die saak ingaan.  Ek het toe deur al die vernaamste Skrifverwysings gegaan en die interpretasies daarvan bestudeer.  Soos dit maar gaan het dit gegroei en gegroei en die dokument is nou 13 bladsye lank!  Nogtans glo ek dit lees heel maklik - download dit gerus in PDF-formaat by hierdie skakel:

Wat sê die Bybel oor egskeiding

Hier onder het ek egter die gevolgtrekkings van die saak gegee (die dokument se gevolgtrekking), vir diegene wat nou nie 13 bladsye wil staan en lees nie.  As daar egter dinge in is wat jou pla, of jy wonder waarom ek dit so aflei, moet jy maar die 13 bladsye lees!  Ek dink dis veral belangrik vir beraders en ander wat met egskeiding te doen het, of die wat pynlik daardeur moes gaan.


Persoonlike gevolgtrekkings oor wat die Skrif van egskeiding sê:

1) Die huwelik is God se droom en plan vir man en vrou.  Man en vrou is uit dieselfde vlees gemaak, m.a.w. ons deel ons menslikheid feitlik volkome.  Dit sluit in dat ons na ‘n maat soek om ons te “voltooi”, en die huwelik is die naaste ding aan die eenheid wat ons soek. Daardie eenheid beleef ons in die huwelik as fisiese, psigiese en geestelike intimiteit.  In die Eendag sal ons die volmaakte eenheid beleef – met God, met almal en met alles, waarvan die huwelik net ‘n simbool was.

2) As gevolg van die gebrokenheid beleef ons nie die eenheid soos ons graag wou nie, want dieselfde verskille wat ons na mekaar aantrek, skep ook weer vir ons afstand en konflik.  Die huwelik is dus sowel wonderlik as pynlik en nie alle huwelike kan die toets van die tyd weerstaan nie.  Egskeiding is ‘n ongelukkige feit – reeds in die streng antieke tye, en soveel te meer in ons moderne, permissiewe tye.

3) Ons beleef in die Skrif dus (1) sowel die ideaal van die huwelik, en die opdrag om dit tot God se eer getrou ten alle koste te bewaar as (2) die praktyk van ongelukkigheid, verbrokkeling, skeiding en egskeiding.  Ons sien dat sowel Moses as Jesus as Paulus met sensitiewe akkommodasie die situasies wat voor hulle kom hanteer. Hulle handhaaf die beginsel, maar maak toepassings wat die beste sal maak van slegte situasies.

4) Die Ou Testament laat egskeiding geredelik toe, maar Moses, Jesus en Paulus tree op in belang van die weerlose partye – in hulle geval die vrou – om ‘n meer regverdige bedeling in hulle onderskeie kontekste te bewerkstellig.  Dit het primêr behels dat egskeiding sover as moontlik uitgeskakel moes word.  Daardie beginsel is steeds baie waardevol in ons hantering van egskeiding.  Dit moet werklik, werklik die laaste uitweg wees.

5) By Jesus is owerspel die enigste toelating vir egskeiding, maar dit is waarskynlik dat Hy ook die breër Skrifoortuiging aanvaar het en verlating en (growwe) verwaarlosing sou aanvaar as geldige redes.  Paulus laat byvoorbeeld Christene wat deur ongelowige maats verlaat is toe om wettig te hertrou.  Hy hou die gelowiges nie “gebonde” aan ongelowiges nie en verklaar ook dat die onderlinge vrede ‘n oorweging is.

6) Vroeër was “wetlike” redes vir egskeiding van belang, want skuld moes by een van die partye geplaas kon word.  Vroue moes wettig kon hertrou, anders was sy as egbreekster ‘n uitgeworpene en haar verdere kinders buite-egtelik. Onthou, egskeiding het tot onlangs ‘n sekere skande ingehou.  Dit het alles nou verander:  ons sien eerder hoe verhoudings as sulks ineenstort en tree meer pragmaties op. Om skuld slegs by een te plaas het minder nut as in die verlede.

7) Die seer in verhoudings en die verbrokkeling van huwelike gebeur altyd a.g.v. die sonde en die “hardheid van harte”.  Die eerste tree na huweliksherstel is dus altyd bekering en geestelike groei.  Hoe nader ons aan die Here kom, hoe nader kom ons aan mekaar, want geestelike volwassenheid maak ons minder selfgesentreerd en vleeslik, en meer liefdevol, geduldig, vergewensgesind, ens.  Geestelike groei verhoed reeds baie huwelikspyn.

8) Egskeiding is vandag ‘n besondere euwel.  Dit veroorsaak baie pyn aan almal betrokke en veral kinders word radikaal geraak deur die teleurstelling in hul primêre rolmodelle.  Dis ook besig om ons samelewing te verander.  Dit vernietig die tradisionele gesin as stabiele bousteen van die samelewing en is die primêre oorsaak van die hedendaagse saamleef-verskynsel.  Kinders uit geskeide huise het veel minder vertroue in die huwelik en trou minder graag.

9) Huwelike moet ten alle koste gebou word.  Lering oor gesonde huwelike moet op elke vlak en platform plaasvind. Die huweliksverhouding is minder seker as ooit in die verlede en vereis baie meer inset. Egpare moet besef die huweliksverbond vra baie meer as dat hulle nie owerspel sal pleeg nie – hulle belofte is vir wedersydse aanvaarding, liefde, respek en dat hulle hulself aktief “aan mekaar gee”, seksueel en in elke opsig. Al hierdie dinge kan die eg afbreek.

10) Kerke moet ‘n motiveerbare egskeidingsteorie en praktyk ontwikkel.  Berading moet op alle vlakke beskikbaar wees met as eerste doelwit om die huwelik te red.  In die beradings-proses moet egskeiding eers totaal uitgestel word, tot alle intervensies, insluitende ‘n tydelike skeiding (waar nodig) uitgeput is.  Waar egskeiding “kwaadwillig” gesoek word, of waar in sonde (bv. owerspel) volhard word, moet die kerk profeties optree en gepaste tugmaatreëls kan gebruik.

11) Waar persone wel skei, of geskei is, moet die saak pastoraal hanteer word deur belydenis en vergiffenis. Die hele verbrokkeling, egskeiding en moontlike hertroue is deel van dieselfde sonde en gebrokenheid.  Tyd vir psigologiese en geestelike herstel is baie belangrik. Ons kan egter nie dink dat egskeiding ‘n groter sonde as ander is nie, en daarom laat ons hertroue toe, maar nie ligtelik nie: slegs in verhouding met God, by wie altyd ‘n nuwe begin is.

12) In die kwessie van egskeiding sien ons ons verhoudings en ons gebrokenheid op sy slegste.  Ons sukkel om die Skrif reg te onderskei en ons sukkel om die praktyk reg te hanteer. Ons deel net met slegte keuses en probeer bloot in liefde die beste van slegte situasies maak.  Dit maak ons hartseer, gefrustreerd en behoeftig. Ons is met hierdie temas veral afhanklik van God se genade en vergiffenis en werp ons maar in geloof op Hom, die Ewige Vader.

 

You need to be a member of jimileroux.com to add comments!

Join jimileroux.com

Email me when people reply –