Vraag
My seun leer van evolusie op skool. Ons het hom egter geleer dat God alles gemaak het. Ek weet nie hoe om vir hom hieroor leiding te gee nie. Moet hy beswaar maak in die klas?
Antwoord
Dis nogal ‘n moeilike situasie, deels omdat dit nie net ‘n swart of wit saak is nie. Ek glo bv. nie dat die wetenskap-sillabus 100% verkeerd is nie, of dat ons Christene noodwendig 100% die waarheid reg verstaan nie. Ek sien dit soos volg – en ek hoop dat dit vir jou seun sin sal maak!
- Die Bybel leer ons dat die Here die hemel en aarde gemaak het en ons kan met vrymoedigheid aanvaar dat Hy die Skepper agter alles is. Die Bybel sê egter nie hoe Hy dit gedoen het nie, want die Bybelskrywers was nie daaroor begaan (het ook nie die kennis gehad nie) om die wetenskap daarvan te verduidelik nie (die Bybel is nie ‘n wetenskap-boek nie, m.a.w.). Die Bybel vertel van God se handelinge met mense. Dit is bv. nie so dat die Here in 7 letterlike dae alles geskep het nie, want ‘n dag het te doen met die aarde se rotasie om sy eie as en die son wat rondom die planeet skyn, maar die son is eers op die 4de dag gemaak!
- Die wetenskap is ook reg as hulle evolusie sien gebeur, want dit gebeur wel op baie plekke. Trouens, daar kan geen hedendaagse biologie, genetika, zoologie, plantkunde, paleontologie, ens. wees as daar nie aanvaar kan word dat evolusie plaasgevind het nie – dit is ook nie “net ‘n teorie” in die sin dat daar nie eintlik bewyse daarvoor is nie, dit is die bewese wetenskap van vandag;
- Ek dink ook die wetenskap is God se wetenskap want dis Sy wêreld en ons is almal opgewonde oor die wetenskap en wat ook al ontdek word, of watter wetenskaplike teorieë ook al ontwikkel word. Ons leef in ‘n wetenskaplike era en wil weet wat aangaan. Daar is ook wonderlike ooreenkomste tussen die Skeppingsverhaal en die wetenskap en ek glo ons gaan na die punt toe beweeg dat dit een verhaal word. Ons sien bv. dat die Bybel sê God het aan die aarde opdrag gegee om plante en diere voort te bring (en noem dit dan Sy skepping) – so is dit ook mooi dat die Bybel sê lig (energie) is eerste geskape; dan die planeet, dan die skeiding van grond en water, dan die plante, dan die diere en dan die mens.
- Ek dink egter dat die aanvaarding van evolusionêre ontwikkeling nog glad nie ‘n bewys is dat God nie geskep het, of dat daar nou nie ‘n God kan wees nie, ens. Dit bewys ook nie of en hoe mense uit ander lewensvorme ontstaan het nie – kortom ek dink wetenskaplikes is soms te voorbarig met die hele ding. Daar is steeds baie vrae oor evolusie, en gapings bestaan waaroor daar geteoretiseer en spekuleer word. Baie dinge is eenvoudig nie bewys nie. Mens moet ook onderskei tussen science en scientism; en evolusie en evolusionisme. Daar is dus ‘n grens tussen goeie wetenskap, wat nederig kan wees oor wat ons nog nie weet nie, en hulle denke oop-hou EN diegene wat in evolusie of die wetenskap glo asof dit hulle ‘n godsdiens is (en dit is hulle godsdiens), en klaar besluit het dat daar geen God is nie (alhoewel hulle dit nie kan bewys nie), en ook sommer glo dat die wetenskap klaar al die antwoorde gee. Vir sulkes is ek jammer, want die lewe bestaan uit baie meer as wat die oog kan sien of die wetenskap kan bewys en sommer net om te sê sulke goed bestaan nie, is maar kortsigtig. Dit is slegte wetenskap. Ek het meer gehou van die professor wat gesê het hy glo God het alles gemaak, en dat evolusie sy metode is (“God boer met evolusie” was die naam van sy lesing);
- Ek dink Christene se gepaste reaksie is nie om alles te ontken nie, want hulle is meestal onkundig (en wetenskaplikes lag ons uit of wil nie eers deelneem aan ‘n gesprek nie, dis vir hulle te belaglik) – nee, ons moet eerder ingelig en intelligent saamgesels en vrae vra oor die aard van die wetenskap, die aard van kennis en of dit onwetenskaplik is om aan God te glo. Kreasionisme as ‘n Christelike alternatief het geen wetenskaplike credibility nie, en die hedendaagse benadering bekend as Intelligent Design is beter, alhoewel ek nie veel daarvan weet nie – dit is ten minste deur wetenskaplikes geformuleer.
Ons hoef nie bang te wees vir die evolusie nie – as dit die waarheid is, is dit God se waarheid. As dit ‘n leuen is, sal dit uitkom (daar is nie ‘n komplot van wetenskaplikes wat weet dat hulle verkeerd is, maar daarby hou uit spytigheid). Ons hou aan om te sê God het alles gemaak, en ons hou aan om te sê die wetenskap is wonderlik, maar alles is nog nie uitgevind nie. Ons sê wetenskap kan ook nooit die geloof (of ‘n verhouding met God) vervang nie, want die wetenskap gaan nie jou hand kom vashou as jy deur diep waters gaan nie – maar God gaan! Die beste bewys vir die Here is die proefondervindelike bewys, wat sê dat EK die Here as ‘n absolute realiteit in my lewe beleef en daarvan kan getuig. Niemand kan dit bestry nie. Ek het, ook as ‘n wetenskaplike (het eers ingenieurswese studeer), ‘n keuse gemaak om die Here te dien. Ek bly lief vir die wetenskap, maar dit beteken nie ek sluk elke ding nie. Dis onnodig. Net so glo ek nie elke ding wat elke Christen sê nie!
Baie sterkte vir jou seun – hy moet sy weg in die wêreld vind, maar hy behoort ook aan ‘n generasie wat nuuskierig is en ondersoek wil doen na die waarheid. Dit is ‘n opwindende tyd om in te leef. My gebed is dat hy die wetenskap fassinerend sal vind, en dat hy sal ervaar dat sy ontdekking van die grootheid van die Skepping hom na die Skepper sal lei!
--------------------------------
Hy sal dalk hou van Gideon Joubert se boek: Die Groot Gedagte. Ek het - al skiet sommiges dit so af.
Kyk gerus ook na wat ek geskryf het by Wetenskap en Geloof: http://www.jimileroux.com/forum/topics/antwoord-op-wetenskap-en-geloof
Replies