Jou vraag is ten diepste oor gebed:  Waarom laat Jesus die dinge toe?  Waarom gee Hy nie wat ek Hom vra nie?  Waarom moet ek bid as Hy reeds weet at Hy gaan gee of nie? 

   .

Ek is bevrees ons is verkeerd geleer.  In ons kerke kom die lering so na ons toe dat ons glo dat God eintlik daar is om ons te seën.  Hy wil ons gesonder, gelukkiger, ryker, ens. maak.  Die metode hoe ons hierdie dinge gaan bekom is gebed.  Ons moet leer om so te bid dat dit “werk”.  Baie preke en boeke is gebaseer op sulke “geestelike tegnologie” soos hoe om te bid (bid in die Naam van Jesus, bid met geloof, bid eenstemmig, bid volhardend – sulke dinge), hoe om te glo en te bely (bv. dat jy reeds ontvang het), hoe om te gee dat ek gaan ontvang, ens.  Dit gaan baie sterk daaroor dat God vir my iets moet gee en dat ek net die sleutel moet kry om die seëninge los te maak.  Alles wat teen my geluk en gesondheid en seën gaan is van die duiwel en moet met ander geestelike tegnologie bekamp word.  Om die waarheid te sê, as jy sou suggereer dat God nie daar is om jou gesond, geseënd en gelukkig te hou nie, sal die motief van baie mense se geloof eenvoudig wegval.  Wie wil dan nou ‘n God dien wat niks vir hom doen nie?  Is dit nie die doel van alles nie?  Ek is bevrees dit is so ‘n groot dwaalweg dat ek self al byna my geloof wil prysgee as ek sien dat dit nog al is waaroor baie preke, boeke, televisie-uitsendings, ens. gaan (sal maar nie sekere stasies se name noem nie).  Dit is ‘n produk van die vreeslike materialisme, individualisme en hedonisme van ons tyd (verskoon al die -ismes) – dis ons Westerse (Amerikaanse) kultuur wat ons so laat dink, en die Bybel so laat intepreteer.  Dit is die prosperity teologie, of iets daarvan.  Jesus het nie hierdie boodskap so geleer nie, en veel minder toegepas.  As ons maar net die evangelies lees sien ons dat Jesus sy dissipels waarsku dat die paadjie agter Hom aan dalk moeilik gaan wees en ‘n kruis (m.a.w. die dood) sal behels.  Hulle moet maar mooi nadink!  Hy het niemand ryk gemaak, sover ek kan onthou nie, maar het wel baie wonders gedoen.  Die wonders was veral bedoel om te bewys dat God inderdaad aan die werk is (dieselfde doel as wonders vandag) en nie om alle mense in hierdie tyd ‘n beter lewe te gee nie.  Dit het Hy nie gedoen nie, inteendeel, sy dissipels het almal (volgens oorlewering) ‘n martelaarsdood gesterf, soos hulle Meester, wat self nie ‘n plek gehad het om sy hoof neer te lê nie.  Die lewe was hulle nie werd nie... (Heb 11)

 

Laat ek nou eers ‘n bietjie beter perspektief gee, want die bg. is bietjie van ‘n stereotipe:

  • Ek probeer nie oordra dat jy so ‘n stereotipe glo nie – ons weet verseker dat die lewe ook sy minus-kant het en dat alles nie net maanskyn en rose is nie.  Ek wil jou nie uitmaak vir ‘n deurtrapte materialis of hedonis nie.  Nee, ek weet jy is opreg met die Here en dit is menslik en natuurlik om vir die Here dinge te vra, soos die Woord inderdaad ook sê (sal nou daarby kom).  Ek vra self vir die Here baie dinge!  Ook gaan preke en boeke darem nie net daaroor nie, natuurlik nie.  Maar daar is tog ‘n sterk stroom populêre denke en lering dat God basies vir ons wil seën en dat ons dit op ‘n manier moet kan ontvang.  Daar is tog iets soos gebedsverhoring?  Ons sukkel eintlik vreeslik met ‘n “teologie van mislukking” of ‘n “teologie van lyding” – waarvan daar in die Nuwe Testament eintlik baie is, maar ons lees dit eenvoudig mis.
  • Die lewe agter Jesus aan is darem ook nie net die van kruisdra nie – dit is ook die wonderlikste lewe wat daar is, en daar is inderdaad baie seëninge op die pad.  Die doel is nie primêr om geseën te word nie, maar om gehoorsaam te wees.  Nogtans is ons gehoorsaamheid en onderwerping en oorgawe en diens en gee die beste lewe moontlik en kan ons onsself maar net geseënd en gelukkig ag. 

Ek wil nou oor gebed deel.  Hoe moet ons dan gebed verstaan?  Wil God nie vir ons goeie goed gee nie?

  • Ek dink ons moet heel eerste dit duidelik maak dat God ons liefhet en vir ons daar is en vir ons sorg.  Ons kan inderdaad sorgvry en rustig leef – dis immers waaroor geloof gaan.  Ek is nie op my eie nie.  Om met God die lewe te leef is die enigste lewe sinvolle manier van leef.
  • Gebed is so nodig soos asemhaling nie omdat ons deur gebed iets wil vra nie, maar omdat dit ondenkbaar is om in ‘n liefde-verhouding te wees en nie te kommunikeer nie.  Ons verlang en soek na God se teenwoordigheid en begeer tye saam met Hom.  Daarom soek ons Hom in gebed.  Ons bid omdat ons nie anders kan nie – ons moet bid.  Ja, die Woord sê self dat God reeds weet wat ons gebed is, maar dan leer Hy ons in elk geval hoe om te bid.  In Jesus se gebed wat Hy ons leer (die Ons Vader) sien ons ons gebed en sy gebed verskil radikaal.  Hy leer ons om eerstens vir SY SAKE te bid (sy Koninkryk, sy Naam, sy wil) voordat ons by ons eie sake kom.  Ons gebed weer is alles oor onsself en gaan basies oor wat God vir ons moet doen.  In die Ons Vader leer Jesus ons dat ons gebed vir onsself vernaamlik gaan oor ons geestelike lewe: vergiffenis van sonde (onderhewig aan ons eie vergewe van nader), bewaring  van sonde-versoekings en van die Bose.  Daar is een reëltjie oor ons materiële behoeftes: “gee ons vandag ons dag se brood”.  Ons kry die prentjie!  Ons vra, God voorsien,maar dit gaan daaroor dat ons kan rustig wees oor die noodsaaklike dinge.
  • Wat nou van verse soos “vra net wat julle wil”, “as julle die Vader vra in my Naam”, “vra en vir julle sal  geantwoord word”?  Net twee of drie opmerkings:

o   Om in Jesus Naam te vra beteken om te vra soos Jesus sou vra, en om vir sy doeleindes te vra.  “In sy Naam” dui op ambassadeurstatus – ons tree ns. HOM op, ns. Die KONINKRYK, nie namens onsself nie.  Dit is dus nie bedoel as ekstra oemf om van God dinge af te bid vir my eie sak nie.  Dit gee vrymoedigheid om vir die Koninkryk groot dinge te doen.

o   “Maar ek vra nie vir myself nie!”, sê jy.  Ek glo jou – natuurlik.  Jy wil vir die Here iets groots doen, maar dinge werk nie uit nie.  Glo my, ek ken baie wat in groot bedieninge ingaan, wat spoedig misluk.  Die Here “kom nie deur” vir hulle nie! Ja, mens kan jou geloof so verloor... maar ek wel dink ons sukkel bietjie met wat God se wil was en wat my wil was... ek doen!  Die dissipels, wat hierdie boodskap van Jesus die beste verstaan het, en sekerlik toegepas het, het nie daardeur ‘n vrypas na ‘n gemaklike lewe gekry nie – trouens, ten spyte van alles het hulle ook maar soms honger gely en is verwerp, geslaan, al sulke dinge – en dit in diens van die Koninkryk.

o   Die onpopulêre woord hier is “misterie”.  Ons kan God nie uitpluis, voorspel, verklaar of altyd verstaan nie.  Iets in die aard van God se grootheid en in die aard van ons mens se verstand maak dat Hy net nie in een van ons boksies inpas nie.  En dit is ‘n besondere oomblik van geestelike groei as jy finaal kan oorgee aan SY WIL, sonder om Hom die hele tyd sover te probeer kry om JOU WIL te gehoorsaam!  Iewers moet ons laat gaan in die waarheid van: “Here, ek verstaan U nie, maar ek vertrou U.”  Ek dink dan groei ons.

 

Die Here het jou ‘n sekere lewe gegee en ‘n sekere mandaat om mee te werk.  Hy sit vir Adam in die tuin en gee hom ‘n opdrag om te bewaak en te bewerk.  Adam gaan aan met sy taak en dit behels baie keuses en besluite.  Ek is seker as Adam ‘n boom wou om hê, moes hy maar self dit afsaag of afkap – die Here het nie dit vir hom laat verdwyn nie, en Hy het ook nie vir Adam gesê om net meer geloof te beoefen nie.  Ek word meer en meer oortuig van die waarheid dat ‘n gesonde geestelike lewe gesetel en gebaseer moet wees in ‘n gesonde natuurlike lewe.  Die eerste staan op die tweede.  As kinders van God is ons ook onderhewig aan die regering, die resessie, die wisselkoers, ongelukke, virusse, skoonfamilie – so ook vyande, teenstanders en skelms.  Dit is doodgewoon DIE LEWE.  Dit gebeur met almal – goed en sleg.  Ons moet dus wys wees, verantwoordelik, goeie keuses maak, ons versekering byhou, alle regsdokumente goed nagaan (en tweedehandse motors), op jou hoede wees vir skelms, ja ook ouens wat kwansuis so Christelik is, jou skuld invorder (en betaal) – ja, die lewe leef soos God dit vir ons gegee het.  Ek dink nie Christelike besighede is noodwendig die suksesvolste nie – die met die beste besigheidsbeginsels is (en daar is ander faktore) – maar ons glo goeie besigheid is gebaseer op goddelike en Bybelse waardes.  Maar ons wil hê dat God meer persoonlik moet ingryp – maar Hy doen nie altyd nie.  Om hierdie op-en-af lewe te leef MET GOD is die doel. 

 

Bid ek dan nie vir goed nie?  Nee bid, glo ook en verwag – en hou aan met bid.  “Smeek” is ook ‘n baie Bybelse term!  Maar ongelukkig kan ek en jy nie God se hand dwing nie.  God is God.  Gee jou eerder radikaal oor.  Behou jou geloof tot die einde – sê eerder:

  • “Ek weet God is by my in hierdie omstandighede”,
  • “Ek vertrou die Here om te doen wat gedoen moet word”,
  • “Ek weet Hy sal my red uit hierdie ding”,
  • “Ek glo dat Hy my elke dag nuwe krag sal gee om hierdeur te kom.” 
  • “Here, hoe wil U my in hierdie omstandighede gebruik?”,
  • “Here, wat wil U my in hierdie omstandighede leer?” 
  • “Here, laat my iets van U eie lyding beleef”. 

Dit is afhanklikheid – dit is oorgawe.

 

Hiermee het ons nog net die helfte van die antwoorde kon gee, maar dit is al wat ons het.  Dit bly baie moeilik, want sommige mense se situasies is baie erg.  En ons almal vermy pyn.  Die res is deel van God se misterie.  Ons is ongelukkig nie geroep om te verstaan nie, en ons het so ‘n behoefte om te verstaan!  Ons is geroep om te vertrou, te volg, gehoorsaam te wees.  Om na Hom toe te groei, is die hoofdoel. Om soos HY te word – HY is die einde van ons reis.  En soms is ongemak, ja pyn en lyding die maniere hoe ons nader aan daardie doel kom.  Ons groei selde in ons comfort zone...

 

Baie sterkte

Keep the faith

You need to be a member of jimileroux.com to add comments!

Join jimileroux.com

Email me when people reply –