Antwoord op... HALLOWEEN

Halloween

Waar kom Halloween vandaan?

Halloween, oftewel die moderne en Amerikaanse weergawe daarvan, wat ons via die TV ken en ook nou by ons uitslaan, is maar so 100 jaar oud.  Dit het saam met die Skotse, Ierse en ander katolieke immigrasies in die 19de eeu na Amerika gekom - voor dit was dit daar feitlik onbekend.  Dit is die populêre en vervlakte weergawe van die katolieke fees All Hallow’s E’ening, in Afrikaans bekend as Allerheilige-aand, wat op 31 Oktober gevier word.  All Hallows (of All Saints Day, Allerheilige Dag) is op 1 November – die feeste begin mos reeds op die vorige dag (Kersaand is op 24 Desember).  All Hallows of Hallowmass is die dae waarin katolieke die afgestorwenes herdenk: die heiliges, martelare en ook jou eie geliefdes. 

Ons kan dit veral verstaan as ons die katolieke leer oor die Vagevuur (Purgatory) beter ken.  Die geloof het ontwikkel (onder andere n.a.v. 1 Kor 15:29) dat gelowiges nie dadelik na die paradys gaan nie, maar eers straf moet deurmaak as boete vir hulle sondes.  Hulle is nie verlore nie, maar is ook nog nie reg vir die hemel nie – hulle moet eers nog gesuiwer word.  Siele bly volgens populêre geloof (dis baie Middeleeus) tienduisende jare in die Vagevuur.  As ons egter vir die dooies bid, help dit hulle om vinniger te vorder op hulle pad.  Vroeër het die mense mos meer gemaak van hul afgestorwe familie as deesdae, waar die moderne mens die dood probeer ontken.  

In elk geval, op Allerheilige Dag is gebid vir al die heiliges wat al dood is.  Die klem is op die dooies dus, en op hul geeste.  Elke katolieke land het sy eie gebruike oor hoe dit gevier word – dienste, optogte en gebede in die begraafplaas is voorbeelde. Die Ierse gebruike van Allerheilige Dag is na Amerika toe saamgeneem waar dit gepopulariseer is deur die media. 

Daar is egter ‘n heidense konneksie…

Daar is egter meer.  Oënskynlik is van die Ierse Halloween-gebruike oorgeneem van die voorchristelike keltiese fees van Samhain (wat mens moet uitspreek sohwin in Engels).  Pous Gregorius het Allerheilige Dag in 835 nC geskuif na 1 Nov (dit was eers op 13 Mei), dieselfde dag as Samhain.  Dis te betwyfel of dit nou net oor ‘n heidense Keltiese gebruike was, want die Iere was maar ‘n klein groepie op die rand van die Katolisisme.  Dit kon egter wees dat die nader en groter groep van die Germane se voorchristelike gebruike iets daarmee te doen gehad het – ons weet wel dat die vroeëre Christene nie geskroom het om heidense gebruike te “bekeer” en te vervang met Christelike gebruike nie – so het hulle die heidendom en die wêreld vir Christus gewen.  Ander sê dit het maar net gegaan oor die beste tyd om die duisende pelgrims in Rome te hanteer wat vir die fees gekom het.  Onthou, die konneksies wat ons tussen bv. Kersfees, Paasfees, ens. en heidense feeste maak is hedendaagse konneksies – die antieke kerkdokumente maak nie sulke konneksies nie, hulle noem uit en uit Christelike redes waarom dit gevier word.

In elke geval, die ooreenkoms met Samhain is darem baie toevallig.  Samhain was die fees wat die einde van die somer en die begin van die donker tweede helfte van die jaar vier en is gesin as ‘n liminale (“tussen-in”) tyd waarin die geesteswêreld naby aan die natuurlike wêreld kom.  Afgestorwe siele kom besoek dan bv. weer hulle huise.  Om die geeste te verwelkom of weg te hou het mense gebruike gevolg soos vure aansteek, die pampoen-ligte (jack o’ lanterns) buite ophang, ens.  Kos en melk is buite neergesit vir die geeste.  Daar was sg. sympathetic (ooreenstemmende of nabootsende) magic , waarin mense self soos geeste of hekse aantrek.  Daar is dan skynbaar ook van huis tot huis geskenkies ingesamel, om te verhoed dat die huis ge-trick (vervloek) word (alhoewel ander weer sê dat hierdie uit en uit ‘n Christelike gebruik was – “soulling”, wat ook in lande ver van die Iere gehou is).  Ons kan wel aanvaar dat van hierdie gebruike onder ‘n Christelike gedaante voortgeleef het.  Mense sou bv. tot die Here bid vir beskerming teen geeste, maar dan ook hul ou gebruike volg om die geeste weg te hou – of ou gebruike sou ‘n nuwe, Christelike betekenis kry.  Moderne hekse en paganiste hou steeds Samhain as ‘n baie belangrike fees.

Hoe oordeel Christene daaroor?

Katolieke Christene vier Halloween natuurlik al 1500 jaar as ‘n ernstige, Christelike fees.  Hulle het dienste, optogte, gebedswake, vaste gebruike en dies meer.  Die Amerikaanse consumer-masjien het dit toe beetgekry, sekerlik omdat dit so lekker sensasioneel is, dit losgemaak van sy Christelike (en heidense) wortels en ‘n suiwer sekulêre jolly fees daarvan gemaak het met die doel om fun te hê (amptelik), maar eintlik maar om geld te maak. Maar wat met Kersfees ook gebeur het…  Deesdae word Halloween algemeen in Amerika gevier, ongeag geloof – min gee regtig om waar dit vandaan kom, mens kan sê dis eintlik nou net ‘n populêre kulturele feesviering.  Dit word nou deur die media en winkels gedryf, nie deur enige geloofsgroep nie. Selfs Jode, Moslems en Hindoes neem deel, alhoewel hulle streng gesproke nie mag nie, want dit word gesien as ‘n Christelike fees.  Dis vir hulle soos om Kersfees te vier.  Die streng gelowiges onder hulle doen nie mee nie.

Die Oosterse kerk vier Allerheilige op ‘n ander dag (die eerste Sondag na Pinkster) en die Protestante natuurlik glad nie amptelik nie, maar in Amerika is hulle houding oor die populêre Halloween een van die volgende:

  • Sommige waarsku hul mense daarteen en doen glad nie mee nie
  • Ander verskaf “alternatiewe” – hulle hou ‘n diens en preek iets in die verband of bied jeugbyeenkomste aan waar hulle ook lekker dinge doen, lekkers uitdeel, ens.  (maar soos die ou Christene heidense gebruike “vervang” het, nè?)
  • Ander gee nie om nie.  Hulle sê ag wat dit beteken tog niks meer nie, as die kinders wil rondhardloop in spookkostuums kan hulle maar, dis onskuldige fun en immers ‘n tipiese Amerikaanse tradisie.

Wat is my persoonlike houding teenoor Halloween?

1. Ek dink ons samelewing en kerk werk nie konstruktief met die gestorwenes nie. Ons sny ons daarvan af.  Die Vroeë Kerk het ‘n meer Bybelse siening gehad dat die “wolk van getuies”, die heiliges, die geloofshelde (sien Heb 12:1) – die church triumphant – nog begaan is oor ons vordering en vir ons intree.  Ou kerke het dan die apostels en saints se prente in hul kerk opgehang om hulle daaraan te herinner.  Ons is so individualisties en klinies dat dit ongesond is.  Dink aan die gesonde Joodse gebruik van Jahrzeit vier:   op die herdenkingsdae van pa se dood of ouma se dood, dink ons weer aan hulle en vertel ons kinders hoe hulle was.  So, ek bepleit ‘n meer gesonde verhouding tussen die strydende en triomferende kerk…

2. Ek dink die verbande tussen paganistiese feeste soos Samhain en Halloween in terme van dag en inhoud staan vas. Daar was sekerlik ‘n wedersydse kruisbestuiwing oor die jare.  Terselfdertyd moet mens nie die verbande oordryf nie, soos gesê.  Die paganiste ry deesdae eintlik op die Christene se rug en nie andersom nie.  Ek glo nie die wesenlike aard van ‘n Christelike fees word uitgekanselleer deur kontaminasies wat eeue en eeue gelede reeds uitgesuiwer en verchristelik is nie – veel minder is dit nou skielik ‘n “heidense” fees.  Ek het dieselfde algemene opinie oor Kersfees en Paasfees.  Ek dink ons kan egter wel elemente uitsuiwer waaroor ons nie vrede het nie.

3. Ek dink die hedendaagse populêre, Amerikaanse Halloween is ‘n betekenislose, sekulêre fees, ‘n oppervlakkige gedoente, ‘n geleentheid om geld te maak en uitspattig te wees.  Dit beteken regtig vir die meeste mense niks en lei oor die algemeen nie tot ‘n bose houvas op mense nie.  Mens kan dalk nadink oor die geleentheid om op hierdie speelse wyse met die dood en bangmaak-goed om te gaan ten einde kinders teen die vrees daarvoor te innokuleer.  Met dieselfde argument kan mens egter ook sê die verminderde vrees kan kinders makliker in okkulte goed betrokke laat raak.

4. Ek dink die okkulte is regtig vir ons verbode en verkeerd.  Ek dink die viering van Samhain as sulks is verkeerd, omdat dit die skepping en nie die Skepper nie, in die middel sit.  Paganisme probeer die natuur manipuleer.  Ek dink die Bose sit agter dit, en agter alle heksery, towery, vervloeking, geestesverskynsels, mediumisme of toekomsvoorspelling.  Ek dink die wat willens en wetens daarby betrokke geraak het (alhoewel hulle gedink het dit is dalk onskuldig) moet berading kry en die vyand se houvas en werking afsweer en verbreek. 

Vryf die boosheid, bindinge ens. outomaties op elkeen af wat ‘n Halloween-partytjie bygewoon het, by ‘n heidense tempel verby gestap het, halaal-kos geëet het of ‘n Indiese vaas in ons huis het?  Sommige wil ons dit laat glo, maar ek twyfel.  Daar moet ‘n sekere intensie wees – ek dink aan die tyd toe ook Christene op regtig onskuldige wyse oor hekse en towenaars geskryf om kinders te vermaak.  The Chronicles of Narnia, Lord of the Rings en Alice in Wonderland wemel van die hekse, maar is deur uitgesproke Christene geskryf.  My pa (man van God) het vir ons as kinders stories opgemaak van kabouters en feetjies.  Dink aan Liewe Heksie.  Dit was beskou as fantasie – verwyder van die werklikheid.  Vandag word aan sulke dinge donker betekenisse toegesê.  Ek praat nie van betrokke raak by wat duidelik in die Bybel as verbode en verborge (okkult) beskryf word nie.

5. Persoonlik hou ek nie van die populêre Halloween nie:  ek hou nie van die okkulte temas nie – die klem is net te veel op die dood, hekse, geeste, vloeke, e.d.m.  Daardie goed is by Halloween geensins verchristelik nie en eer nie die Here nie.  Dis onnodig en ongesond. Dit deel nie konstruktief met die tema van die dood of die heiliges nie.  Ek kan nie die Here in die prentjie sien nie.  Dit is ook nie deel van ons geestelike erfenis nie – dit word deesdae kunsmatig ingesleep, deel van die oppervlakkige Amerikaanse “kultuur”-imperialisme.  

Nee, ek doen nie Halloween nie.

 

You need to be a member of jimileroux.com to add comments!

Join jimileroux.com

Replies are closed for this discussion.