VRAAG
My geliefde het my diep seergemaak en my vertroue in hom is verbreek. Ek sukkel om hom weer te glo. Ek wil so graag hom weer vertrou - kan jy help?
ANTWOORD
Sjoe, dis moeilik om weer te vertrou na ‘n ernstige vertrouensbreuk. Dit hang af wat gebeur het. 'n Volskaalse seksuele affair sal vir baie huwelike te veel wees om te oorkom, maar daar is allerhande grade van teleurstelling en seerkry. Drie goed is oor die algemeen nodig om vertroue te herbou (en baie pare het ook affairs verwerk en agter hulle gesit - dis moontlik):
1. Jou geliefde moet regtig wys dat hy jammer is – jy moet dit kan sien en dan moet hy (of natuurlik sy) oor ‘n lang tyd bereid wees om die vertroue terug te bou. Hy moenie ongeduldig raak nie, want hy is die oorsaak! Oor die hele tyd moet sy gedrag jou oortuig dat hy regtig bedoel om anders op te tree.
2. Julle moet kan praat oor die situasie – jy sal bv. wil verstaan wat gebeur het, hoekom dit gebeur het (wees ook oop vir die moontlikheid van gedeelde skuld, maar dis nie te sê jy moet nou sommer verantwoordelikheid aanvaar vir ander se slegte gedrag nie), of dit verby is, wat sy commitment teenoor jou is, hoe dit vermy kan word, ens. Deel van die gesprek is bv. om jou verwagtings presies uit te spel – hoe jy verwag hy vorentoe in sekere omstandighede moet optree. Dit moet ook ‘n grens inhou: as dit weer gebeur, sal ek dit of dat... (bv. dadelik uittrek). Hy moet ook nie moedeloos word om dinge uit te pak nie – ten minste vir ‘n tyd, want iewers sal mens tog ook ‘n streep moet trek. Dis baie onaangenaam, maar die praat verlig die spanning.
3. Jy sal dan – na ‘n tyd, natuurlik, as jy kan – moet besluit dat jy werklik wil vergewe. Die definisie vir vergiffenis is om ‘n saak nie weer op te haal nie – dis nou na dit uitgepraat en vergewe is. As dit heeltyd weer oopgegrawe word (wedersyds, deur woorde of dade), sit dit die proses agteruit. As daar dan tyd verloop en die gedrag bly goed sal die vertoue geleidelik weer terugkeer (grootliks).
As die verraad, misbruik, verslawing, geweld of wat ook al weer voorkom, moet al die rooi ligte aangaan en teen ‘n derde keer moet jy weet dat jy deel met ‘n gewoonte wat nie sommer gebreek gaan word nie. Ernstige ingrype is dan nodig, of die verhouding sal uiters moeilik wees om voort te sit. Slegte gedrag begin ook met klein tekens, en bou dan op – so wees maar bewus daarvan.
Baie sterkte.
Replies