Vier Kersfees 1: Op die 25ste Desember
Is Jesus ooit op die 25ste Desember gebore?
Daar word soms deur welmenende Christene gesê dat Kersfees eintlik ‘n heidense fees is, of dat die Roomse Kerk die ou Babiloniese godsdiens in ‘n ander gedaante is. Dis nie waar nie. Laat ons die punte van beswaar een vir een neem, en ons begin by die datum van Kersfees.
Is Jesus op die 25ste Desember gebore?
Die 25ste Desember is waarskynlik nie Jesus se werklike geboortedag nie. Ons weet eintlik eenvoudig te min van Jesus se geboorte dat ons die datum met sekerheid kan sê. Hulle het bv. heeltemal ‘n ander kalender gebruik as ons, met ander maande wat nie met ons s’n ooreenkom nie. Die 25ste Desember is egter sedert die 4de eeu DIE KERK SE FEESDAG waarop Jesus se geboortedag gevier word en daar is wel vir eeue geglo dat dit regtig Jesus se geboortedag is. Let op:
- Dit is wel moontlik dat Jesus se geboorte in daardie tyd kon wees. Die vroeë kerk het geglo dat hulle Sagaria se diens in die tempel (Luk 1) kon uitwerk, omdat dit bekend is in watter diensgroep hy gedien het, en uit die Joodse geskrifte kon gesien word watter datums watter groepe gedien het (maar hedendaagse wetenskaplikes is egter nie meer so seker is nie). Dit lyk asof Sagaria op of na die Pasga/Groot Versoendag gedien het, wat in Sep/Okt is, toe die engel aan hom verskyn oor Johannes die Doper se geboorte. Die aankondiging van Jesus se geboorte aan Maria was toe Elisabeth in haar sesde maand van swangerskap was (ook Luk 1), m.a.w. in Mrt/Apr. Die kerk het hierdie datum vasgemaak op 25 Maart. In die Katolieke Kerk en Ortodokse Kerk word die “Annunciation” (soos dit later genoem is, vroeër was dit iets anders) jaarliks gevier op die 25ste Maart. Die geboorte van Jesus is dan logies nege maande later op 25 Desember. Pous Benedictus XVI het in sy termyn (2005-2013) bevestig dat die kerk se gekose datum vir Kersfees uiteindelik afgelei is uit die “annunciation” en niks anders nie.
- Daar is in die verlede gesê dat Jesus nie in die wintertyd in die Noordelike halfrond gebore kon word nie, want die herders sou nie in die koue in die veld kon wees nie.Dit kan wees, maar wetenskaplikes vandag sê mens kan dit nie noodwendig daaruit aflei nie. Die skape wat elke dag by die tempel geslag is, winter en somer, is regdeur die jaar naby Betlehem (reg langs Jerusalem) aangehou. Ons weet eintlik nie genoeg van hoe hulle hul skape deur die winter aangehou het nie, hoe koud daardie winter was nie, ens. So ja, dit kon in daardie tyd ook wees.
Hierdie datum is nie van die begin af gevier in die kerk nie. Eers was daar geen viering in die verband nie – die groot viering van die kerk, van die begin af, was Paasfees – en later is verskeie datums op verskeie plekke gebruik. Dit kan ons aflei uit die geskrifte en briewe van die vroeë kerk. Die eerste keer dat ons die 25ste as ‘n vaste datum in die kerk sien, is in ‘n dokument van 386 n.C. Mettertyd het die datum van die 25ste Des oral die algemene een geword.
Is die 25ste Desember oorgeneem vanaf ‘n heidense fees?
Dit is vandag ‘n algemene idee dat Kersfees eintlik maar ‘n heidense oorsprong het, ens. Dis egter nie waar nie. Dit val wel ooreen met die winter-sonstilstand, waartydens daar in Romeinse tye ‘n belangrike fees op die 26ste was, nl. die Dies Natalis Solis Invicti. Daar was ook ‘n weeklange fees voor dit tot op die 23ste Desember, nl. Saturnalia. As ons egter in die vroeë kerklike geskrifte lees, is daar GEEN verwysing daarna dat die datum daar “geleen” is, of dat Kersfees daardie fees vervang het nie, bv. om die heidendom uit te roei nie (soos hulle wel soms gedoen is – sien die volgende artikel). Trouens, daar is vandag ernstige onsekerheid of die Christelike vieringe op die 25ste nie VOOR die Romeinse Dies Natalis Solis Invicti begin het nie, wat deur keiser Aurelius in 274 n.C. ingestel is.
Die vroeë kerk was natuurlik baie bewus van die Romeinse feeste daardie tyd van die jaar, maar in hulle geskrifte gaan dit meer oor die datum van die Joodse Pasga en dan die “toeval” dat die datum val op die winter-sonstilstand, want daarin was daar groot teologiese betekenis. Vir hulle was dit ‘n soort goddelike bevestiging. Op slegs twee plekke word verwys na die heidense fees, waarin hulle sê dat die heidene dan die “onoorwinlike son” vier, maar wie is werklik die onoorwinlike? Dit is Jesus Christus. Hy is immers die "Son van Geregtigheid" (Mal 4:2) wat opgekom het, die Lig wat in die donkerte geskyn het. Daar is egter geen sprake (in die geskrifte) dat die Christelike fees uit die heidense geneem is nie.
Onthou nou, daar is dikwels oor Kersfees geskryf in die vroeë eeue. Daar was opponerende datums – veral die 6de Januarie – en daar moes besluit word wat die regte datum was. Sou daar in al die tyd glad nie die gedagte opgekom het dat ons maar die bestaande Romeinse fees “bekeer” en daarvan ‘n Kersfees maak nie? Hierdie gedagte, wat vandag so algemeen geglo word, is egter in die kerklike geskrifte onbekend. DIT is eintlik vir ons genoegsame bewys dat die Romeinse feeste NIE hierin ‘n rol gespeel het nie.
As ons vandag oor hierdie dinge oordeel, moet ons swaar leun op die geskrewe bronne uit daardie tyd, en die bronne dui NIE op ‘n “oorname” nie.
Terloops: In die Westerse (Katolieke en Protestantse) Kerk is Kersfees dus in die 4de eeu vasgemaak op 25 Des en is Kerstyd die “twelve days of Christmas” tot op 6 Januarie, wat as Epifanie bekendstaan. In die Oosterse (Ortodokse) Kerk is Kersfees op 7 Januarie. Die rede hiervoor is omdat die ou Juliaanse kalender wat die Oosterse Kerk nog volg 13 dae agter die Gregoriaanse kalender is, wat die Weste gebruik sedert die 16de eeu. Wat ons noem 7 Januarie noem hulle steeds 25 Desember! Winkels se Kerstyd begin ‘n maand vroeër natuurlik, want volgens die geldmaak-kalender begin Kerstyd reeds einde Oktober.
Eers eeue later, veral sedert die 18de eeu (m.a.w. 14 eeue later), is 'n konneksie gemaak met die genoemde Romeinse feeste, en is daar gesê dat die kerk daardie fees doelbewus probeer vervang en verchristelik het. Die vroeë kerk het wel dikwels in die lande wat hulle evangeliseer het die heidense gebruike afgeskaf en Christelike gebruike in hulle plek gesit – dit is wel bekend. Onthou, alle volke in die noordelike halfrond met sy strawwe winters het feeste gehad na die winter-sonstilstand. Soos die Westerse wêreld verchristelik het, oor eeue heen, is van hierdie gebruike oorgedra na Kersfees toe – waaroor ons volgende keer sal skryf. Het hierdie feeste “gehelp” om die datum van Kersfees op 25 Desember vas te stel? As dit so was, is daar geen kontemporêre kerklike bewyse daarvoor nie. Ons bly dus doodeenvoudig in die bronne en geskiedenis van die kerk.
Is dit die “Katolieke Kerk” wat ‘n heidense fees ingesmokkel het? Wel, in daardie tyd was daar geen “Katolieke” kerk nie – daar was net die KERK. Ons deel almal daardie selfde geskiedenis. Dieselfde KERK het vir ons ons verstaan van die Drie-eenheid gebring, asook die twee nature van Christus, het die fees van die Pase ingestel en die betekenis en plek van die Sondag vasgemaak en vele meer. Dit is maar net die vroeë jare van die KERK van Christus. Die briewe van die kerkvaders was opreg om Kersfees as CHRISTUS-fees te vier en NIKS anders nie en vir reeds sestien eeue gebeur dit so.
Terloops, is die “Katolieke” kerk bloot die ou Babiloniese afgodediens in ‘n nuwe gewaad – soos sommige beweer? Nee, dit is doodgewoon nie waar nie! Die boek “The Two Babylons” (van Alexander Hislop) word dikwels in die verband aangehaal, maar is geheel en al onbetroubaar en spekulatief. Sien ons artikel daaroor op ons webruimte. Daar is nie ‘n reuse komplot wat al die jare geheim gehou word nie.
Maak dit saak?
Ons sluit af met hierdie opmerkings: die presiese datum van Christus se geboorte is onbekend, maar dit maak nie werklik saak nie. Die koningin van Engeland het ‘n “amptelike” verjaarsdag met ‘n nasionale fees, die trooping of the colours, ens. maar haar persoonlike verjaarsdag is op ‘n heel ander datum. Kersfees se datum het ontwikkel oor honderde jare op grond van die bogenoemde redes. Ons hoef nie Kersfees te vier nie – dis nie ‘n opdrag of ‘n wet nie. Maar ‘n datum het ontwikkel waarop ons dit wel kan vier!
Skakels:
Laai hierdie artikel af as 'n PDF dokument: Vier Kersfees 1 - Op die 25ste Desember.pdf
Lees die tweede artikel in hierdie reeks by hierdie skakel: kliek hier
Gaan na die video-reeks oor hierdie Kersfees-temas: kliek hier
Lees ons artikel oor “The Two Babylons” by hierdie skakel: kliek hier
Lees Wikipedia se artikel hieroor by hierdie skakel: kliek hier
Verdere bronne:
http://en.wikipedia.org/wiki/Christmas
http://www.bib-arch.org/e-features/christmas.asp
http://www.jimileroux.com/forum/topics/antwoord-op-the-two-babylons
Replies