Vier Kersfees 3: as 'n Christen
Hoe moet ek Kersfees vier as kind van die Here?
Daar word deur sommige welmenende Christene gesê dat Kersfees eintlik ‘n heidense fees is en dat ons dit nie moet vier nie. Hulle glo dat die datum, sowel as baie Kersfees-gebruike, eintlik heidense oorspronge het en dat die hele fees vermy moet word. In ons vorige twee artikels het ons hierdie sienings afgewys. Ons MAG maar Kersfees vier! Hoe vier ons Kersfees egter reg? Hoe vier ons dit as kinders van die Here? Let op:
Vier Kersfees as ‘n getuienis
“Moet ons Kersfees vier?” Hoe ironies dat ons so ‘n vraag sou vra – Kersfees is dan een van die grootste Christelike feeste ter wêreld! Die sg. "heidense oorspronge” van Kersfees is egter maar een rede waarom sommige Christene nie meer Kersfees wil vier nie. Die veel, veel groter probleem is dat Kersfees ook met oorgawe deur ongelowiges gevier word, en dat hulle dit – om eerlik te gaan – eintlik op ‘n manier oorgeneem het. Hulle het daarvan hulle eie fees gemaak, wat in drie gestaltes bestaan:
- In sy mooi vorm is dit vir hulle “‘n tyd van gee” en vir die gesin, ‘n tyd van welwillendheid. Hulle streef die bg. waardes na, versier die huis, rig ‘n boom op en deel geskenke uit. Hulle eet heerlik saam. Dis alles baie goed en mooi – maar so word Kersfees ook tot in Japan gevier, deur miljoene oortuigde nie-Christene... Vir die meeste is dit bloot ‘n Westerse en kulturele fees – en ‘n oulike manier om die jaar op ‘n hoogtepunt af te sluit.
- In sy minder mooi vorm is Kersfees natuurlik ‘n koopfees vir handelaars. Hulle buit dit uit net om geld te maak – winkels is feestelik behang met versierings en die Kersliedere speel, maar dis die geklingel van die kasregisters wat hulle die blyste maak. Om te verhoed dat klante van ander gelowe aanstoot neem, noem hulle dit net die Festive Season of (so aaklig) die Silly Season, wat ons bring by Kersfees op sy slegste:
- In sy lelike vorm is Kersfees die geleentheid vir drink en partytjie hou soos nog nooit nie… dink aan die tipiese jaareinde-Kerspartytjie waarop mense dronk raak, op tafels dans en dan ook sommer onder die tafel al daardie ander dinge aanvang waaroor hulle die hele volgende jaar spyt sal wees. Hei, happy, happy – dis immers Krismis…
Nee, vir Christene is DIT geen Kersfees nie. Moet ons Kersfees vier? Ja, ons moet – maar nie so nie. Kersfees is steeds die grootste getuienis wêreldwyd van Christus se geboorte en NET op grond daarvan moet ons dit bly vier. Dink daaraan, die hele wêreld weet dat daar in die middel van die Kersversierings ‘n krip is, en dat in daardie krip ‘n baba lê: Jesus Christus. Ja, almal weet… en net omdat dit so is, mag Kersfees nie afgeskaf word nie. Ons MOET dit vier (wel – niemand dwing jou nie), maar ons moet dit reg doen. Kersfees moet veral ook ‘n getuienis van Christus se geboorte in jou eie huis en vriendekring wees.
Vier Kersfees as ‘n fees
As Christene moet ons beide fees en vas kan doen. Daar is ‘n tyd om fees te vier en daar is ‘n tyd om te vas. As Hy beskuldig word dat sy dissipels nie vas nie, sê Jesus dat hulle feesvier omdat die Bruidegom daar is. Mens vas nie op ‘n huweliksfees nie! Ons moet dus mooi onderskei. So is dit ook met Kersfees. As ons Kersfees met Paasfees vergelyk, sien ons die volgende:
- Die een herdenk die koms van Jesus na die aarde, die ander herdenk die vertrek van Jesus van die aarde. Die een gaan oor ‘n geboorte en die ander oor ‘n dood. Duidelik het die een te doen met die verwagting van redding en die vreugde van ‘n nuwe lewe, en die ander met verlies, afskeid en die dood.
- Paasfees is dus ‘n tyd van verootmoediging. Voor Paasfees is daar ‘n 40 dae Lydenstyd waarin baie mense vas van sekere items, om op ‘n manier met Jesus se lyding te identifiseer. Kersfees het egter ‘n heeltemal ander karakter. Kersfees is ‘n ware feesviering!
Maak Kersfees dus ‘n wonderlike en mooi geleentheid. Vier dit behoorlik! Versier die huis, speel Kersliedere, betrek die kinders by die koop van geskenke, nooi die familie, reël ‘n groot ete. Volg julle spesifieke tradisies. Laat dit alles stylvol en Christus-waardig wees, natuurlik, maar nie swaar nie. Hou die atmosfeer vreugdevol. Laat die kinders verstaan dat die opgewondenheid en afwagting nie net oor geskenke gaan nie, maar oor Christus se koms. Verduidelik dat die geskenke oor Hom gaan (die wyse manne het ook geskenke gebring, nie waar nie), dat die kerse en liggies oor die Lig gaan wat in die duisternis kom skyn het (Mat 4:16), ens. In die Christelike tradisie staan die denneboom vir die ewige lewe, die ster bo-op vir die Betlehem-ster, die stekelrige holly vir Christus se doringkroon, sy rooi bessies vir sy bloed. Sommige mense doen wondere om ‘n somer-, Afrika-kersfees te vier, teenoor die Europese een wat ons sommer so oorneem. Om die afwagting vir die kinders op te bou kan die gesin op die vier Adventsondae voor Kersfees telkens nog ‘n kers op die Adventkrans aansteek, of die kinders kan van 1 Desember elke dag ‘n venster op die Adventskalender oopmaak. Pak ‘n Kersstelletjie (geboortetoneel/nativity scene) uit sodat daar darem ‘n Josef en ‘n Maria en Kindjie in die krip kan staan, met herders, wyse manne en skape. Gradeer jou hele Kersfees op – moenie so afskeep nie. Geniet dan jou fees! Eet, drink, kuier! Hier is elke ouer se belangrikste uitdaging: om vir die kinders die nouste assosiasie te skep tussen die geboorte van Jesus Christus, en wat dit beteken, en die wonder van die Kersfees (terloops ‘n woord wat “Christus”-fees beteken). Dit is AL waaroor dit gaan.
Vier Kersfees rondom Christus
Ons argument is dat ons Christus se geboorte moet vier, maar op die regte manier. Die Woord “Kersfees” kom van die Germaanse woord Krist wat “Christus” beteken en het met ons huidige woord “kers” (candle) net ‘n toevallige verband. Dit beteken dus letterlik “Christusfees”. Ons moet met vrymoedigheid die fees vier as ‘n Christusfees! Hoe doen ons dit? Die volgende speel ‘n rol:
- Eerstens is daar ‘n besluit nodig. Besluit radikaal dat julle hierdie jaar ‘n Christusfees gaan vier – nie ‘n wêreldse fees nie.Besluit om Kersfees as ‘n Christen, ‘n kind van God te vier – so dat dit Hom sal eer;
- Tweedens kan jy deelneem aan die kerk se viering van Kersfees.Die kerk vier Advent (die afwagtingstyd) en Kersfees deur ‘n hele seisoen van prediking en gebruike en ons kan daarby inskakel. Lees self ook in hierdie tyd die Kersverhale in die Bybel, let op die leraar se boodskappe daaroor, woon die geleenthede by wat die kerk reël – die Kersspel vir die kinders (as daar nog een is), die Kerssang by kerslig, die Kersdiens op die 25ste. Sing die Kersliedere wat Christus verheerlik – Kom, alle getroues, in die gees nou na Betlehem, kyk daar die Kindjie, tot ons heil gebore… kom buig daar in aanbidding… hoe mooi!
- Derdens moet jou privaat Kersviering ook oor Christus gaan.Gebruike verskil – sommige hou ‘n “Kersboom” op Kersaand (die 24ste), ander wag vir 12-uur die nag, nog ander deel geskenke uit op Kersoggend. Hoe dit ook al gebeur, dink ook aan die volgende: (1) as julle (‘n feestelike ete) saam eet, bid eers en prys die Here vir sy koms – wat van ‘n mooi Bybelvers by elke bord; (2) speel Kersliedere; (3) praat oor julle leraar se boodskap – vra die kinders wat hulle verstaan het; (4) praat oor die jaar wat verby is – sê elkeen moet sê waaroor hulle dankbaar was; (5) ook by die Kersboom moet ons eers bid, of ‘n mooi gebed voorlees, en dan ‘n gedeelte in die Bybel lees, sing gerus (as julle kan). Klein kinders kan verduidelik wat Kersfees beteken – in die verlede het sommige kinders items gelewer (dink nie hulle het daarvan gehou nie!)
As jy ‘n kind van die Here is, is dit nie moeilik om die Here in sy eie feesdag in te bring nie! Dit kom natuurlik. Weet dit: ‘n Kersfees sonder Christus is sinneloos en leeg. Ons hoef nie prekerig of swaar te wees nie (asseblief tog nie), maar op ‘n mooi, betekenisvolle en stylvolle manier gaan ons Kersfees oor Christus.
Vier Kersfees met liefde
Kersfees gaan oor God se liefde vir ons: so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy eniggebore Seun gegee het… Dit wat God in Christus gedoen het, word vir ewig die maatstaf van wat liefde is. As ons dus Christus se geboorte vier, doen ons dit ten beste deur liefde te bewys. Jesus sou gesê het dat dit nie soseer moet gaan oor die blink aan die buitekant nie, maar oor die blink aan die binnekant – die blinkste feestafel, heerlikste kos en smaakvolste geskenke beteken niks as daar nie in die hart ook gulhartige liefdevolheid, warm welwillendheid of ‘n opregte insluiting is nie. Om mense lief te hê, is moeilik, want mense is dikwels so onliefbaar, maar ware liefde gaan nie oor die liefbaarheid van die mens nie. Ware liefde gaan oor liefde vir God. Ek het ander lief omdat ek Hom liefhet. Ek doen dit ter wille van Hom. En hierdie Kersfees kan iets daarvan na vore kom. Die volgende is moontlikhede:
- Maak die familie groter. Kersfees is die tyd vir families om bymekaar te kom en dis wonderlik. Ons kan egter verder kyk as net ons eie onmiddellike kringetjie. Laat ons hierdie Kersfees ons deure, Kersbyeenkomste en feestafels ook oopmaak vir iemand anders. Laat ons hulle inderdaad welkom laat voel – hulle maak nie inbreuk op ons Kersfees nie, hulle is geëerde gaste. Nooi betyds!
- Reik uit. Nie almal kan ons Kerstafel bywoon nie, maar soveel wat Kersfees sonder familie gaan deurbring, sal ‘n besoekie waardeer. Onthou die groot behoefte is dikwels nie ‘n koek of geskenk nie, maar belangstelling, menslike kontak, geselskap, tyd. DIS die groot geskenke wat jy kan gee (maar mooi geskenkies aan die ouetehuis of kinderhuis sal beslis waardeer word)! Daar is soveel geleenthede vir uitreik en liefde bewys.
- Doen iets spesiaals– wat van ‘n persoonlike briefie aan mense om jou waardering te wys (of sommer net dankie te sê vir hulle voorbeeld), wat van anonieme geskenkies aan mense wat jy wil seën… Is dit dalk tyd vir ‘n jaarlikse dankoffer – ‘n groter bydrae aan ‘n verdienstelike saak? Is dit dalk tyd dat jy mense kontak en verhoudings reg maak? Wil jy dalk pakkies maak met ‘n eetdingetjie en ‘n geldjie om op Kersdag aan straatverkopers of parkeerwagte uit te deel?
- Maak dit ‘n tyd van gee. Maak die kaste deeglik skoon en ruim uit wat jy weet jy nie meer gaan gebruik nie. Ons reis met heeltemal te veel bagasie! Suid-Afrika is ‘n tandekners-arm land en elke bietjie sal ‘n verskil maak. Gee radikaal weg: dit sal jou nie armer maak nie, net ryker!
- Hou die geskenke beskeie. Trek ‘n streep onder die banale mors-van-geld wat geskenke betref. Hou geskenke klein en min – kom ooreen op ‘n sekere bedrag en hou daarby. Hou geskenke smaakvol en keurig – sien af van baie, groot en goedkoop goed (en alles wat met batterye werk), koop eerder ‘n enkele item wat van goeie smaak getuig en draai dit besonder mooi toe. Hou geskenke persoonlik – ‘n goeie geskenk getuig van moeite wat gedoen is en versigtige oorweging wat daar ingegaan het. Lê jou eie konfyt of vrugte in en versier die glas. Wat van gemmerkoekies met wit en goue versiersuiker, ‘n stel snare vir ‘n kitaarman, ‘n blik-emmertjie met jou eie badsoute of mooi sepies?
Kom ons kry die gesindheid van Christus en beweeg uit ons privaat “hemel” uit, ons gemaksone, en ons betree die “wêreld” daarbuite waar dit rof gaan. Kom ons laat liefde ‘n verskil maak. Kom ons gee veral van ONSSELF. DIT is mos waaroor Kersfees gaan!
Moet in alle geval tog nie ‘n Kersfees vier sonder Christus nie! Koos van der Merwe stel dit so:
kersfees
liggies brand op elke straat en die mense word vir niemand kwaad want dis kersfees in ons stad
tienduisend vader krismisse is nat gesweet in hul sneeumusse want dis kersfees in ons stad
'n honderd winkels in 'n ry is almal innig lief vir my
en my geldvriend sal my help betaal en wie moet ek bedank
as ek vir iemand 'n present kan koop bier kan drink tot die trane loop
of jou lekker lyf my liefiewyf kan druk as ons dans
o, 'n katjie of 'n hondjie of 'n ringetjie vir jou my dingetjie vir jou
selfmoord anoniem se skof is nou van tien tot tien
want geld kan nooit die liefde koop en partytjies moet ten einde loop
liggies brand op straat en die mense word vir niemand kwaad want dis kersfees in ons stad
spaar my here spaar my
spaar my nog 'n kersfees
sonder u
Skakels:
Laai hierdie artikel af as 'n PDF dokument: Vier Kersfees 3 - As 'n Christen.pdf
Lees die eerste artikel in hierdie reeks by hierdie skakel: kliek hier
Lees die tweede artikel in hierdie reeks by hierdie skakel: kliek hier
Gaan na die video-reeks oor hierdie Kersfees-temas: kliek hier
Bronne:
http://www.buynothingchristmas.org/
Replies