Ek vier Lydenstyd
Paasfees - die jaarlikse herdenking van die kruis van Jesus - is die eerste fees wat Christene gevier het en bly ons belangrikste fees. Mettertyd het die kerk 'n voorbereidingstyd begin hou voor Paasfees, wat 'n tyd van vas ingesluit het. By die Konsilie van Nicea (325 nC), waar die leerstuk oor die Drie-Eenheid geformaliseer is, was dit reeds 'n instelling. Met die verloop van tyd is die vastyd vasgemaak op 40 dae voor Paassondag. Die 40 dae sluit die Sondae uit en begin altyd op 'n Woensdag, wat "Aswoensdag" genoem word. Van Aswoensdag tot Paasfees word dan die Lydenstyd (of Vaste, in Engels Lent) genoem en dit word tradisioneel op 'n sekere manier gevier, wat hieronder genoem word.
Ek het persoonlik (soos meeste van ons) niks van hierdie goed geweet of trouens in geglo nie. As dit egter 'n gebruik is wat ouer is as ons formulering van die Drie-eenheid, moet daar waarde in wees. En daar is! Die ouer tipe Christene het dit inderdaad al eeue gevier, maar met die jare het al hoe meer Protestante dit ook begin hou en vandag word "Lent" algemeen deur Christene regoor die spektrum gevier. Die laaste jare leef ek geestelik met groter ritmes, omdat ek agterkom dat dit goed vir my is om in daaglikse, weeklikse en jaarlikse ritmes te wees. Dit hou my by die belangrike dinge en stuur my weg van die willekeur van 'n "geestelike" lewe wat net oor my eie voordeel, behoeftes en impulse gaan. Ek hou Lydenstyd al vir 15 jaar en vind dit geestelik vir my die vrugbaarste tyd van die jaar.
Natuurlik is dit nie noodsaaklike of verpligte dinge nie, dit is geen wet nie en die Bybel skryf dit nie voor nie. Dit is egter nuttig en opbouend. Die Christelike viering van Lydenstyd fokus op Christus se opdrag oor hoe om te BID, te VAS en te GEE (Mat 6:1-18). Lydenstyd het vir my dus hierdie eienskappe, en dis uit-en-uit 'n persoonlike getuienis:
1. Lydenstyd is 'n vastyd
Die 40 dae slaan op Jesus se vas van 40 dae in die woestyn en ons vas is 'n simboliese meeleef met Hom in sy versoekings, sy verwerping en sy lyding. Dit bly net 'n simbool, 'n teken - geen meriete nie. Ek vas dus saam met vele ander van luukses soos lekkergoed en sjokolade, koffie en wyn. Sondae is amptelik van die vas uitgesluit - halleluja - maar as jy reeds Vrydag wil halt roep, is dit jou keuse. Daar is nie 'n wet hieroor nie...
2. Lydenstyd is gebedstyd
Dis 'n tyd om God se teenwoordigheid en wil meer te soek en dit moet mens doen soos jou dag toelaat. My selfoon is steeds gestel op die daaglikse gebedsure, en dit help. Die trant van gebed in hierdie tyd is nederig en ondersoekend en die Here kan maar inspreek in wat nie reg is nie. Dit gaan oor verootmoediging. Ek journal meer en skryf meer in hierdie tyd - een van my maniere van bid.
3. Lydenstyd is dienstyd
Die doel is om meer liefde en welsyn te bewys en uit te reik. Dit doen ek maar soos die geleenthede sig voordoen. As ek iemand normaalweg dalk sou wegwys (mens kan net soveel keer per dag gee), dink ek "ai, dis lydenstyd" en soek dan maar vir iets om te gee. Ek weet egter my benadering is nog baie gering.
So, dis my eie benadering tot Lydenstyd. Ek leef in hierdie hele periode met 'n bewussyn dat dit Lydenstyd is en my gedagtes is meer by die Here, en by die kruis. Lydenstyd gaan oor in Lydensweek - die week tot en met Paasnaweek. Lydensweek begin met Palmsondag, en daarna is die hoogtepunte die Diens van Duisternis (Tenebrae) op Donderdag-aand, Goeie Vrydag, Stil Saterdag en Paassondag. Omdat die Here op Sondag opgestaan het, is die vastyd Saterdag oor. Paassondag is 'n feesdag!
In 2023 is Lydenstyd vanaf 22 Februarie (Aswoensdag) tot 8 April (Stil Saterdag). Die volgende dag, 9 April, is Paasfees.
As jy wil deelneem, sal jy ook ervaar dat die Here in hierdie hele tyd vir jou naby is!
Volg ons daaglikse Lydenstydgebede op ons Facebook-blad. Kliek hier.
Replies