Die vraag:

Na die diens verkoop die vroue van die gemeente in die voorportaal allerhande koeke, terte en eetgoedjies.  Dit lyk behoorlik of die "Huis van die Here" 'n "handelshuis" geword het...  Is dit reg?  Jesus het mos in Joh 2 die handelaars uit die tempel gejaag.

 

Antwoord:

Dankie dat jy bekommerd is oor hierdie dinge en begaan is om die Here reg te dien

 

Persoonlik dink ek nie die leierskap van julle kerk het ‘n verkeerde besluit geneem nie, omdat

  • Die kerkgebou nie heilig is soos die tempel was nie – dis net ‘n gebou.  In die Nuwe Testamentiese tyd het ons nie meer ‘n tempel nodig nie – God woon nie in ‘n gebou wat met hande gemaak is nie (Hand 7:48-50; Heb 9:11-14, 23-24).  Ons, die gemeente, is die tempel van God (1 Pet 2:5).  Die feit dat die tempel in 70 nC vernietig is, beklemtoon dat ons voluit in die Nuwe Testamentiese era leef.
  • Sondag is nie die Ou Testamentiese of Joodse Sabbat (7de dag) nie.  Paulus sê dat sommige Christene ‘n dag hou (waarskynlik die Joodse Christene wat die Sabbat hou) en ander hou geen dag nie, moontlik die nie-Joodse Christene (Rom 14:5-6).  Hy sê dat die Sabbat ‘n skaduwee was (Kol 2:16-17) en dat die werklikheid Christus – ons Sabbatsrus (Heb 4) – is.  Terwyl die “Dag van die Here" (Sondag - 1ste dag) ontwikkel het as ‘n dag van samekoms (Op 1:10, Hand 20:7) het dit in die Nuwe Testament ‘n ander karakter as die Sabbat.  Ons hou dus nie die wettiese Sabbat met sy verbod op werk, koop/verkoop, reis, vuur maak, ens. nie.  Ons hou ‘n feestelike rusdag waarin ons rus en ons tyd aan die Here se dinge gee.

Ten slotte, ek sou dus nie sê dat Joh 2 vir ons sê om nie op die kerkgronde of op Sondae iets te verkoop nie.  Daar het dit gegaan oor 'n grootskeepse geldmakery uit die geestelike behoeftes van mense.  Dit gaan nou nie meer oor gebed nie, maar oor profyt.  Nie oor God nie, maar oor ons; nie oor die Gees nie, maar die vlees.  Ek dink dus wat die teks wel sê is dat dit ook vir ons nie oor geld moet gaan nie – baie godsdiens gaan oor geld maak uit gelowiges, en dit kan wel wees dat ons iewers die grens oorskry en sê wag ‘n bietjie, hierdie is nou net een groot geldmakery.  Dis wanneer ons soos Jesus die sweep moet inlê. 

 

Ek weet ons tradisie is om die Sondag net soos die Sabbat te hanteer, maar dis nie eintlik Skriftuurlik korrek nie (ons doen egter Sondag tradisioneel glad nie net soos die Sabbat-voorskrifte was nie, nie eens naastenby nie, maar baie het die koop/verkoop deel behou.)

 

Dis my interpretasie van die teks – ek hoop dit bring vir jou vrede.

 

You need to be a member of jimileroux.com to add comments!

Join jimileroux.com

Email me when people reply –