VRAAG
Ek het 'n vraag wat my die laaste paar weke pla waarmee jy my dalk kan help. Ek het nou al n paar stukke gelees uit die Bybel en gegoogle en bly deurmekaar.
Vir wie moet mens bid, Jesus of God? Ek hoop jy kan vir my meer duidelikheid gee asb.
ANTWOORD
Ek weet daar is baie verskil van opinie en sommige glo werklik nie dat ons tot Jesus moet bid nie. ‘n Groot deel van daardie opinie het te doen met twyfel of Jesus werklik God is, en nie eerder ‘n mindere “Seun van God” nie – soos bv. die Jehowa Getuies leer (hulle glo nie aan ‘n Drie-Eenheid nie). Ek som my eie opinie (en van die breër kerk) soos volg op (en ek gee nie al die verse nie):
- In die Ou Testament was daar geen begrip vir God as Drie-Enig nie en word Hy in gebed aangespreek as God, Here, “HERE” (Jahweh”) of die Almagtige, die Ewige, die Allerhoogste of vele meer name en titels.
- Jesus leer ons om tot God te bid (in die Ons Vader) as “Vader” en daarom bid ons gewoonlik tot Hom as Hemelse Vader, Liefdevolle Vader of iets soortgelyk. Jesus leer ons ook om in SY Naam te bid – en so sien ons dit dan ook in die res van die Nuwe Testament – en daarom is ons gebed gewoonlik aan die Vader en in die Naam van Jesus. As ons so doen, doen ons presies soos Hy ons geleer het.
- Jesus maak Homself nooit direk as God (die Vader) bekend nie, maar Hy stel Homself indirek op baie maniere aan God gelyk – veral in Johannes. Hy sê bv. Hy is “een” met die Vader, Hy sê die wat Hom gesien het, het die Vader gesien, sy “EK IS”-uitsprake klink baie na God se Ek is wat Ek is, Hy sê “voor Abraham was, IS ek” en heelwat ander. Hy word juis deur die Fariseërs beskuldig dat Hy Hom aan God gelykstel en sy finale klag (daaroor) is godslastering.
- Soos die Nuwe Testament Jesus egter beskryf, is Hy God. Johannes sê die Woord was by God en die Woord WAS God. Thomas sê vir Hom: “my Here en my God”. Die res van die Nuwe Testament werk met die verstaan dat Jesus God-is-wat-mens-geword-het en as volmaakte offer aan die kruis vir ons sonde versoening gedoen het. As Hy nie God was nie, sou die kruis nie vir ons waarde gehad het nie. Paulus noem Christus "God" in Rom 9:5 en daar is vele ander verwysings wat Hom aan God gelykstel. In Hand 7:59-60 BID Stefanus letterlik tot Christus in die hemel as hy sê: “Here Jesus, ontvang my gees”. Reg aan die einde van Openbaring word tot Jesus gebid in die vorm “Kom, Here Jesus”.
- In die vroeë kerk het die gebruik om tot Christus ook te bid (en die Gees) gegroei – daar is verskeie voorbeelde. Dit het saamgegaan met die formulering van die kerk se verstaan van die “Drie-Eenheid”. Dit het daarop neergekom dat die Skrif duidelik vir Christus as God beskryf, en so ook die Heilige Gees, en dat die kerk daardie feite (van hoe Vader, Seun en Gees SAAM God kan wees) in woorde probeer omsit het. Die leerstuk is finaal aanvaar by die Konsilie van Nicea (313 nC). Daarna was dit duidelik dat Christus as God gesien moet word en is Hy ook met vrymoedigheid in gebed aangespreek.
- Vandag word algemeen tot Christus gebid. Dis nie verkeerd nie, maar die getrouste navolging van die Bybelse voorbeeld en Jesus se opdrag is steeds om die Vader aan te spreek, in Jesus’ Naam.
Ons gebruik om Christus ook soms in ons gebed aan te spreek – ons aanspreek van die Gees in ons gebed is presies dieselfde – kom dus gedeeltelik (1) uit die Skrifvoorbeelde (alhoewel dit daar letterlik net begin) en die Skrifgetuienis oor Wie en Wat Jesus was, en (2) uit ons verstaan van die Drie-Eenheid. As ons God as Drie-Enig verstaan, is dit logies dat ons Hom as Vader, Seun OF Heilige Gees kan aanspreek, want ons praat steeds met een en dieselfde God.
Replies