Vraag
Die Skrif sê die man is eerste gemaak en daar is dus 'n skeppingsorde. Die Skrif sê ook duidelik vrouens moet in die diens stil wees en nie lering gee nie. Waarom is sommige kerke dan onbybels in die sin dat hulle vroue leraars en ouderlinge aanstel? Die man is die hoof van die huis en mans moet hierdie rol ernstig opneem - te veel lamsakkige mans tree nie as leiers op nie, en nou moet die vroue daardie rol vervul.
Antwoord
Watter rol speel kultuur in die Bybel?
Die antwoord op die bg. het te doen met die kultuur van die Bybelse tye en die vraag hoe Paulus ens. sy instruksies in ons dag sou deurgee. Is alles wat gesê word in die Bybel direk so van toepassing vir alle eeue, of moet ons die konteks verstaan? Die beste voorbeeld hiervan is die hoofbedekking in die diens. Paulus se instruksie is baie duidelik dat ‘n vrou haar hoof moet bedek en hy motiveer vanuit die skepping en die engele. Nogtans word dit nie vandag nagevolg nie, met ‘n klein uitsondering. Hoekom? Omdat geoordeel word dat hy binne in sy kultuur-konteks vir vroue sê om hulleself te versluier sodat dit nie aanstoot gee aan mans nie. Ons interpretasie daarvan is nie dat vrouens hoede moet dra nie, maar dat hulle kuis aangetrek kerk toe moet kom. Sommige sal egter sê dat mens so die uitdruklike betekenis van die teks nek omdraai – die Woord is die Woord, ens. Ander sal egter sê so kan ons in ONS konteks die boodskap van Paulus ernstig opneem. Net so met die ander opdragte aan vroue, dat hulle sal stil wees, nie leer nie, ens. As mens sien waar vroue se plek was in hulle kultuur, besef jy dat hulle eintlik baie vryheid gehad het in die kerk. Hulle was selfs IN die kerk (Moslem-vroue gaan tot vandag nie moskee toe nie, en Joodse vroue sit steeds apart). Paulus tref waarskynlik grootliks reëlings wat te verstane is in sy konteks. Dit gaan oor goeie orde en die gemeente se getuienis. Ons sien bv. ook elders dat vroue wel in die gemeente praat (daarvoor moes hulle mos bedek wees), dat hulle profeteer, ens. Hy veg ook vir gelykwaardigheid as hy sê in Christus is daar nie meer man of vrou, slaaf of vryman, Jood of Griek nie. Dit gaan heeltemal teen hulle streng hierargiese orde en is eintlik radikale stellings.
Dit raak alles net te relatief...
Die bg. argument kan mense wel ongemaklik laat voel, want dit kom nogal lukraak voor – beteken dit dat mens sommer enige teks se betekenis kan verander? Dis gelukkig nie so eenvoudig nie, want mens moet inderdaad gemotiveerd kan onderskei tussen “onderliggende beginsel” (wat vas is), en “kulturele toepassing” (wat konteks-spesifiek is). Mense mag hieroor verskil en hulle doen, maar in die breër kerk ontwikkel ‘n konsensus wat God se waarhede se hedendaagse toepassing is, sodat die waarheid PRESIES gehandhaaf kan word. Vroue word dus toegelaat (in baie kerke) om as leraars en leiers op te tree omdat dit in ons samelewing moontlik is (dit sou onmoontlik in Bybelse tye wees dat ‘n vrou mans iets leer), vrouens word dan dokters, skoolhoofde en eerste ministers en ons hele persepsie daarop het verander. Mens sou selfs kon sê dat die tendense wat in die Nuwe Testamentiese kerk sigbaar is, deur die eeue dieselfde gebly het en vir ons gebring het waar ons is (wat dit betref natuurlik, nie elke euwel nie). As ons nie hierdie interpretasie van die Skrif gehad het nie, moes my en jou vrou nie net ‘n hoed nie, maar ‘n sluier gedra het, ons mekaar ‘n kus van broederskap gegee het, met ons hande na bo gebid het, en IN ALLES presies gedoen het wat die Skrif aan die gemeentes (en elders) sê. Dit sou ons 2000 en 3000 jaar terugneem in die geskiedenis.Is dit wat die Bybel bedoel, is die vraag.
Is daar dan nie verskillende rolle nie?
Ek dink almal sou saamstem dat mans en vroue gelyk en gelykwaardig is, maar tog verskillende rolle beklee. Wat sê die skeppingsorde dan van die man se hoofskap? Hier moet mens maar altyd die kultuur in ag neem, maar dit lyk tog asof hier sprake is van ‘n “onderliggende beginsel”, en nie net ‘n “kulturele toepassing” nie. As ons hieroor in die Bybel lees, sien ons dat dit altyd gaan oor mans se “eie vroue” en vroue se “eie mans”. Die skeppingsorde kom dus tot uiting in die huwelik. Alle vroue is nie onderdanig aan alle mans nie. Die beginsel help ons om ons rolle in die huwelik af te baken, waarna jy ook verwys. Ook vroue wat in bediening of leierskap is, moet in ‘n gesonde huwelik wees wat haar eie man betref, anders is sy inderdaad teen God se orde en behoort nie te bedien nie. Dit geld natuurlik (van die ander kant af) vir manlike bedienaars ook – Paulus sê dit uitdruklik vir die ouderlinge. Ek is wel ‘n bietjie besorg dat mans soms op hulle “hoofskap” aandring op Skrifgronde (veral na ‘n mannekamp!), maar nie ook as hoof optree nie. Dit is nie ‘n Bybelse gedagte nie. Hulle hoef op niks aan te dring as hulle soos leiers en geestelike leiers optree nie – dan sal hulle wel die respek van hulle vrou en kinders geniet. Dit gaan oor verantwoordelikheid neem. Dit is ook presies wat vroue vra.
Lamsakkige mans wat moet opstaan? Ek is met jou, broer!
Replies